De Ruyter se dae dalk getel

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. (Argieffoto)

Sou André de Ruyter die energiekenner Tshepo Kgadima om raad nader, sou Kgadima hom aanbeveel om “in sy swaard te val” en sy bedanking as uitvoerende hoof van Eskom in te dien.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, glo egter dit sal ’n “historiese fout” wees, sou De Ruyter as uitvoerende hoof van Eskom vervang word. “Dit sal beurtkrag vererger en die stabiliteit van die kragnetwerk in gevaar plaas,” sê hy.

Kgadima het Woensdag in soveel woorde aan Maroela Media gesê dat De Ruyter se dae moontlik getel is te midde van die land se voortslepende kragkrisis.

“Enige raad wat sy sout werd is, sal voel hulle het geen ander keuse as hom van sy pligte te onthef en af te dank nie.”

Dié gewaagde stelling volg nadat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Dinsdag te midde van die verdieping van Eskom se kragkrisis die afgelope paar weke met Eskom se raad oor die hersiening en herstrukturering van die raad vergader het.

Die huidige raad word deur prof. Malegapuru Makgoba as voorsitter gelei, en bestaan onder andere uit De Ruyter sowel as Jan Oberholzer, bedryfshoof, en Calib Cassim, finansiële hoof. Die betrokke raadslede se termyn het egter reeds in 2021 geëindig.

Kgadima voel dat De Ruyter sedert sy aanstelling in 2020 nie in die beste belang van Eskom opgetree het nie.

“Nie net het meneer André de Ruyter in sy pos as hoof‑ uitvoerende beampte misluk nie, maar het hy ook vertrouenspligte versuim deur die belange van buitestanders soos onafhanklike steenkoolprodusente te bevorder.”

Ook Ted Blom, Suid-Afrikaanse energiekenner, sê hy “hoop” De Ruyter kry die trekpas. “Hy het geen impak gemaak om ouer toerusting te herstel nie terwyl hy boonop die begroting vir instandhouding gesny het.”

Hermann sê weer die teenoorgestelde moet eerder gebeur.

“Maak De Ruyter vry. Gee hom die magte van ’n sakeredder sodat hy, vry van die aandeelhouer, kan doen wat hy moet om Eskom om te keer… Gee De Ruyter die vryheid om kundigheid in te bring sonder om hul ras te beoordeel. Verwyder alle struikelblokke wat in die pad van private kragopwekkers staan om krag op te wek.”

Raadskommeling lankal te wagte

André de Ruyter, hoof van Eskom. (Foto: ANA)

Blom en Kgadima sê albei ’n raadskommeling moes al lankal gebeur het.

“Enigiemand kon ná die eerste jaar sien dat daardie raad nie reg funksioneer nie,” sê Blom. Hy glo die regte raad sal binne 90 dae ’n einde aan beurtkrag kan bring indien die regte mense met die regte kontakte aangestel word.

Kgadima sê dit gaan afhang van die aanstellingskriteria voordat daar met sekerheid gesê kan word dat ’n nuwe raad die huidige kragkrisis gaan kan pak.

“Minister Gordhan is nie deursigtig oor die kriteria nie. Gaan die nuwe raad op politieke gronde aangestel word, of gaan dit ’n raad wees wat op grond van meriete aangestel is en niks anders nie?

“Meriete sal insluit kundigheid, kennis en ervaring om op direksies te sit van maatskappye wat in finansiële nood verkeer. Dit is geen geheim dat Eskom in diepe finansiële nood verkeer en dringende herstrukturering van sy operasionele bestuur vereis nie.”

Hermann sê ’n sterk raad is goed “maar dit is nie waar die antwoord nou lê nie. Die antwoord lê eerder by minder ingryping van die regering se kant af. Die kernprobleem by Eskom is juis die politieke stroop waardeur De Ruyter en kie moet swem.

“Die politici en staatsrompslomp sit ons ligte af.”

Blom stem in ’n mate hiermee saam. Hy vestig die aandag daarop dat die struktuur van Eskom se raad heeltemal anders gelyk het toe Eskom in 2001 die gesogte Global Power Company of the Year-toekenning gewen het.

“Die vorige raad het nie uit politieke aanstellings bestaan nie, maar belanghebbendes uit nywerheid‑ en arbeidsektore, sowel as lede van die algemene publiek. Die meeste raadslede was destyds verbonde aan die nywerheidsektor want dit was in hul belang om die land se elektrisiteitsaanbod so stabiel moontlik te hou.”

Blom sê nou daar moes in die eerste plek nooit aan die struktuur van die raad verander gewees het nie.

Gordhan sal waarskynlik binne die volgende paar dae ʼn aankondiging met betrekking tot Eskom se raad maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

86 Kommentare

Porseleintjie ·

Sodat korrupsie verder kan seëvier. Ongehinderd kan voortgaan??

E ·

Dit sou die korrupte regering se doel van dag een af gewees het.

SjN ·

Johan, die klomp kaders werk met n plan en ons word om die bos gelei, dit val mos in hul kraal om die skuld te pak op de Ruyter en Oberholzer, kragvoorsiening gaan aan huidige politici en hul nabye familie toegeken word, mark my words!!

