DA-wyksraadslid se moordenaars skuldig bevind

(Argieffoto: Unsplash)

Vyf mans wat tereggestaan het vir die moord in 2016 op die Noord-Kaapse DA-wyksraadslid, Johannes Baatjies, en sy sakevennoot is skuldig bevind.

Maroela Media het vroeër berig Baatjies is op 17 Augustus 2016 na ʼn sogenaamde sakevergadering gelok en het sy sakevennoot, Shuping Nose, saamgeneem. Hulle is met hul aankoms daar in ʼn lokval gelei.

Die twee is dood aangetref op die pad tussen Daniëlskuil en Postmasburg. Baatjies is twee keer in die kop en een keer in die bors geskiet. Baatjies is ook agter ʼn voertuig gesleep.

Nose is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal in Kimberley gehaas nadat hy in die bakkie geskiet is. Hy het ʼn paar dae later aan sy wonde beswyk.

Richard Hasane (36), Richard Magawu (32) – ʼn voormalige ANC-wykskandidaat, Matthews Legodi (52), Frank Baxane (34) en Charles Mpondomisa (42) is Dinsdag almal skuldig bevind op twee aanklagte van moord, het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, Vrydag gesê.

Hulle is ook skuldig bevind aan die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Die saak teen Paullis Mvuleni Mgcera (50) is laat vaar, nadat hy dood is voor die verhoor in 2018 kon begin.

Die provinsiale hoof van die Valke, genl.maj. Kholekile Galawe, het die ondersoekspan en aanklaers vir hul werk met die saak geloof.

“Die skuldigbevinding is prysenswaardig en stuur ʼn duidelike boodskap dat geen moord, ongeag politieke verbintenis, in die Noord-Kaap geduld sal word nie,” het Galawe gesê.

Vonnisoplegging vind na verwagting in Junie plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Hi Christel, ‘n komma wat op die verkeerde plak geplaas is in die eerste paragraaf, laat die hele paragraaf anders klink as bedoel, want meer lees maak dit duidelik dat die sakevennoot nie ook skuldig bevind is nie, maar saam met die ander een vermoor is. Dit bewys weer dat ‘n komma op die verkeerde plak, ‘n heel ander storie vertel.

Jaco ·

ANC-kandidaat is een beskuldigde en hy word in ;n hof verhoor wat deur die ANC-regering beheer word. hoe kan die ANC nou die ANC verhoor? Niks sal van die saak kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.