Danie Langner: Voortrekker, voorloper en vader van vele

Dr. Danie Langner voor die Voortrekkermonument. (Foto: Dawid Brand)

Die lees van sy lang lys titels laat ’n mens uitasem. Soos om die Voortrekkermonument se 320 trappies uit te klim, die meer as 60 000 granietstene te probeer tel. Duiselingwekkend, maar iets wat dr. Danie Langner daagliks op ’n drafstap aandurf. Dankbaar.

Daar’s nie naamborde wat korporatief-klinies aankondig dís die kantoor van die uitvoerende hoof van die FAK en hoofleier van die Voortrekkers nie. Nee, dis huis, FAK-huis. Onopgesmukte opstal wat in die skadu van die monument staan.

Die Voortrekkermonument, Erfenisstigting en die FAK het ʼn samewerkingsooreenkoms gesluit waarvolgens daar hande gevat word met ʼn mandaat om ʼn omdraaistrategie vir die monument inwerking te stel. Langner is as uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument én Erfenisstigting aangestel.

Eienaarskap en erfenis

(Foto: Dawid Brand)

Die uitbreking van die koronaviruspandemie het die skraler wordende stroom toeristebusse na die Voortrekkermonument finaal laat opdroog. Die monument se oorlewing was op ’n mespunt.

“Covid was nie net ’n doodskoot vir toerisme nie, maar ook vir die ekonomiese model waarop die Voortrekkermonument én die Bloedrivierterrein gebou is. Die uitdaging vir die FAK, die Voortrekkermonument én die Erfenisstigting is om die finansiële volhoubaarheid van dié Afrikaner-bates te verseker. Nie net vir die hier en nou nie, maar vir die volgende geslag. Dit is nie een organisasie se taak nie, dis ons almal s’n.

“China is nie ons redding nie en kan dit ook nooit weer wees nie (Duisende Chinese besoekers het jaarliks hierheen gestroom en selfs ’n inligtingsbord in die Liedjietuin is in Chinees vertaal). Afrikaners moet eienaarskap van erfenis neem. Ons kan en behoort vir ons eie erfenis te sorg. Ons is nie afhanklik van die staat om ons eie op te pas nie. Dit gaan oor kultuurtrots, oor ruggraat.

“As ons net 10 000 vriende kan kry wat maandeliks die waarde van net twee Coke’s bydra, het ons genoeg om ‘die bloeding te stop’ – in Pretoria én Bloedrivier. Maar ons het nie tien jaar nie, net twee. Ek glo met my hele hart daar is genoeg mense wat bereid is om met R50 per maand ’n erflating vir hul kinders en kleinkinders te bou. Gerard Moerdijk (ook bekend as Moerdyk) het dié monument gebou om ’n duisend jaar te staan. Dis nou eers 71 jaar ná die inwyding op 16 Desember 1949. Ons mense hét die hart om te help en op te bou.”

Die Voortrekkermonument. (Foto: Nico Strydom)

Volgens hom was die monument vir té lank ’n bron van kommer.

“Eintlik staan dit op hierdie heuwel as ’n bron van inspirasie. Dit staan vir ’n ideaal. En daardie ideaal is vryheid. Hoe dié vryheid lyk, kan ’n mens lank oor gesels, maar dit vertel ’n verhaal van gesinne – pa’s en ma’s met klein kindertjies wat op ’n vryheidsreis gegaan het. Agter ’n ideaal aan. Uit daardie ideaal is universiteite, skole, kerke en korporasies gebore.

“Die monument is ’n bron van inspirasie. As daar net een ding is wat ek kan regkry, is dit dat mense dit weer as baken van hoop sien.”

Die terrein is veel meer as net monument. Dis natuurreservaat in die borskas van die stad. Soos longe. Veilige plek om te stap, draf en fiets te ry. Nog planne wat beoog word, sluit in die oprigting van ’n buiteluggimnasium en opknapping van die konferensiegeriewe.

