DA het hernude ywer teen ANC en staatskaping

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Twitter)

Die DA het Vrydag bykomende en opvolgaksies aangekondig as deel van sy voortgesette veldtog teen die ANC se kaderontplooiingskorrupsie.

“Met behulp van die presedent wat geskep is in ons onlangse oorwinning in die Konstitusionele Hof, sal die DA ʼn aansoek vir minagting van die hof teen die ANC aanhangig maak,” sê John Steenhuisen, leier van die DA. Dié aansoek het ten doel om afskrifte te bekom van die e-posse en WhatsApp-boodskappe vir die tydperk toe pres. Cyril Ramaphosa, as voorsitter van die ANC se kaderontplooiingskomitee gedien het. Dit fokus spesifiek op die hoogtepunt van staatskaping tussen 2013 en 2018.

“Ons dien ook ons aansoek in vir verlof tot appèl teen Dinsdag se uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof.”

Steenhuisen sê die ANC het versuim om Ramaphosa se eie e-posse en WhatsApp-boodskappe by die materiaal in te sluit wat aan die DA oorhandig is. Dit is ondanks die feit dat Ramaphosa gedurende hierdie tydperk voorsitter van hierdie komitee was en een van die ontvangers was van die betrokke e-posse en WhatsApp-boodskappe.

“Hy dra uiteindelik verantwoordelikheid vir sy optrede, maar versuim om ‘n beëdigde verklaring af te lê waarin hy bevestig dat hy geen dokumente of inligting vir hierdie tydperk het nie.”

Die DA het vandeesweek ook ʼn eisbrief aan die ANC uitgereik om volledig te voldoen aan die bevel van die Konstitusionele Hof met Saterdag as sperdatum.

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC (Foto:
@MbalulaFikile/Twitter)

“As hulle nie aan die eis voldoen nie, sal ons ʼn dringende uitspraak versoek vir minagting van die hof, wat tronkstraf insluit, en spesifiek gemik is op die sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, wat namens die ANC in hierdie saak opgetree het.”

Volgens Steenhuisen sal die DA die presedent gebruik wat geskep is in die Jacob Zuma-saak, toe hy tronk toe gestuur is omdat hy op ʼn soortgelyke wyse in minagting was van ʼn bevel van die Konstitusionele Hof.

“Ons sal ook strafregtelike klagte najaag teen ANC-amptenare wat betrokke was by die vernietiging van inligting as deel van ‘n blatante toesmeerveldtog om Ramaphosa se vingerafdrukke van die kaderontplooiingsrekords uit te wis.”

In die DA se regsbrief, wat Donderdag aan die ANC gestuur is, wys die DA daarop dat die ANC in ‘n aantal opsigte nie aan die hofbevel voldoen het nie:

  • Die ANC het dokumente op ʼn omvattende wyse gesensor, hoewel hulle nie deur die hofbevel daartoe geregtig was nie;
  • Hulle het geen inligting verskaf vir ʼn periode van vyf jaar waartydens pres. Cyril Ramaphosa die voorsitter was van die kaderontplooiingskomitee nie. Die ANC het dit ook nie in hul hofdokumente genoem nie;
  • Hulle het nie ʼn lys van alle besluite verskaf wat deur die kaderontplooiingskomitee geneem is, soos deur die hof beveel nie;
  • Hulle het die kommunikasie, wat gedurende die jaar 2020 versprei is, ongeoorloof beperk;
  • Hulle het onleesbare dokumente voorsien;
  • Hulle het dokumente vernietig terwyl die saak aanhangig was voor die hof;
  • Hulle het versuim om voldoende te verduidelik watter stappe gedoen is om die inligting op te spoor, insluitend alle inligting van pres. Ramaphosa self as voorsitter van die komitee en dus ontvanger van enige en alle inligting en dokumente wat daarop betrekking het;
  • Hulle het nie notules verskaf wat nie formeel aanvaar is nie, alhoewel die hofbevel die party verplig om alle relevante inligting oor te dra.

Steenhuisen sê die ANC het ook geen inligting verskaf vir die tydperk tussen 2013 en 2018 nie, ten spyte van die hof wat beveel het dat dit hierdie tydperk moet insluit toe Ramaphosa kadervoorsitter was.

“Soos ons in ons brief aandui, is die PAIA-versoek ‘nie beperk tot notules van komiteevergaderings nie, maar sluit ook alle inligting in oor die prosesse en besluite van die komitee gedurende die tydperk 2013-2021 …’.”

Hy meen dit is nie geloofwaardig vir die ANC om te beweer dat daar glad geen dokumentêre of digitale spoor bestaan van enige kommunikasie oor die komitee se prosesse gedurende hierdie vyfjarige tydperk nie.

“Dit maak geen melding van die stappe wat gedoen is om die dokumente of inligting van die lede van die komitee of ontvangers van kader-e-posse te bekom nie. Die versuim om die relevante inligting oor te dra, staan ook in stryd met Ramaphosa se eie getuienis voor die Staatskapingskommissie, toe hy gesê het: ‘Ek dink dié wat in beheer is, sal net aantekeninge maak en ʼn besluit opteken en dit word dan gekommunikeer.’ Die DA en die publiek is geregtig om toegang te bekom tot hierdie ‘aantekeninge’ en ‘besluite’ ingevolge die hofbevel.”

Steenhuisen sê die strafregtelike aanklagte wat die DA teen die ANC gaan lê, spruit uit die erkenning, onder eed, deur ANC-amptenaar Thapelo Masilela dat hy ‘n aantal van die rekords – wat die onderwerp was van die PAIA-versoek – vernietig het ná die hofbevel toegestaan is. Die ANC se aansoek om verlof tot appèl wasin daardie stadium nog hangende.

Steenhuisen sê hierdie gedrag is ʼn oortreding in terme van artikel 90(1) van die PAIA en skuldigbevinding kan lei tot tronkstraf van ʼn maksimum van twee jaar.

“Die DA sal nie toegee in ons stryd teen ANC-kaderontplooiingskorrupsie nie totdat ons hierdie teistering verbied en afgeskaf het. Ons veldtog beweeg nou na die volgende fase, waar ons ANC-leiers, insluitend Ramaphosa en Mbalula, persoonlik aanspreeklik wil hou vir hul rol in die stelsel wat staatskaping veroorsaak het en dienslewering laat instort het,” sê Steenhuisen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Steenhuisen saal nou ‘n perd op wat hom gaan afgooi. Die DA is self skuldig aan baadjies vir boeties en sussies. Zille het steeds haar hand op die stuurwiel en dit het haar reeds suur bekom in die verlede. Veg met die oog op die toekoms. Die koeie in die sloot is dood.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.