Covid-19 tref Rustenburg-munisipaliteit

Rustenburg

Die Rustenburgse munisipaliteit se verkeersdepartement se deure is Donderdag gesluit na ’n munisipale werker van die afdeling vir openbare veiligheid positief vir Covid-19 getoets het.

David Magae, woordvoerder van die Rustenburg-munisipaliteit, sê die positiewe geval is tydens die daaglikse roetine-siftingstoetse by die afdeling vir openbare veiligheid geïdentifiseer.

Magae sê die betrokke werknemer ontvang die nodige ondersteuning van die munisipaliteit se kantoor vir beroepsgesondheid en ‑veiligheid.

Die kantore en fasiliteite vir openbare veiligheid is tot verdere kennisgewing gesluit om die munisipaliteit in staat te stel om die geriewe te ontsmet.

“Die munisipaliteit werk nou saam met die departement van gesondheid om te verseker dat geïdentifiseerde werknemers en lede van die publiek wat moontlik in kontak met die betrokke munisipale werknemer was, getoets en ondersoek word,” sê Magae.

Hy sê ook diegene wat onlangs die kantoor vir openbare veiligheid by die munisipaliteit besoek het, moet by die dokter uitkom om getoets te word.

“Die plaaslike munisipaliteit van Rustenburg wil die publiek verseker dat hy al die Covid-19-veiligheidsprotokolle by al sy fasiliteite volg. Daarom is dit nie nodig om paniekbevange te raak nie. Alle inwoners word weereens aangeraai om ’n veilige sosiale afstand te handhaaf, hande gereeld te ontsmet en getoets te word wanneer hulle ’n munisipale perseel betree,” sê Magae.

Nog twee munisipaliteite in Noordwes het ook die afgelope tyd positiewe gevalle van Covid-19 aangemeld. Die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit het 31 positiewe gevalle aangemeld en die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit vyf.

Noordwes staan tans op 757 positiewe gevalle van Covid-19 en het tot dusver vyf sterftes in die provinsie aangemeld. Altesaam 104 mense het reeds van die virus in die provinsie herstel.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Donderdag nog 74 Covid-19-verwante sterftes is in Suid-Afrika bevestig, wat die landwye totaal op 1 284 te staan bring. Altesaam 39 van die sterftes is in die Wes-Kaap aangemeld, gevolg deur 31 in die Oos-Kaap en vier in KwaZulu-Natal.

Die Wes-Kaap het tot dusver die meeste getal sterftes aangemeld en staan tans op 966 sterftes, gevolg deur die Oos-Kaap met 178, KwaZulu-Natal met 64 en Gauteng met 57. Die Vrystaat het sover nege sterftes aangemeld en Mpumalanga en die Noord-Kaap elkeen slegs een.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.