De Aar-hospitaal maande sonder warm water, lugversorger

Argieffoto. (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Die staatshospitaal in De Aar is al amper ‘n jaar sonder warm water en dokters is genoodsaak om voor operasies en geboortes met koue water te skrop. Dit boonop midde in die Covid-19-pandemie waar mense voortdurend gemaan word om hul hande met seep en warm water te was. Die regering se verweer is nou dat die begroting vir die provinsiale departement van openbare werke uitgeput is.

“Woensdagoggend was die temperatuur minus 3 ̊ C en pasiënte moes in koue water gewas word,” sê Gerhard Engelbrecht, die voorsitter van die dorp se belastingbetalersvereniging. “Ek kan nie glo dat ʼn hospitaal sonder warm water kan funksioneer nie.”

Een van die min privaat dokters wat steeds in De Aar se staatshospitaal werk, dr. Niekie van Aswegen, het die premier van die Noord-Kaap, dr. Zemani Saul, reeds in Junie per brief oor die probleme ingelig, maar niks is aan die bedenklike situasie gedoen nie.

“Warm water is ʼn basiese noodsaaklikheid tydens ʼn geboorte. ʼn Mens kan ook nie behoorlik met koue water skrop nie, want die seep het warm water nodig om te werk,” lui die brief wat Maroela Media onder oë gehad het. “Dit hou ʼn groot risiko in vir septiese wonde en die aanspreeklikheid van die hospitaal.”

Argieffoto. (Foto: JC Gellidon/Unsplash)

Die risiko vir infeksie word verder verhoog omdat die teater se deure glo nie kan toemaak nie. Boonop is die lugreëling sedert verlede jaar buite werking, wat dit ook uiters gevaarlik maak om narkose toe te dien wanneer ʼn pasiënt hipotermies is, aldus dr. Van Aswegen se brief.

Die apparaat wat gebruik word om die teater te sterliseer werk glo ook net af en toe en dit neem elke keer twee weke om dit te herstel. Die toerusting moet dan 140 kilometer ver teen astronomiese koste na die Colesberg-hospitaal vervoer word om dit daar te steriliseer.

Van Aswegen was nie vir kommentaar beskikbaar nie en die senior suster in beheer van die hospitaal, Maureen Oliphant, wou geen besonderhede oor die warmwaterprobleem óf die instandhoudingskontrakteur verskaf nie.

Openbare werke se woordvoerder, Crystal Robertson, het by navraag gesê die betrokke kontrakteur word deur die onafhanklike ontwikkelingstrust (OOT) aangestel.

Die OOT is die staatsonderneming wat namens die regering verantwoordelik is vir die implementering en aflewering van kritiek noodsaaklike maatskaplike infrastruktuurprogramme.

Die OOT se woordvoerder, Pasha Makgolane, het Donderdag geantwoord dat hulle sedert Januarie 2020 van die probleem bewus is, maar dat herstelwerk nie gedoen kon word nie omdat die departement van openbare werke in die Noord Kaap se begroting vir instandhouding uitgeput is.

“Die elemente wat die water moet verwarm brand glo uit omdat daar baie onsuiwerhede in die boorgatwater is wat verwarm moet word.” Hy het gesê die OOT is tans besig met die toekenning van ‘n tender om die watersuiweringsaanleg te vervang wat die probleem sal oplos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kokerboom ·

Dr Mkhize jou adjudante in provinsies doen al vir jare nie hul werk. Weet u wat aangaan of is sog Covid pandemie ‘n gerieflike verskoning. Doen julle werk Dr of vat die pad!!

Johanncb ·

Hulle is sedert Januarie 2020 van die probleem bewus, maar die begroting is uitgeput! Sluit dit hierdie jaar se begroting in Dr? Ons is reeds in Augustus!

Hennie ·

Lieflike ANC sorg en bystand! Die oorwegend swart mense wat die regering opmaak sien absoluut niks fout met hierdie toedrag van sake nie, wat die kans dat dié parasietagtige rowers daar sal gaan lê is minder as niks!

Santie ·

My. Man het verlede jaar JUlLIE 2019 in daai nuwe De Aar hospitaal gele en toe was daar alreeds nie warm water in die hospitaal nie. Hulle het vir hom n skotteltjie water gegee om hom te was. Ek moes vir hom beddegoed van die huis af vat want die bedegoed het ene urine gestink. Ek wat nie eers by die bed gesit het nie het die urine ruik gekry. Hulle moes iewers vir hom n glas gaan soek om bietjie water te drink. Hy het nie geeet nie die kos was afstootlik. (bietjie spaghetti bolonais met 2 snye droe bruin brood) Hy moes vra vir n bietjie koffie. Ons moes vir hom kos vat asook n flas warm koffie . Nuwe matrasse het in die vuurkante gele vol duiwe mus. En dit is De Aar se nuut geboude Hospitaal. En die mediese fonds moet maar betaal.

Pieter ·

Maar daar is fondse beskikbaar vir openbare werke om Covid-19 se las te verlig, soos Antie Pat se wasgoedlyn van R37 miljoen langs die Limpopo. Wys net hoe die kaders werk. Seker niks om te skep op De Aar nie. Ek slaan my oë op na die berge, vanwaar sal my hulp vandaankom…

Johann ·

Wag vir n tender?????? Maw wag om te vat en gryp en gewetenloos toe te kyk hoe hulle “people” doodgaan? Maar hey…as dit by stem kom dan praat n T shirt en n kospakkie en n 350 harder as logika!

Andre ·

En die antie van die “WHO” was so tevede met die manier wat SA die pandemie hanteer! Hulle het eienaardige standaarde.

Sarel ·

Kla die Hodpitaal Bestuur aan. Waar is die MRK wanneer jy hulle nodig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.