“Hier is ’n pragtige kapel, kantoorruimtes, ’n nismuur en amfiteater. En natuurlik die mooiste uitsig oor die stad se liggies.”

Marmermelodieë

Dr. Danie Langner in sy kantoor by die Voortrekkermonument. (Foto: Dawid Brand)

Herfs is hier, dink ek toe ek deur die Afrikaanse Liedjietuin met sy meer as 200 naamrose stap. Net die Rina Hugo-roos wat helderpienk pronk. ’n Sproeier wat tst-tst-tst spuit-sing: “Sproetjies”, “Sarie Marais”, “Suikerbossie”. “Sewe sakke sout”.

Danie (48) skink koffie terwyl ek deur sy groot kantoorvenster oor die tuinmonument tuur.

“Dis die enigste tuin waar daar ’n Steve Hofmeyr- en Nataniël-roos in een bedding staan,” sê hy laggend hy en raak vinnig weer saaklik.

“Die Liedjietuin is gebore uit die 2012-uitgawe van die FAK-Sangbundel. Ons het besef daar is nie ’n plek van erkenning vir ons Afrikaanse sangers en liedjieskrywers nie. Vandag staan hier 210 rose in al die kleure van die reënboog, marmergedenkplate met die mooiste melodieë.”

Die jongste toevoeging is ’n Afrikaans-roos ter viering van Afrikaans se 90ste verjaarsdag.

“Dis ’n uitbundige roos met sterk wortels wat enige plek kan groei. Skadu én sonlig. Bos én rank. Oranje soos die Afrika-son, die vlam van ons kultuur. Met “Die Stem” se 100ste herdenking het ons die Ons vir jou-roos geskep. Diep oranje, byna roesbruin. ’n Simbool van die ewige gebergtes, die grond waarin ons geanker is.”

Die Afrikaans-roos. (foto: FAK)

Jannie du Toit, wat vanjaar 50 jaar in die musiekbedryf is, en Jan de Wet wat, soos Jannie, 70 jaar oud word, is volgende op die FAK-vereringslys.

“Hierdie tuin vergestalt wie ons is. Soos hierdie óns stukkie van die Afrikaanse bedding is, is daar ook ander Afrikaanse beddings. In Griekwastad, Riemvasmaak, op die Kaapse vlakte. Dit sal egter voorbarig wees om op die Kaapse vlakte te wil skoffel en spit. Dit is nie ons plek nie. Ons plek is hier by die Voortrekkermonument. As Afrikaners. Dis hier waar ons óns deel versorg en vertroetel. Maar altyd met ’n bewustheid dat dit deel is van ’n groter Afrikaanse tuin. En saam vorm dit ’n pragtige lushof van Afrikaans.”

Bediening en barmhartigheid

Danie se wortels lê nog altyd in die Jakarandastad.

“Ek het in die voormalige Verwoerdburg (nou Centurion) grootgeword. Was in Laerskool Doringkloof, gematrikuleer aan die Hoërskool Verwoerdburg. Die terugkeer na Pretoria in 2008, ná wyedraaibedienings in Bloemfontein en Klerksdorp, was vir my soos ’n sirkel wat voltooi is.

“Dit is verskriklik lekker om in dieselfde gemeenskap te kan dien, my kinders groot te maak waar ek grootgeword het. Lyttelton, waar ons nou woon en ek ook deeltyds dominee is, is soos ’n klein dorpie in ’n groot stad. Van die ooms en tannies wat my ouderdom was toe ons hier gewoon het, is nou bejaardes. Ek het al die voorreg gehad om een of twee van hulle se begrafnisdiens te kon lei.”

Ná matriek het Danie teologie aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer. Dis ook op universiteit, by ’n Voortrekkerkamp, waar hy vroulief, Melanie (46), ontmoet het. Dié egpaar is vanjaar 23 jaar getroud.

“Ons het eers op Marquard gewoon waar Melanie onderwyseres was.”

