Country-legende in hospitaal ná hartaanval

Clive Bruce (Foto: Facebook)

Die country-legende Clive Bruce, ook bekend as die “Midnight Cowboy”, sterk tans in ʼn Gautengse hospitaal aan nadat hy ʼn hartaanval gehad het.

Die sanger se bestuurder, Mara van den Bergh, het die nuus op sosiale media bevestig.

Volgens Van den Bergh is Bruce (72) Dinsdagaand na ʼn hospitaal gehaas nadat hy borspyne gekry het.

“Ek is oornag daar gehou en het ʼn angiogram gehad Dinsdagaand. Dit het getoon dat my koronêre are baie verdik is en dat dit te ernstig is om ʼn stent te oorweeg,” het die sanger via die Country Legends Facebook-groep gesê.

“Die torakale chirurg het met my gesels en verduidelik dat ʼn operasie noodsaaklik is. Dit sal volgende week plaasvind. Intussen moet ek vir ʼn kort tydperk ná die operasie in die hospitaal bly.”

Bruce was destyds bekend as aanbieder van die country-musiekprogramme Sing Country en Rewind. Hy het ook in sy loopbaan van sowat vyf dekades die verhoog gedeel met country-sangers soos Lance James, Barbara Ray, Bobby Angel, Billy Forest en Sally Vaughn. Virginia Lee is sy stiefma.

“Namens die Country Legends en sy kantoor, wens ons Clive alle sterkte toe met sy operasie. Hy is altyd in ons gebede. Word gou gesond, Midnight Cowboy, en ons sal gou weer op die pad wees,” het Van den Bergh op die Country Legends Facebook-blad geskryf.

Bruce het in Desember verlede jaar ook ʼn noodoperasie ondergaan nadat hy ʼn abdominale aorta-aneurisme opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Skappie ·

Sterkte Clive. Mag die Here saam met die dokters se hande werk in die operasie saal, sodat jy heeltemal gesond sal word.

Hennie ·

Ek verstaan nie heeltemal nie. Ek persoonlik het in April ‘n hartaanval gehad. Die regterkantste aar was amper heeltemal geblok. Ek is per ambulans hospitaal toe was.sowat 30 minute vandat ek die huis verlaat het in die teater. Hulle het ‘n skandering gedoen en deur die slagaar op my regter hand vier stents in gesit. Sowat ‘n uur later was ek terug en die saal en twee dae later by die huis. Arme Clive moet nog ‘n paar dae wag voor dit gebeur en hy moet ‘n operasie ondergaan indien ek reg gelees het.
Ek moet dit seker ook noem myne is in Kanada gedoen.

Blomme ·

Hennie jy moet onthou.. Dit WAS die gehalte diens wat SA een op ń tyd ook gelewer het. Ons het intussen met die jare degradeer tot ń opperste 3de Wêreldland.. Dit gaan baie moeilik wees vir ons om tot daai hoogte te styg.. Nie solank die staatskaste leegloop en die langvingers se sakke vol gestop word nie.

piet ·

Are is seker nie meer geskik daarvoor nie. Meer dramatiese ingreep soos hartomleiding is seker al opsie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.