Cope, VF Plus nié ten gunste van adjunkministers

Cope se Dennis Bloem. (Foto: ANA)

Die VF Plus en Cope het pres. Cyril Ramaphosa se besluit om sy kabinet te verklein met ope arms verwelkom, hoewel hulle glo dat die kabinet nog kleiner kon wees.

“ʼn Groot kabinet is totaal onnodig,” het Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, gesê. Dít volg nadat Ramaphosa Woensdagaand ’n kleiner kabinet in die Uniegebou aangekondig het wat hom in sy termyn sal bystaan. Die president het besluit om talle departemente saam te laat smelt en die aantal ministers is van 36 tot 28 verminder. David Mabuza is weer as adjunkpresident van die land aangewys.

Cope het Ramaphosa gemaan om ook weg te doen met adjunkministers aangesien dié ministers bloot ʼn mors van belastingbetalers se geld is.

Cope het dit duidelik gemaak dat die party nie ten gunste van adjunkministers is nie en het veral sy misnoeë uitgespreek met Ramaphosa se besluit om Cassel Mathale as adjunkminister van polisie aan te wys. “Dit is ’n totale belediging vir die mense van Suid-Afrika. Mathale is dieselfde persoon wat verantwoordelik was vir die ineenstorting van Limpopo toe hy nog premier [van dié provinsie] was,” het Bloem gesê.

Dr. Pieter Groenewald van die VF Plus. (Foto: VF Plus)

Die VP Plus het op sy beurt Ramaphosa se verkleinde kabinet “ʼn eerbare poging om van vrot appels uit die vorige bedeling soos Bathabile Dlamini en Nomvula Mokonyana ontslae te raak,” genoem.

Die party glo dat ʼn kleiner kabinet vertroue by beleggers sal inboesem, hoewel die kabinet verder gesny kon word aangesien voormalige pres. Thabo Mbeki slegs 26 ministers aangewys het.

Die VP Plus glo ook dat adjunkministers aansienlik verminder kon word. “In die vorige termyn was daar 35 adjunkministers en dit is met slegs een verminder tot 34. Daar is dus nou ses meer adjunk-ministers as ministers aangesien daar in sommige ministeries twee adjunkte geplaas is.

“Dit is jammer die president kon nie daarin slaag om hier ook sinvolle afskalings aan te bring nie,” lui ʼn verklaring.

Die party is veral ongelukkig oor die teenwoordigheid van adjunkpresident Mabuza wat “soos ʼn albatros om die president se nek hang”.

Afgesien van dié aanstelling, is die VP Plus tevrede met die aanwys van Tito Mboweni as minister van finansies en Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings en glo dat hulle vertroue sal afdwing in dié sleutelposisies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

sweis ·

Waneer word die vraag gevra, wanneer word diskriminerende wette teen die minderhede geskrap?

Theoman ·

Een Creecy blanke in die kabinet, wat het van Hanekom geword? Zuma het 2 blanke adj ministers aangestel ek onthou vir Andries Nel en Gert Oosthuisen, die 2 was te laag oppi lys en toe nie gemaak nie, nogal gedink Ramaphosa sou vir Koorenhof ou Piet promises se seun n job gee ek hoor hulle is glo baie dik tjomme.

Jerry ·

Nie ten gunste van adjunkministers, “so what”? Daar is baie belangriker aspekte wat aandag moet kry soos bv diskriminasie en aanvalle op kwesbare minderhede wat gestop moet word!

Hendrik ferreira ·

DR, ons het vir jou gestem dit is nou jou beurt om die debat te begin oor die diskriminerende wette teen ons ,ons soek antwoorde waneer dit geskrap word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.