Covid-19: Eerste groep SA’ners weer tuis

(Foto: Andre Tan/Unsplash.)

ʼn Totaal van 16 Suid-Afrikaners wat in Doebai en Doha gestrand was weens Covid-19 is terug in Suid-Afrika.

Die groep het Donderdag in die land aangekom en is tans in kwarantyn. Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa reisbeperkings verslap het sodat Suid-Afrikaners wat in die buiteland gestrand is terug na Suid-Afrika gebring kan word.

Volgens Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), sal nog ʼn groep van 16 mense wat in Duitsland gestrand is na verwagting oor die naweek van Frankfurt na Suid-Afrika terugkeer.

“Met al meer lande wat hul burgers van Suid-Afrika af wil repatrieer, sal die departement van die geleentheid gebruik maak om meer Suid-Afrikaners met behulp van huurvlugte terug te bring.”

ʼn Totaal van 2 313 Suid-Afrikaners het reeds met die departement kontak gemaak en aangedui dat hulle in die buiteland gestrand is. “Dit sluit 726 studente, 600 mense wat oorsee werk en 492 toeriste in.”

Volgens Monyela word daar prioriteit gegee aan die Suid-Afrikaners wat op lughawens vasgekeer is, studente wat koshuise moet ontruim, bejaardes en siekes.

“Die departement wil alle Suid-Afrikaanse burgers wat in die buiteland gestrand is, die versekering gee dat hy empatie het met hul situasie en alles in sy vermoë doen om hulle te help om veilig en so gemaklik as moontlik te wees en om terug na Suid-Afrika te reis.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Die verbod op reis behoort die stratosfeer ietwat skoon te maak van al die vliegtuiguitlaatgasse wat tot 10% bydrae aan klimaatsverandering. Lugfoto’s wat ek in my besit het dui hierdie gasse duidelik aan. Wonder wat sê die weerkundiges hiervan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.