DA wil landelike veiligheidseenheid in Tshwane op die been bring

Die DA-leier John Steenhuisen tydens sy besoek aan die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout)

Die DA-leier, John Steenhuisen, het Vrydag tydens ʼn besoek aan Aardklop in Pretoria gevra dat kiesers die party ʼn mandaat gee om ʼn landelike veiligheidseenheid binne die Tshwane-metropolisie (TMPD) te skep.

Steenhuisen sê die party vra nou al geruime tyd vir die skep van sulke toegewyde landelike veiligheidseenhede om plase en kleinhoewes teen misdadigers te help beskerm.

“Vandag, hier by Aardklop, vra ons die mense van Tshwane om aan die DA ʼn 50% plus een meerderheid te gee sodat ons so ʼn eenheid kan skep as deel van die Tshwane-metropolisie.”

Steenhuisen sê hoewel die Tshwane-gebied geklassifiseer word as ʼn metropolitaanse gebied, is daar groot landelike gebiede wat binne die stad se grense val. Dit sluit in alles van Kameeldrift tot Winterveldt en gebiede in die Bronkhorstspruit-omgewing.

“Tshwane se verantwoordelikheid vir hierdie landelike gebiede is deels ʼn gevolg van die swak deurdagte samesmelting van Tshwane en die voormalige munisipaliteite Nokeng tsa Taemane en Kungwini in 2011. Die samesmelting het Tshwane met verskeie finansiële en bestuursprobleme gelaat, maar een van die dringendste uitdagings is om die landelike gemeenskappe binne die metro se grense te beveilig.”

Die polisie misluk boonop met dié taak, nie noodwendig omdat individuele beamptes nie probeer om hul werk te doen nie, maar omdat die nodige politieke ondersteuning, bestuur en hulpbronne ontbreek, sê hy.

“Ons weet ook dat die polisiëring van landelike gemeenskappe bemoeilik word deur swak paaie, swak openbare beligting en ʼn gebrek aan straatname. Inwoners en werkers op plase, natuurreservate en kleinhoewes loop veral deur onder diefstal. Maar hulle is ook kwesbaar as dit kom by geweldsmisdade soos roof, moord en seksuele aanranding.

“In die tyd wat dit neem om ʼn aanval aan te meld en die polisie te ontbied word slagoffers dikwels onderwerp aan afgryslike brutaliteit. Ons moet doodeenvoudig iets doen om hierdie vlaag van geweld te stop.”

Die burgemeester van Tshwane, Randall Williams, het reeds onderneem om ʼn toegewyde landelike veiligheidseenheid as deel van die TMPD op die been te bring as kiesers hul steun tydens die komende plaaslike regeringsverkiesing weer aan die party toesê.

Die eenheid sal volgens Steenhuisen begin met 50 toegewyde lede wat bekend is met die gebiede waarin hulle ontplooi sal word en sal 24 uur van die dag en sewe dae van die week werk. Voet- en motorfietspatrollies vorm ook deel van die beoogde plan om landelike veiligheid te verbeter.

“Die sukses van die eenheid sal afhang van effektiewe samewerking met die SA Polisiediens sowel as gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte en landbou-organisasies.”

Volgens hom kan die metropolisie se werk nie meer beperk word tot die afdwing van munisipale verordeninge en die beheer van verkeer nie – veral nie as hulle die kapasiteit het om meer te doen in die stryd teen misdaad nie.

Besoek Voortrekkermonument

Dr. Danie Langner, hoof van die Voortrekkermonument, het Steenhuisen ‘n begeleide toer van die bekende baken gegee. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout)

Die Aardklop-kunstefees word vanjaar in Pretoria aangebied en verskeie produksies vind plaas op die perseel van die Voortrekkermonument. Dit is ook waar die DA sy landelike veiligheidsplan vir Tshwane bekend gestel het.

Steenhuisen het tydens sy heel eerste besoek aan die baken gesê hy is ʼn trotse Suid-Afrikaner en dat Suid-Afrikaners mense van verskillende tale, kulture, rasse en geskiedenis is.

“Een ding wat ons saambind, is ʼn liefde vir ons land. Plekke soos die Voortrekkermonument moet hulp kry om die geskiedenis te bewaar.

“Dit is die wonderlike ding van die DA. Ek kan ewe hard veg vir Afrikaans, Engels, Sotho en ander inheemse tale.”

Dr. Danie Langer, uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument, het Steenhuisen, Cilliers Brink, die DA se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, en ander afgevaardigdes ook op ʼn begeleide toer deur die monument geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Werner ·

Ag ou DA spaar julself baie moeite en sluit sommer by die TLU sin aan wat al jare bestaan of by Afriforum.Julle is ligjare te laat hoor.O ja daar is mos nou weer n verkiessing oppad

Magda ·

Ja hulle is daar, maar is di beskerming daar wat so dringend benodig word???? Julle almal kla baie, maar as daar iets voorgestel word, Dan is dit nie goed genoeg nie. NOU WAT STEL JULLE VOOR, DOEN DAN IETS AS JULLE SO GOED WEET.

