Covid-19: Vakbond eis dat hospitaal met etlike gevalle tydelik sluit

St Augustine-hospitaal in in Glenwood, Durban. (Foto: Doctor Ngcobo/African News Agency/ANA)

Die vakbond vir gesondheid en dienspersoneel (Hospersa) het ʼn beroep op sy lede gedoen om te weier om te werk waar persoonlike beskermingstoerusting nie voorsien word nie. Hospersa dring ook daarop aan dat die Netcare St. Augustine-hospitaal in Durban tydelik gesluit word.

Dit volg nadat 66 gevalle van die nuwe koronavirus reeds by die hospitaal aangemeld is – minstens 47 van die gevalle is personeellede van die hospitaal. Vier pasiënte het ook reeds in die hospitaal weens Covid-19 omgekom.

Hospersa se lede bestaan uit meer as 60 000 gesondheidswerkers in die openbare en private sektor en is ook die grootste vakbond by die Netcare St. Augustine-hospitaal.

Volgens het die vakbond word daar van gesondheidswerkers by die Netcare St. Augustine-hospitaal verwag om dieselfde masker vir vyf tot sewe dae te dra. “Ons eis dat die Netcare St. Augustine-hospitaal onmiddellik gesluit moet word en dat infeksiebeheer moet plaasvind voordat dit weer geopen kan word,” het Noel Desfontaines, sekretaris-generaal van die vakbond, gesê.

Maroela Media het vroeër berig Richard Friedland, uitvoerende hoof van die Netcare-groep, het benadruk dat geen Netcare-fasiliteit ooit van personeellede sal verwag om sonder die nodige beskerming te werk nie.

Die vakbond het Woensdag in ʼn verklaring gesê die gesondheid en veiligheid van gesondheidswerkers behoort geprioritiseer te word om te verseker dat hulle onoorwonne uit die stryd teen die Covid-19-pandemie kan tree. Die vakbond het gevolglik ʼn skrywe gerig aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en die provinsiale lede van die uitvoerende raad vir gesondheid oor die kwessie van onvoldoende persoonlike beskermingstoerusting by openbare gesondheidsfasiliteite.

Luidens die verklaring het die skrywe onbeantwoord gebly.

“Hospersa is van mening dat die departement van gesondheid en private gesondheidsinstellings wetlik verplig is om veilige en gesonde werksomstandighede aan werknemers te bied. Gesondheidswerkers is geregtig daarop om te weier om hul lewens in gevaar te stel as daar van hulle verwag word om te werk onder onveilige toestande luidens die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid,” lui die verklaring.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mieke ·

Weet van die personeel genoeg van selfbeskerming en maatreëls om met besmette pasiënte te werk?

Cherokee ·

Mieke, die ene wat jou kommentaar ‘n afduim gegee het, verstaan nie die duimstelsel lekker nie.
Maar terloops, in die spesifieke hospitaal, wat soos ek voorheen al gesê het, ‘n vooraanstaande hospitaal is, is sommige pasiënte blykbaar deur verpleegpersoneel aangesteek asook andersom.

Chris ·

Hospersa se lede sal graag wil he die hospitaal moet tydelik sluit dan het hulle mos betaalde verlof. Geen hospitaal kan nou gesluit word in die land nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.