Aanvanklik gemeenteloos, was Melanie die broodwinner. Danie is egter gou beroep en hulle is sak en pak pastorie toe van die NG gemeente Hugenoot in Bloemfontein. Ná drie jaar daar, het Danie-hulle Transvaal toe getrek om vir agt jaar herder van die Klerksdorp-Oos-gemeente te wees.

Die skuif in 2008 na Solidariteit Helpende Hand was vir hom ’n logiese en vervullende loopbaanstap.

“Ek het in my gemeentes, veral in Klerksdorp, baie met swaarkry en armoede te doen gekry. My werk by Helpende Hand was in baie opsigte ’n voortsetting van my bediening – ’n diens van barmhartigheid. Helpende Hand vergestalt vandag nog daardie hartklop: ’n Mens is besig met die Here se werk as jy jou naaste versorg.”

Rigting en roeping

Dr. Danie Langner saam met sy gesin. (Foto: Verskaf)

Danie se ander groot liefde is geskiedenis, vertel dié man wat reeds op dertig ’n doktorsgraad in Kerkgeskiedenis aan Kovsies behaal het. “As ek nie ’n dominee geword het nie, was my groot droom om ’n geskiedenisonderwyser te word. Waar Helpende Hand vir my ’n bediening was, Koninkrykswerk, het ek gevoel ek wil ook ’n ander kant van my menswees, my roeping, uitleef: om die geskiedenis te bevorder.”

Daarom het hy die FAK-fakkel in 2012 met albei hande aangegryp. Onder Danie se leiding as uitvoerende hoof het die FAK van slegs agt vriende in 2012 tot meer as 12 000 vandag gegroei.

“Die FAK het ’n omgewing geskep waar ek met taal, kultuur, erfenis, geskiedenis én geloof kan werk. Dis ’n groot voorreg om in Afrikaanse te mag werk, jou mense se taal en geskiedenis te mág bevorder.

“As ’n mens terugkyk op die FAK se ryk geskiedenis wat van 1929 af strek, is daar bykans nie ’n Afrikaner-kultuurgeskiedenispad waar jy nie die FAK se voetspore sal vind nie. Of dit nou die FAK-sangbundel is, of die totstandkoming van Afrikaanse radio, elke volksfees, die onthulling van monumente. Die FAK se eerste projek was die stigting van die Sentrale Volksmonumentekommissie wat die bou van die Voortrekkermonument aangevuur het.

(Foto: Dawid Brand)

“Die veranderende politieke landskap het ná 1994 tot ’n groot skeuring in die FAK gelei. Ofskoon die organisasie ’n groot platval beleef het, het dit nie soos baie ander getransformeer nie. Die organisasie het dus nie weggestap van sy Afrikanerskap of geloofsgrondslag nie. Onder voorsitterskap van prof. Danie Goosen het die FAK ’n selfdefiniëringsproses ondergaan, om ná ’n dekade van introspeksie doen – en danksy broodnodige stukrag van die Solidariteit Beweging – te kan sê: Ons wíl ’n Afrikanerorganisasie wees; ons ís ’n Christelike, Afrikanerorganisasie; ons kán vir onsself ’n toekoms in hierdie land uitbeitel.

“Ons geskiedenis word weggelaat uit handboeke. Dit is gekriminaliseer en gevandaliseer. Die Afrikaner-verhaal is gereduseer tot apartheid, en die Afrikanervolk gesien as misdadigers teen die mensdom. Dit het ’n byna historiese geheueverlies by ons kinders veroorsaak. Vergeet het gerieflik geword. Daarom doen ons baie moeite om ons geskiedenis, binne konteks, op ’n moderne, dinamiese en eietydse manier vir ’n volgende generasie te ontsluit. Sodat hulle die krag en kapitaal van ons geskiedenis, hul afgetakelde kultuuridentiteit (kan) herontdek.”

Geslagte en geskiedenis

Die Langner-gesin. (Foto: Verskaf)

Danie is besig met ’n tweede doktorsgraad by die Noordwes-Universiteit (NWU), dié keer in geskiedenis.