Keelvol ·

Magda, indien jy dalk dit gemis het, dis verkiesings tyd. Leë beloftes wat gemaak word. Na die verkiesing kom daar dadels van. Die DA is n groot teleurstelling.

Werner ·

Doen al vir jare opleiding onder die boere toe die DA nog gewonder het of daar iets is soos plaasaanvalle.Ly ook ons eie spoor honde op.Ou Steenhuisen sal bietjie in die gym moet gaan draai as hy aanvallers wil rond jaag.Werk al 27 jaar op plaasaanvalle dink ek weet nou al iets.

twaalfboor ·

Magda ons doen iets……. ons bewapen onsself en is paraat. GEEN POLITIEKE PARTY DOEN DIT VIR ONS NIE. Soos Werner sê, dis weer verkiesing tyd. Intussen lyk ons mooi stad soos ñ ashoop en riool plaas.

gatgogga ·

Wil nie hulp he nie – wil net kla. Dis hoekom dit elke dag slegter gaan met ons.

melaney ·

Magda daar is soveel binnegevegte in die DA mens weet nie wanneer bars die bom nie. TLU en Afriforum staan vas. Ons weet ons kan op hulle vertrou.

Flip ·

Moet sê Werner, TLU/Afriforum sin werk baie goed as mens sien dat daar geen aanvalle meer is vandat hulle bestaan nie.

Werner ·

Aanvalle het afgeneem in die gebiede waar boere betrokke is by die veiligheids strukture.Waar boere se paraatheid hulle in die steek laat kry hulle nog pak.Tensy jy bereid is om R5000 per dag te betaal om n opgeleide lyfwag vir n boer te voorsien gaan jy nooit plaasaanvalle 100% keer nie.

Werner ·

Solank die mense met n dit sal mie met my gebeur sindroom rond loop sal jy nooit aanvalle 100% keer nie

Adriaan ·

Ek dink ewe min van die TMPD as die SAPD. Steenhuisen moet eers die TMPD laat skoonmaak van ongewensde elemente voordat hy hulle wil gebruik vir landelike veiligheid. Daar is talle gevalle waar TMPD baie dapper is wanneer hulle laataand mense wat alleen in hulle voetuie is rondruk maar helder oordag weghardloop van oproeriges.

Keelvol ·

Adriaan, en die wittes in die TMPD en die SAPD? Dink jy net so min van hulle?

Magda ·

Myne word ook gereel afgehaal, weet ni regtig hoekom ni want ek se niemand sleg ni, praat net di waarheid. So Maroela Media is ni regtig daar vir Jou kommentaar ni, maar vir hulle kommentaar.

Johan ·

Wat weet die ou van die Afrikaner se geskiedenis. Kan hy hom vereenselwig met die Afrikaner of soek hy maar net stemme

Yvonne ·

Negatiewe kommentaar sal niks aan die probleme doen nie…..kom ons vat die hand wat die DA uitsteek….dit is tenminste n begin……daar is n hemelsbree verskil waar die DA aan bewind is as die res waar ANC regeer……ASB!!

Harley Davidson ·

Baie goeie inisiatief maar jy kan sien daar is n verkiesing naby almal beloof nou weer alles net om stemme te werf hoe dom dink hierdie politieke partye is ons?

Harley Davidson ·

Hulle moet “campain” vir ‘n onafhanklike tuisstaat waar misdaad deur die polisie bekamp word.

gatgogga ·

Hulle doen dit. Ons wil net nie ons steun gee nie. Ons is altyd slimmer, en brawer. Maar ons verloor elke dag veld.

Skuilnaam ·

Ja, ou DA. Nog beloftes wat julle maak. Patetiese spul narre – julle het jul g@tte gesien en sal NOOIT weer opgang maak nie.

annie ·

John maak die pap dik aan. Oppas vir aanbrand. Landelike veiligheid na hoeveel jaar?… Kan John Afrikaans praat? Dit is die verkeerde vraag want almal is deesdae Afrikaners in murg en been. Mens is skoon oorstelp van verwondering… oor wie almal op die ossewa spring. Oppas net dit kan ook ‘n papwiel kry…

Philip ·

John Steenhuisen jy is waaragtig n ware oppertunis om op so n geleentheid ter wille van stemme die eerste keer in jou lewe die Monument te besoek .Die vorige pro-liberale joernaliste van die PFP/DP/DA het gewoonlik na die Monument as n POP-UP-TOASTER verwys.Ek kan die hand van die debat span in die reelings van die hele aangeleentheid sien maar die stemvee sal dit nie agterkom nie.

john ·

Ja die verkiesing is mos nou op pad julle kon lankal iets gedoen het. To little to late.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.