Covid-19: Plaaslike e-handel kry nuwe asem

(Foto: Transform Marketing via ANA)

Hoewel talle Suid-Afrikaanse sakeondernemings finansieel geknou is te midde van die Covid-19-pandemie en landwye afsondering, is daar nuwe asem in die e-handelsektor geblaas. Al hoe meer verbruikers verkies dit om aanlyn aankope veilig en gerieflik vanuit hul huise te doen.

Siphamandla Mkhwanazi, FNB se senior ekonoom, sê kleinhandelverkope het jaar-tot-jaar in Junie met 7,5% gedaal, gevolg deur ʼn afname van 11,9% in Mei.

Craig Lubbe, uitvoerende hoof van die aanlyn winkelplatform Bidorbuy, het gesê verbruikers het al hoe meer noodsaaklike items soos skoonmaakprodukte, skryfbehoeftes, lugtyd en gesondheidsverwante produkte soos maskers en termometers vanaf hul platform begin aankoop.

“Die vraag na produkte wat nie so sterk in aanvraag is nie, het selfs ook begin toeneem, onder meer vermaaklikheidsitems soos digitale beursies vir speletjies, musiekkoopbewyse, sporttoerusting asook klein en groot huishoudelike toestelle,” sê Lubbe. “Die verkope van huis- en leefstylprodukte, speelgoed, stokperdjieprodukte en elektroniese speletjies het oornag verdubbel. Musiekinstrumente en kunsprodukte het ook merkwaardige verkope begin toon.”

Die aanlyn velsorgwinkel SkinMiles het in ʼn verklaring gesê ná ʼn toename van 40% in verkope vir die jaar geëindig Februarie, vergeleke met 2019, is dit nou op pad na ʼn hoër omset van 60%. Dr. Alek Nikolic, direkteur van SkinMiles, het gesê die aanvanklike sluiting van skoonheidsalonne aan die begin van die afsonderingstydperk het ʼn algehele verskuiwing na aanlyn aankope genoodsaak.

E-handelplatforms het in die afgelope tydperk meer blootstelling gekry deurdat verbruikers meer tyd aan sosiale media bestee weens die reisbeperkings wat steeds van krag is. Die vinnige afleweringstyd van koeriermaatskappye het ook e-handel ʼn aanlokliker opsie vir verbruikers gemaak.

Volgens die direktebetaling-aanlyngroep (DPO), die land se grootste verskaffer van betalingsdienste, het hy sy kapasiteit ʼn hupstoot van 700% gegee om in verbruikers se behoeftes te voorsien. Die groep sê onderhandelinge wat op 30 Mei plaasgevind het, het ʼn hoogtepunt bereik met verkope wat vier keer meer as dié op Black Friday verlede jaar is.

Mkhwanazi sê hulle verwag dat inkopie-aktiwiteite in die komende maande sal bestendig, aangesien die ekonomie geleidelik weer oopgestel sal word.

“Ons verwag egter dat die besteding van verbruikers waarskynlik vanjaar ʼn aansienlike knou sal kry weens die afsonderingstydperk, die verlies aan inkomste en werk weens die pandemie en verhoogde onsekerheid, wat kan lei tot ʼn toename in voorsorgbesparing deur huishoudings met ʼn hoë inkomste,” sê Mkhwanazi.

“Nietemin sal die laer rentekoerse, inflasie op gemengde goedere, asook ʼn effens laer inkomstebelasting die nodige finansiële ondersteuning aan die verbruiker verleen. Na ons mening sal dit egter teengewerk word deur die beduidende agteruitgang in die arbeidsmarkomstandighede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

gatgogga ·

Maak tog net seker dat aflewering NIE deur die Poskantoor gaan gebeur nie. Jy sal jou goedere nooit kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.