“My studie handel oor die ontwikkeling van Afrikaner-identiteit in die Voortrekkers. Covid-19 het my laat besef dat ’n mens jou kop ook op ander goed moet sit. Jy moet afstand kry om wyer te kan dink, strategies.”

As daar een kenteken is waarop hy die trotste is, is dit om ’n pa van ses te wees.

“Ons oudste, Anneke (21), is ’n derdejaarstudent in BA-literatuurwetenskap aan die NWU. Daniël en Niël is in matriek, Carike (16) is in graad 11, en dan is daar die tweeling, Duané en Marie (12).

Daar is altyd groot pret in die Langner-huis. (Foto: Verskaf)

“Vandag se kinders dink anders. Hulle besef as ek nie vir myself sorg nie, as ek nie my eie toekoms skep nie, gaan niemand anders dit doen nie. Daar is nie ’n staat of Nasionale Party wat kos op die tafel gaan sit nie. Maar ’n mens sien ook die onstabiliteit in gesinne, die impak van tegnologie op kommunikasie, die politieke realiteit wat baie jongmense se toekoms steel. Kinders kry op baie maniere swaar, maar ons het die geleentheid om die tentpenne van wat werklik belangrik is, behoorlik in te kap.”

Daar beweeg tot 90 kinders per week deur die Langner-huishouding.

“Behalwe ons eie spruite en hul vriende, bied Melanie voltyds wiskundeklasse van die huis af aan. Jy sal maklik oor ’n naweek 12 tot 16 kinders op ’n slag hier aantref.”

Die Langner-gesin om die eetkamertafel. (Foto: Verskaf)

En kosmaak vir dié kommando? wil ek nuuskierig weet.

“Jong, ek het toe ons kinders klein was, ’n ‘swak’ saketransaksie met Melanie aangegaan,” vertel hy laggend. “Sy’t gevra: ‘Wil jy die kinders bad of wil jy kosmaak?’ Ek het kosmaak gekies en nou, jare nadat die kinders self die badbedrywighede hanteer, maak ek steeds kos en is baie lief vir braai. Ek dink dit het iets te doen met die feit dat my ma vir jare sjokoladekoeke vir die tuisnywerheid gebak het. Ek is deur universiteit ‘gebak’!”

Hy lag nóg harder toe ek vra oor al die skottelgoed.

“Daarvoor het ons ’n skottelgoedmasjien. Dís die huweliksberader. Covid-19 het ’n diep dankbaarheid gebring. Of dit nou is om saam in die tuin te werk, te kommunikeer of bordspeletjies te speel. Ek dink ook dit het mense se definisie van rykdom op sy kop gekeer. Vandag is jy ryk as jy ’n werk het – enige werk.”

Vlam vir vorentoe

Die Langner-gesin hou vakansie in Namibië. (Foto: Verskaf)

Pleks van ossewaens inspan, het Danie en sy span in 2013 met die Groot Trek se 175-viering met 4×4’s die pad gevat en op die spore van (Piet) Retief gery – van die Oos-Kaap tot by Bloedrivier. En ’n program van 4 uur vir kykNET oor die Groot Trek verfilm.

“Pleks van net ’n krans op sy graf te sit, het ons ’n De la Rey-konsert met Bok van Blerk gehou om die 100-jarige herdenking van genl. Koos de la Rey se dood te gedenk. Terwyl museums vervalle raak, het ons ’n internetmuseum begin om die geskiedenis na elke huis te neem. Ons dink voortdurend vernuwend: Wat kan ons doen om ons geskiedenis lewenskragtig en dinamies vir ons kinders te vertel?”

Waar die FAK minder as ’n dekade gelede feitlik voos teen die toue was, is die federasie vandag selfstandig en in staat om sy eie bedryfsuitgawes te dra. Luister jy na die tientalle projekte, of blaai jy deur die aanlyntydskrif Flink!, besef ’n mens gou daar’s beslis geen sprake van ’n vlammetjie wat flouer brand nie.

