DA wil Ramaphosa se rol in kaderontplooiing blootlê

(Grafika: DA)

Die ANC, wat reeds sukkel om selfs net sy eie werkers te betaal, moet nou ook hoes vir die DA se koste weens vertragings wat hy veroorsaak het in die amptelike opposisie se hofsaak teen die regerende party se beleid van kaderontplooiing.

Behalwe die kostebevel teen die ANC het die Pretoriase hooggeregshof Woensdag ook beveel dat die ANC sy betooghoofde in die saak, wat al 11 maande lank uitstaande is, binne tien dae moet indien. Sou die party versuim om dit te doen, sal die ANC se teenkanting geskrap word en die DA sal seëvier.

Die DA het die hof ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) gevra om die ANC te dwing  om alle rekords, besprekings en besluite wat die party se kaderontplooiingskomitee vantevore geneem het, beskikbaar te stel. Dit sluit in notules, e-posse en selfs WhatsApp-gesprekke wat sover terug strek as 1 Januarie 2013.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie en die dryfveer agter die pogings om met kaderontplooiing weg te doen, sê die jongste oorwinning gaan die party in staat stel om “algehele deursigtigheid” te gee oor die persoonlike rol wat pres. Cyril Ramaphosa in staatskaping en die korruptering van die staat gespeel het.

Ramaphosa was van 2013 tot 2018 die hoof van die ANC se kaderontplooiingskomitee.

“Ons sal nie rus totdat ons die volle waarheid, dat die ANC die fundamentele oorsaak van staatskapingskorrupsie is, aan die mense van hierdie land blootlê nie,” sê Schreiber.

Die DA sit die tweede gedeelte van sy hofsaak, wat probeer om ʼn einde aan die beleid van kaderontplooiing te maak, op 23 Januarie voort.

Hy sal ʼn volbank regters van die Pretoriase hooggeregshof dan vra om die stelsel ongrondwetlik en onregmatig te verklaar.

Schreiber sê die voortslepende beurtkrag is ʼn daaglikse herinnering van die koste verbonde aan kaderontplooiing.

“Staatsdepartemente en staatsbeheerde instellings soos Eskom is leeg geplunder en van vaardighede beroof omdat die stelsel van kaderontplooiing die ANC ongrondwetlik die mag gee om staatsamptenare aan te stel op grond van hul lojaliteit teenoor die korrupte ANC, eerder as op grond van hul vaardighede en vermoë om die werk te doen.”

Die DA vra dat alle kaderontplooiings met aanstellings vervang word wat deur meriete gedryf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leon ·

As dit oor meriete gaan moet die hele regering en sy amptenary vervang word !!!!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Die DA kan vra dat hulle blou word. Niks sal gebeur nie.

CHRISTINE ·

Ek wil graag weet hoekom het ons/iemand/niemand nog ‘n MOTION OF NO CONFIDENSE teen hierdie kriminele mafia regereing of hul president, wat ongelukkig ook Suid Afrika se president is, ingedien nie??
Ek glo political assasination is baie aanvaarbaar tans.

Manie ·

Dit is al verskeie kere in die parlement gepoog, maar het telkens misluk met hul meerderheid.

Pieter ·

ANC kaderontplooiing = mafia. Niks met demokrasie te doen nie, want die dienslewering bestaan nie, maar ‘n voortsetting van kriminele bedrywighede. Rampadda deel van die riool.

Nie Verbaas ·

Nou DA, ek stem maar wat dink julle gaan dan met Ramagorrel daarna gebeur? Absoluut dadels sal van dit kom.

Voilet ·

Net soos Malema weg kom met alles,sal hier seker ook niks van kom nie….die DA verloor altyd met enige saak

Elméne ·

DA roer net die water sodat mense darem van hulle moet onthou!!

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

My 1,000,000% steun aan die DA.

Die ANC-leierskap het puik opleiding in kaderontplooiing gekry by hul Russiese poppemeesters.

Jacobus ·

Die ANC is al by verskeie geleenthede as ‘n kriminele organisasie verklaar. Indien die staat en party nie so inmekaar was nie, kon die staat die sogenaamde politieke party, wat steeds roem op sy “struggle-status”, vervolg het vir diefstal, omkopery, meineed, hoogverraad en selfs moord?

Manie ·

Ramaphosa het gesê dat kaderontplooing nie onwettig is nie en dat dit wêreldwyd plaasvind, so dis nie asof hy hoegenaamd ‘n geheim daarvan maak nie. Ons almal ken egter die katastrofiese gevolge daarvan, maar daar sal absoluut niks van kom nie, aangesien die ANC kaderontplooing as hul reg beskou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.