De Jager weer president van Wêreldlandbou-organisasie

Dr. Theo de Jager

Dr. Theo de Jager, Saai se uitvoerende direksievoorsitter, is herkies tot president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO).

Hy is Dinsdag in Luxemburg herkies. De Jager was in 2017 die eerste Suid-Afrikaner wat as president van die WLO verkies is en dit is die eerste keer in die organisasie se geskiedenis dat ’n president van dié organisasie vir ’n tweede keer dien en ook eenparig herkies word.

De Jager is benoem deur Zimbabwe se Commercial Farmers Union (CFU), waarvan hy ook ’n erelid is. Die WLO bestaan uit ’n aantal landbou-organisasies asook landbouvennootskappe en verteenwoordig ongeveer 1,5 miljard boere van 54 lande reg oor die wêreld. Die WLO verteenwoordig ook die landbougemeenskap by die Verenigde Nasies (VN) en sy inisiatiewe.

Sok Sotha van Cambodja, Arnold Puesh d’Alisac van Frankryk, Dave Velde van VSA, dr. Theo de Jager, Katy Milne van Nieu-Seeland, Ezzar Abdelmajid van Tunisië, en Arianna Giuliodori, Sekretaris Generaal van WFO in Rome

De Jager het sedert 2017 internasionale steun veel wyer as vanuit die landbougemeenskap vir ’n boergedrewe agenda vir klimaatsverandering gewerf, wat veral by die VN en sy agentskappe groot byval gevind het.

Hy is vasberade om verder aan dié agenda te werk om namens boere ’n globale burgerlike voorstel aan die VN te maak. Ná verskeie vergaderings met die Europese Unie en Russiese landbou-unies, en teen die agtergrond van toenemende handelspanning, beskou hy die beskerming van boere se toegang tot markte, veral in bederfbare voedselprodukte, as ’n prioriteit vir sy tweede termyn.

De Jager glo die digitalisering van landbou hou groot geleenthede vir Afrika in, en hy is ’n prominente kampvegter vir die modernisering, meganisering en kommersialisering van kleinskaalse landbou deur vennootskapsmodelle in kommunale Afrika.

“Dr. De Jager is ’n uiters gerespekteerde landbouleier en word reg oor die wêreld baie hoog geag veral vir sy leierskap, kundigheid en versiendheid. Suid-Afrika is geseënd om ’n leier van sy kaliber in ons midde te hê. Sy agting onder wêreldleiers, en nie net in die landbou nie, word oral gesien, erken en waardeer,” sê Leon Borcherds, direkteur van Saai, ná die aankondiging.

Dr. Theo de Jager

“Saai wens dr. De Jager hartlik geluk met sy herverkiesing. Gedurende sy eerste termyn as president van die WLO het hy verskeie landboustrukture reg oor die wêreld besoek en kon hy eerstehands sien hoe strukture elders werk, asook wat die effektiefste en volhoubaarste model vir die organisering in landbou is.

“Saai is die produk hiervan. As medestigterslid het dr. De Jager Saai as belangenetwerk geskoei op ’n nasionale eenheidstruktuur wat gebruik maak van digitale tegnologie en netwerkooreenkomste om familieboere se belange te dien,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

De Jager is ’n voormalige president van Agri Limpopo, die Pan African Farmers Organisation (Pafo) en die Southern African Confederation of Agricultural Unions (Sacau) en voormalige visepresident van Agri SA. Hy dien ook tans as voorsitter van Agri All Africa, die organisasie wat Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese boere se belange in Afrika beskerm en bevorder.

Phil-Philo Abessolo Ndong van Sentraal Afrika, dr. Theo de Jager en Ezzar Abdelmajid van Noord Afrika.

AfriForum het De Jager intussen gelukgewens met sy herverkiesing. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het De Jager se herverkiesing verwelkom en hom sterkte met sy termyn toegewens.

“Ons is baie positief hieroor en is van mening dat dr. De Jager se herverkiesing hom ’n groter internasionale platform sal gee van waar hy standpunt namens familieboere kan inneem.

“AfriForum is ook van mening dat dr. De Jager se posisie hom geleentheid vir internasionale skakeling bied waar hy met belangrike rolspelers kan praat en Suid-Afrikaanse kwessies soos plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding onder hul aandag kan bring,” sê Kriel.

AfriForum en Saai werk saam om kwessies van gemeenskaplike belang – soos onder meer plaasveiligheid en teenstand teen onteiening sonder vergoeding – aan te pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ellisras ·

Ek ken vir Theo persoonlik. Sy ja is sy ja en sy nee is nee. Theo is ‘n man uit een stuk. Hy is ‘n ware ambasadeur vir die Landbou.

Andrea van Vuren ·

Ek sien weer lig in die tonnel! Die stigting van Saai is ‘n briljante plan. Sterkte dr. de Jager.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.