Een van die FAK se vlagskipprojekte is die Nasionale Afrikaanse Ekspo vir alles van skilder tot skryf.

“Die projek het die afgelope paar jaar gegroei van 60 tot meer as 2 000 inskrywings van oor die wêreld heen. Ons is ook ’n vennoot van Sing in Harmonie, die grootste koorkompetisie in die land met meer as 220 kore en 13 000 deelnemers.”

Die Voortrekkers sny reeds vir lank spoor saam met die FAK. Dr. N.J. van der Merwe, stigter van die FAK, was ook die eerste hoofleier van die Voortrekkers. Net so hou Danie vandag die leisels van albei organisasies.

Skepping en sendingveld

Dr. Danie Langner voor die Voortrekkermonument. (Foto: Dawid Brand)

“Toe ek in 2013 hoofleier word, was daar skielik ’n brug tussen die verlede en ’n nuwe generasie Afrikaners. ’n Brug tussen geslagte wat die geskiedenis weer lewend kan maak. Ek is baie lief vir kinders. Hulle bereidheid om te leer, hulle weetgierigheid. Dit gee my soveel toekomshoop. Om kinders weer lief te maak vir wie hulle is, trots te maak oor waar hulle vandaan kom. En om taal en tradisie opnuut vas te messel.

“In die Voortrekkers het ’n mens die geleentheid om so baie ervarings te deel. Ons praat altyd van ‘kan’-kultuur – ’n avontuur in natuur. As jy eers saam met ’n kind om ’n kampvuur kon kuier of ’n staproete afgelê het, het jy ’n ander band. Want jy ervaar die skepping, die Skepper, op ’n ander manier. Dis bediening én sendingveld. Dis seker die grootste jeugbediening in Suid-Afrika met 13 000 jongmense.”

Die klem is veral op diensbaarheid, sê Danie.

“Ons kultuur is gebou op diensbaarheid. Gemeenskappe wat moue opgerol en betrokke geraak het. Om in ’n tyd van selfsug en selfgerigtheid, in ’n tyd waar mense (in huise met hoë mure en hekke) bang en onseker is, vir kinders te kan sê: Hierdie waardes in ons geskiedenis is wat ons nog altyd vorentoe gedra het, wat ons nou weer dra. Daarom kan jy nie vir jouself leef nie, jy moet betrokke raak. Want deur diensbaar te wees, skryf ons ’n nuwe geskiedenis.”

Dr. Danie Langner. (Foto: Dawid Brand)

Die Voortrekkers van vandag is ver verwyder van die dae toe ék as Penkop-kannetjie vir parade en kampe aangetree het.

“Die Voortrekkers het aangepas by die tye. Dis dinamies, lewenskragtig, relevant. Of dit nou motorbootkunde of diepseeduik is, of iets eenvoudigs soos slaap onder die sterre en stokbrood maak. Kinders het ’n behoefte aan avontuur, ín die natuur.”

Terwyl die meeste van ons tydens die inperking pynappelbier gebrou en piesangbrood gebak het, was pen en papier Danie se Covid-19-projek. Hy skink nog koffie en wys die vrug van ure in sy studiehoekie: ’n spoggerige (én lywige) koffietafelboek, Die Voortrekkers hou koers!, oor die 90 jaar-geskiedenis van die Voortrekkers. Meer as 400 bladsye, 800 bronne en 500 foto’s, waarin bestuursnotules en beleidsdokumente verwerk is tot ’n omvattende kultuurverhaal deur droogte en depressie, Covid-19 en aanlynkentekens.

Monument en môre

(Foto: Dawid Brand)

Met die horlosie se kort hand byna op ses, besef ek die monument se swaar houtdeure sluit binnekort, en ek wil nog foto’s neem! Ek en Danie stap deur die bykans toegegroeide voetpaadjies wat die Trekker-roetes aandui, verby drie enorme sonpaneelkonstruksies wat danksy die Dagbreek Trust byna in al die monument se elektrisiteitsbehoeftes voorsien.

