Covid-19: Hospitaal gesluit ná babas, ma’s positief toets

Argieffoto (Foto: Unsplash)

’n Hospitaal in KwaDukuza in KwaZulu-Natal het sy deure tydelik gesluit nadat 16 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus vandeesweek by dié hospitaal aangemeld is.

Die provinsiale departement van gesondheid het Maandag in ’n verklaring gesê nege ma’s, twee babas, vier dokters en een verpleegster het by die Gen. Justice Gizenga-gedenkhospitaal positief vir Covid-19 getoets.

Die hospitaal, voorheen bekend as die Stanger-hospitaal, sal nou tot verdere kennisgewing geen nuwe pasiënte opneem nie.

Luidens die verklaring het een van die ma’s glo nie aan die hospitaal bekend gemaak dat haar man een van die positiewe gevalle is wat aan ’n supermark in Ballito verbind word nie. Hospitaalpersoneel het min wetend die vrou in ’n moederhuis saam met ander ma’s gehuisves wat kort daarna ook positief getoets het vir die virus.

Die hospitaal, met 219 pasiënte, is intussen in ’n kwarantynperseel verander. Al die personeel en pasiënte in die chirurgiese afdeling en die waakeenheid van die hospitaal is reeds getoets, met die oorblywende personeel wat deur die loop van vandag (Dinsdag) getoets sal word.

Luidens die verklaring sal die nooddienste alle pasiënte wat nie in ’n ernstige toestand verkeer nie tot verdere kennisgewing na ander hospitale in die distrik neem vir mediese behandeling.

Meer ernstige gevalle wat vermoedelik chirurgie gaan vereis, word na die King Edward VIII-hospitaal verwys, terwyl ginekologiese gevalle wat versorging op streekvlak benodig na die Mahatma Gandhi-gedenkhospitaal, Koning Edward VIII-hospitaal en die RK Khan-hospitaal verwys sal word.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sonneblom23 ·

Ek voel dat daar teen beide die man en vrou regstappe moet geneem word. Hoeveel mense se lewens het hulle ingevaar geplaas deur die informasie te weerhou? Was daar nie gesê dat indien iemand wat positief is reis dat hul aangekla sal word van poging tot moord nie? Die paartjie moet beslis vervolg word

Janc ·

Ja daai is inligting wat sy heel eerste moes deel nog voordat sy opgedaag het by die hospitaal.

Oom Hennie Pennie ·

Is ‘n hospitaal nie juis daar om mense gesond te maak nie en ALLE siektes te kan hanteer nie? Hoekom SLUIT as daar ‘n aansteeklike siekte opgeneem word in die hospitaal? Bly oop en hanteer dit!

Sarel ·

Die persoon het pasiente , wazrvan sommige babas is , regtebs vervolg word. Seker nie anders word haar mensereg asngetas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.