Damme water by konsentrasiekampkerkhof verwyder

Die begraafplaas huisves altesaam 1 124 grafte van bejaardes, vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog gesterf het (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gaan in samewerking met die Erfenisstigting en AfriForum ’n einde aan die dam water by die Heilbron-konsentrasiekampbegraafplaas in die Vrystaat probeer maak.

Water dam alewig in dié begraafplaas op ná swaar reëns. Onwettige grafhope in die begraafplaas veroorsaak dat die reënwater nie kan afloop nie en dit dam dan gevolglik op.

Die plaaslike Ngwathe-munisipaliteit, wat onder meer Heilbron bestuur, het glo in 2010 reeds gesê dat die Heilbron-begraafplaas vol is en gevolglik is ’n nuwe begraafplaas op die Deneysville-pad aan die munisipaliteit toegeken.

Die begraafplaas huisves altesaam 1 124 grafte van bejaardes, vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog gesterf het. Dit word beskou as ʼn Afrikaanse erfenisterrein.

Water het onlangs weer in die begraafplaas opgedam na afloop van die onlangse swaar reën.

Die FAK wil ook goedkeuring by die plaaslike munisipaliteit bekom om ’n dreineringstelsel by die begraafplaas aan te lê (Foto: Verskaf)

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die FAK, het Quarta Pretorius, ʼn inwoner van Heilbron, die onlangse waterprobleem onder die federasie se aandag gebring. Pretorius is al sedert 1998 by hierdie konsentrasiekamp betrokke en die kamp lê haar en die gemeenskap na aan die hart.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van die FAK se kultuurnetwerke in die Vrystaat, het die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria en AfriForum om regshulp en erfenisbewaringswetgewing genader om die probleem op te los.

“Danie Knoetze, ʼn inwoner van Heilbron, het ’n waterpomp beskikbaar gestel om die dam water uit te pomp. Malan en Knoetze sal Vrydag met meer mannekrag terugkeer met nog waterpompe en kragopwekkers om die duisende liters water uit te pomp,” lui die verklaring.

Volgens die FAK wil hy ook goedkeuring by die plaaslike munisipaliteit bekom om ’n dreineringstelsel by die begraafplaas aan te lê om vir eens en vir altyd ’n einde aan die waterprobleem te maak.

Alta Pretorius, AfriForum-streekskoördineerder van die Mooirivier-streek waaronder Heilbron ook val, gaan dié saak nou verder met dié munisipaliteit bespreek.

“Dit is absoluut onaanvaarbaar dat ons erfenis so vernietig word. Ons moet ingryp. Dit is hoekom die FAK daar is. Ons is ’n waghond wat sorg dat ons daar is in tye van nood. Ons maak seker dat die probleem hanteer word en trek gemeenskappe en kultuurbewaringsorganisasies bymekaar om dit op te los en te bewaar,” het Malan in die verklaring gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Ja ons ons Afrikaners nie ons erfernis oppas nie, wie sal? Die ANC kaders voel ‘n veer vir ons erfenis, dis verseker!

KAIROS ·

Plant bome en inheemse plante. Maak dit n natuur wonder. Tans dra dit geen meer waarde as sentimentele waarde. As dit omskep kan word in ‘n Botaniese tuin gaan dit inkomste kan verdien.

Pieter J ·

Beteken die onwettige grafhope dat mense onwettig daar begrawe is? Indien wel moet die hope sonder meer verwyder en die grond gelyk gemaak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.