‘Dank Mkhwebane af’, eis Cope

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. Foto: ANA

Cope het Sondag óók ʼn beroep op die parlement gedoen om die “onbevoegde” openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, af te dank.

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, het gesê die party is geskok deur die “blatante disrespek” wat Mkhwebane toon in die bekendstelling van haar omstrede verslae wat “bedoel is om die president (Cyril Ramaphosa) se aandag af te lei terwyl hy sy kabinet saamstel”.

“Ons bespeur ʼn neiging om faksies op die spits te dryf by adv. Mkhwebane en sy is onbevoeg om die publiek op ʼn eerlike en nugter manier te beskerm. Ons doen ʼn beroep op die parlement om dié onbevoegde openbare beskermer uit haar pos te verwyder,” het Bloem gesê.

Die regsorganisasie Freedom Under Law (FUL) het gister Mkhwebane se bevindings teen die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, bestempel as die opdis van gediskrediteerde klagte teen hom. Die klagte teen Gordhan is tydens pres. Jacob Zuma se bewind aanhangig gemaak, maar later laat vaar.

Maroela Media het vroeër berig FUL het gesê hy is “ontsteld, maar nie verras nie” deur die OB se jongste bevindings.

“Dié poging om ʼn koue gereg weer warm te maak en aan die publiek te probeer opdis as bewyse van verkeerde optrede is kommerwekkend. Maar dat die OB haar verslag uitgereik het skaars twee dae nadat sy reaksie van die betrokke party gekry het – en dus versuim het om behoorlik na die terugvoer te kyk – maak ʼn bespotting van selfs die mees basiese beginsels van geregtigheid,” het Nicole Fritz, uitvoerende hoof van FUL, gesê.

Mkhwebane het bevind dat Gordhan se goedkeuring van die oudhoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens Ivan Pillay, en sy heraanstelling op ʼn kontrakbasis, neerkom op wanbestuur. Sy het aanbeveel dat Ramaphosa tugstappe teen Gordhan doen.

Die verslag oor Gordhan is uitgereik kort nadat nog een van haar verslae in die hof ongrondwetlik en ongeldig verklaar is.

Die DA het ook die afgelope week aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, geskryf en gevra dat die parlement begin met die proses om Mkhwebane uit haar pos te verwyder.

Die party se versoek het kort op die hakke van die hofuitspraak oor die omstrede Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat gevolg.

“Dit is maar een voorbeeld van ʼn lys waar Mkhwebane as openbare beskermer gefaal het. Sy het gespring om oudpres. Jacob Zuma te verdedig deur strafregtelike klagte teen die voormalige OB, Thuli Madonsela, aanhangig te maak omdat sy die transkripsie van haar onderhoud met hom bekend gemaak het,” het John Steenhuisen, die DA se hoofsweep, gesê.

Volgens hom het Mkhwebane al voorheen erken dat sy haar mandaat oorskry het deur voor te stel dat die Grondwet oor die mandaat van die Suid-Afrikaanse Reserwebank gewysig moet word. Sy het ook eers met Zuma se regspan vergader en verdere aanbevelings bespreek wat nié in haar aanvanklike verslag oor die Absa/Bankorp-reddingsboei was nie, het hy gesê.

Mkhwebane het oor die afgelope drie jaar die integriteit van die kantoor van die openbare beskermer in die gedrang gebring deur ʼn “gebrekkige begrip van wetgewing en haar eie magte”, het die DA gesê. Volgens die party laat haar optrede ook vrae ontstaan oor die onafhanklikheid van die OB se kantoor.

“Die OB se kantoor strompel van die een flater na die volgende, maar die publiek het nou ook vertroue verloor in haar vermoë om behoorlik en regverdig na hul belange om te sien, en om dié redes moet sy verwyder word,” het Steenhuisen gesê.

Ingevolge art. 194(1) van die Grondwet mag die OB uit haar pos verwyder word nadat ʼn komitee van die nasionale vergadering – en die daaropvolgende aanvaarding van ʼn mosie deur twee derdes van LP’s – haar skuldig bevind aan “wangedrag, onbekwaamheid of onbevoegdheid”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Alida ·

Sy moes nooit eers op daai stoel gaan sit het nie. Zuma aanstelling.

PJC ·

Ja Alida sy is maar net die handperdjie van JZ en sy korrupte kaders.

Dries du Toit ·

Tweederde van die parlement m.a.w. al die ANC parlementslede plus nog van die ander partye se lede. Gesien dat die meerderheid ANC lede geweet het Zuma moes weg het hulle saamgestaan en geen mosie van wantroue kon slaag nie. Wat is die kanse nou om van daai onbevoegde vrou ontslae te raak ???

Roberto Betta ·

A criminal appointee is all she is, together with a bunch of others.

Dries du Toit ·

Dit is eintlik so verregaande om te dink dat kriminele sit in die hoogste posisies , waar hulle veronderstel moet wees om die land te vrywaar van kriminele soos hulself. Dan is daar nog mense wat ons verguis omdat ons hulle vervloek

Eddie ·

Net nog ‘n resultaat van Kaderontplooiing ! Zumpie het sy sake ver vooruit beplan !
Die beste strateeg wat Afrika nog ooit opgelewer het !

Gert van Wierdapark ·

OB se verf is op nadat sy haarself met finale Gordan-hale in haar eie hoek vasgeverf het! Stroop haar tog gouer as later van haar pligte en pos haar sommer Nkandla toe!

kolla ·

Ons wag in spanning vir die selfaangestelde nuwe sheriff (VF+) om iets te sê…. Of stel hulle net belang oor aangeleenthede wat die Afrikaner raak?

Boerin ·

Mooi gese Henry !
Raak ontslae van haar,ons is moeg vir onbevoegdheid en als wat saam dit kom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.