Die groot granietkolos is grafstil. Gewyd. Net een gemaskerde gesin wat hulle in die 30 meter hoë Heldesaal aan die 27 panele van die wêreld se langste marmerfries verkyk. Die dag se laaste strale verf amber strepe oor die plek waar Danie ’n paar jaar gelede nog ’n Geloftedagpreek voor duisende mense gelewer het, saam gestaar het na die sonstraal wat oor Pretorius se swaard tot op die senotaaf skuifel.

Hy wys opgewonde die plek waar die Uys/Laas-wa, die enigste ossewa wat by Bloedrivier was wat behoue gebly het, op 7 Mei sy erestaanplek in die Senotaafsaal gaan kry. Die wa, wat sedert 1938 by Laerskool Amersfoort gestaan het, word as die kosbaarste ossewa in Suid-Afrika beskou.

“Al is die monument nou in ’n diep drif, is dié ossewa ’n simbool dat ons die wa (weer) deur die drif kan trek.”

Ons gesels oor God, die gesin, gemeenskap, geskiedenis en taal. Die vyf tande van die vurk waarop hy sy werkhooi balanseer.

“Dié balanseertoertjie is glad nie moeilik nie. Dis opwindend. Want dis die goue draad wat deur elke organisasie vleg waarby ek betrokke is.

“Ek sal graag weer eendag teruggaan bediening toe. Dalk my laaste werkjare heeltyds preek,” vertel hy.

Maar vir nou is hy gelukkig om op verskillende terreine brûe te bou. Kerk en kultuur, taal en tradisie. Want as iemand sê jy kan nie, dit is té groot of té moeilik, skakel Danie dadelik na ’n hoër versnelling oor.

“Daar skop iets binne my in wat sê: Ek kán, ek sal vir jou wys.”

Ons stap verby die drie reuse wat buite op die hoeke wagstaan – Retief, Pretorius en Potgieter. Nee, vier reuse, want op die vierde hoek staan die Onbekende Voortrekker.

“Die Onbekende Voortrekker is meer as ooit ’n spieëlbeeld van ons, die volgende geslag. Interessant genoeg kyk hy uit oor Sol-Tech se splinternuwe kampus, ’n lewende, eietydse monument van R300 miljoen wat met gewone mense se tienrande gebou is. Dit is ook dié deel van die monument wat Sol-Tech ‘gekoop’ het toe die stene van die monument ‘verkoop’ is in ’n poging om hom van ondergang te red en virtueel te herbou.

“Ek het baie hoop vir die toekoms. Want waar God is, is daar altyd hoop,” sê hy toe ons groet.

Ons vir jou, Suid-Afrika! hoor ek duisende in my gedagtes dreunsing terwyl ek vir oulaas die eindelose uitsig oor Pretoria in my gedagtes probeer vaspen. Dié vakansie bring ek die kinders, neem ek myself voor. Monument toe, maar bowenal om Danie te ontmoet. Want toekomsbouers is yl gesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefan

Ek hoop regtig nie so nie, maar ek is bevrees hierdie Voortrekker monument gaan ook nog in een of ander protesoptrede verwoes word.
Die basis nog die enige ding wat stewig ooreind staan in die nuwe suid afrika.

Piet Snot

Mooi storie oor ‘n pragtige gesin.
Doe zo voort!

Monique

Mooi storie oor ‘n gesin wat baie doen vir Afrikaans en ons erfenis!

Nico

Die gelofte wat Sarel Celliers tydens die Slag van Bloedrivier afgelê het, het verwys na ‘n huis (kerk) nie ‘n Vrymesselaars Tempel nie. Van die goed wat deel was van Zulu moorde op die Voortrekkers is verwyder en toegesluit.

Astrain

Hoe kan ons van daardie rose koop VTM, maak dit asb n insamelings inisiatief!