Covid-19-samevatting: Een vas oor fopnuus op sosiale media

(Foto: pixabay)

Een persoon in Kaapstad is in hegtenis geneem nadat hy na bewering fopnuus oor die nuwe koronavirus (Covid-19) op sosiale media versprei het.

Genl. Bheki Cele, minister van polisie, het Saterdag gesê die persoon het op sosiale media uitgevaar en gesê daar bestaan nie iets soos die koronavirus nie, waarna hy in hegtenis geneem is.

Die minister het gewaarsku dat nog inhegtenisnemings gaan volg sou Suid-Afrikaners fopnuus oor die virus op sosiale media versprei.

Eerste sterfte in Nieu-Seeland

Nieu-Seeland het intussen sy eerste sterfte aangemeld. Die vrou wat dood is, was van die Suid-Eiland.

Luidens inligting was sy in haar 70’s en het sy ʼn onderliggende mediese toestand gehad. Sy het onlangs longontsteking opgedoen waarna sy in ’n hospitaal opgeneem is.

Nieu-Seeland het Sondag 63 nuwe gevalle Covid-19 aangemeld. Volgens die wêreldbarometer Worldometer het die land nou altesaam 514 gevalle van die nuwe koronavirus. Die land is op dag vier van ʼn algehele landwye afsondering.

Scott Morrison (Foto: Peter Parks/AP)

Beperkings in Australië

Scott Morrison, die Australiese eerste minister, het streng regulasies ingestel in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 in die land hok te slaan. Australië het in dié stadium reeds 3 969 bevestigde gevalle en 16 sterftes aangekondig.

Die regulasies sluit in dat niemand hul huise mag verlaat behalwe om noodsaaklikhede te koop, te oefen of ’n mediese fasiliteit te besoek nie. Slegs twee mense op ʼn keer mag saam buite verkeer.

Burgers ouer as 70 en burgers ouer as 60 met chroniese siektes moet in hulle huise bly.

Openbare gebiede sluit vanaf Maandag.

Tom Hanks en Rita Wilson (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP, File)

Tom Hanks

Die Amerikaanse akteur Tom Hanks en sy vrou, Rita Wilson, is terug in Los Angeles in die VSA nadat hulle Covid-19 in Australië opgedoen het. Die egpaar moes weke lank in selfisolasie in dié land bly voordat hulle huiswaarts kon keer.

“Baie, baie dankie aan almal in Australië wat na ons omgesien het. Hul sorg en leiding het ons terugkeer na die VSA moontlik gemaak,” het die 63-jarige akteur op sosiale media geskryf.

Die egpaar sal hulle verder tuis isoleer aangesien die VSA die nuwe episentrum van die virus is met meer as 123 000 gevalle.

Bronne: CNN, The Guardian, Worldometer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

marius ·

Hoeveel van die mense wat Venda se drankwinkels oop gebreek het is gearresteer ? Hoeveel van die wat by die honderde in die strate ingevaar het en corona corona gegil het terwyl hulle vergryp aan drank is gearresteer ? Is dit nie duisend maal erger as fopnuus nie cele?

Yvonne ·

Maroela, hoekom berig niemand nog oor die Covid-19 verwante sterfte van ‘n man in ‘n hospitaal in Ladysmith, KZN gisteraand nie?

Jan ·

Onthou voor daar finaal gesertifiseer kan word waaraan iemand dood is moet n klomp toetsw gedoen word en sie man het moontlik ook aan ander siektes gely en sulke toetse neem n paar dae..

Chris ·

As dit nie bevestig is nie mag hulle die nie berig nie. Dit sal wel bekend gemaak word sodra dit bevestig is.

Anel ·

Dit sal nogal interessant wees om die statistiek van verlede jaar te sien tov mense wat wêreld wyd griep gehad het.

Cecil ·

Anel dit is n goeie vraag. Indien jy die statistiek sou gehad het wat sou jy wou probeer bewys. Griep kom en gaan en kan nie direk met die Corona Virus vergelyk word nie.

Nell ·

Ek het griep gehad. Honderde ander het griep gehad. Ons kon vooraf as beskermende maatreel ‘n griepinspuiting kry, andersins kon ons medikasie daarvoor neem. No problem. Overgesetzynde die virusse verskil hemelsbreed van mekaar.

Cherokee ·

Meer en meer video-snitte en berig-uitknipsels doen die rondte met die bewering dat covid-19 in ‘n laboratorium in Wuhan ontwikkel is deur die Sjinese regering, as ‘n wapen teen sterk lande soos Amerika en met die uiteindelike doel om die wêreld te beheer. Dit is ‘n oop vraag of dit fop-nuus is, want die moontlikheid kan nie bloot uitgesluit word nie.

Chris ·

Ek dink dit is omdat so baie mense graag wil he dat dit in n laboratorium gekweek is.

Boortor ·

Die artikels oor hoe dinge nou of vandag lyk beteken niks. Met die minagting en vakansie gees van die mense van hierdie land gaan hier duisende mense doodgaan. Wag nog twee of drie weke en Italie en die VSA gaan lyk soos kinderpartytjies teenoor ons. Kyk maar na die openbare hospitale en klinieke met die behandeling wat jy daar kry. Hier kom n MASSIEWE mense slagting. Logika se dit vir jou. Sterkte aan die mense wat die reels gehoorsaam maar ek is bevrees die massas ander gaan ons oorweldig.

Spook ·

Abraham Paulus, lanklaas het enige iemand ‘n meer waar word gespreek as wat jy hierbo gedoen het. Ons sit op ‘n tydbom.

Flip ·

Baie waar woorde AP, hier kom n ding en baie mense gaan te laat besef dat hierdie nie net n gewone griep is nie. Die feit dat daar mense is oorsee wat herstel het en dit weer gekry het is n baie groot probleem.

Renier ·

Hierdie virus is hiperintelligent! Hy wag mooitjies vir die Repo krisis in September, dan vir die Event201 simulasie in Oktober en siedaar ons het ‘n wêreldwye plandemie!

Roggeveld ·

Dus, as ek beweer die aarde is plat, kan die regime my in die tronk stop?! Wat het die arme man verkeerd gedoen? Is dit nou krimineel om duiwelsadvokaat te speel. As ‘n komediant dieselfde gesê het, was als waarskynlik ok.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.