Nie Verbaas ·

Ek stem. As jy weet wat kom, stel iemand aan wat jy onder die bus kan gooi. Niemand sal Eskom regkry terwyl die staat inmeng nie.

groenboer ·

Ja, kom ons vervang die jokkie op die dooie perd. Dit sal die ding beslis vinniger laat hardloop…

Groen Ghoen ·

10/10 Vir jou, die hele gemors raak opgesom in twee sinne.

Delia ·

Jip Hans, wakker net vrees, onsekerheid aan. Ons het dit juis NIE nodig

Pannies ·

En wat maak nou die twee sg energiekenners experts in korporatiewe bestuur?
Hulle soek seker net de Ruyter se pos.

Jack ·

Ja die kaders se sindikate in Eskom sukkel met De Ruyter daar.So die aanbeveling sal verseker wees dat hy vervang moet word met ‘n meer “goedgesinde” kader al is die ook heeltemal onbevoeg.Meriete het nog nooit vir kaders saak gemaak nie.

Nie Verbaas ·

Ek stem saam. Die sindikate in Eskom se vlerkies word geknip deur de Ruyter dus kry hy nie die samewerking wat nodig is om Eskom te bedryf nie. Vervang hom met n kader en die probleme gaan definitief met tyd vererger.

Hans ·

Wat kan ‘n oud hoofuitvoerende Boks, oud apteker, oud onderwyser, oud prokureur en vakbondleier/boer doen om krag beter te bestuur? Kry ervare ingeneurs daar om Eskom tegnies te bestuur.

Snowball ·

Ou Gwede ‘The Incomprehensible’ moes eerste die trekpas gekry het. Daai is die groot doring in die vlees. So bly sy eie soort jaag hom al weg as hy sy spoegparades wil begin.

Leon ·

Goeie nuus. Dit het hom 4 jaar geneem om te besef dat beurtkrag nie met “n towerstaf” opgelos kan word nie. Laas week was dit volgens hom amper opgelos met aankoop van krag. n “hansie my kneg” wat buig voor ander maar nogtans bereid om n salaris van R7.4 miljoen elke jaar te ontvang.

Flip ·

Die verkiesing kom nader so die anc moet planne maak om stemme te werf…….

Keelvol ·

Goed so. De ruyter bring dit op homself. Ons gaan die heeltyd gebuk onder n fase 3 & 4 beurt krag. Nou het hy die vermetelheid om n 32% verhoging te vra. En die kamstige diesel te kort? De ruyter is besig om speletjies te speel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar is twee issues: die krag bedryf en Eskom. Niemand verstaan die bedryf nie, en ‘n mank Eskom moet binne die onbekende bedryf funksioneer. Dus, verkeerde diagnose, verkeerde behandeling.

Aikie ·

Dit maak nie saak wie hulle in daardie pos indruk nie, nie een van die “voorgestelde” CEOs het ‘n towerstaffie om’ n verrotte vloot kragopwekkers reg te toor nie.
Dit neem bitter lank van die beplanning stadium van ‘n krag sentrale tot die eerste volt produseer word en onse ANC het in hulle 30 jaar nie een plannetjie van stapel gestuur nie.
Die twee sentrales wat die wa deur die drif moes trek se beplanning kom nog van voor 94 af en hulle is al klaar vrot.
Gee vir Andre de Ruyter die towerstaffie van ‘n sake redder om die sake by Eskom reg te ruk en vergeet van iemand anders.

MakersMark ·

Die towerstaf sal binne 2 weke gebreek wees. Dan sal daar 10 verskonings voor wees.

Ronél ·

Kaders wat in die vettigheid van ESKOM deel, waar niemand ‘n gewete of integriteit het nie.

Nie Verbaas ·

Ted Blom hoekom bied jy nie jou dienste aan nie? Kom ons kyk hoe vaar jy in die sindikaat gelaaide omgewing. Om van die kantlyn af te kritiseer is die maklikste taak in die wêreld.

Keelvol ·

Die vraag is wat het de ruyter nou eintlik vermag in 3 jaar? Hoeveel besighede moet hulle deure toemaak voordat julle almal tot beter insigte kom? Moet die ekonomie in duie stort voordat de ruyter iets aan die probleem gaan begin te doen. Moet daar n opstand kom? Want huidiglik is dit op die horison. Maar dit pla niemand nie Solank de ruyter net nie weg gejaag word nie.

n Goeie leier (ceo) sal eskom kan reg ruk. Al moet hy koppe met die regering stamp. Dis wat ons soek in de ruyter.

Luister ·

Johan, dit is juis wat de Ruyter probeer doen. Hoekom dink jy wil hulle hom daaruit hê? As hy harder koppe gestamp het, sou hy vinniger uit gewees het. Hy het darem Eskom se skuld effens verminder.

Nie Verbaas ·

Makliker gesê as gedaan. Enige persoon wat nie na die pype van regering dans nie sal van ontslae geraak word. So waarmee gaan jy sit? Net weereens n disfunksionele Eskom.

SjN ·

Ted sal ook vinnig uitgewerk word dmv die raskaart, kaders hou nie van teenkanting en dissipline nie, korrupsie kan dan nie voortgaan nie!

Nie Verbaas ·

Korrek, vandaar my kommentaar dat hy sy dienste moet aanbied. Hy gaan homself in n ANC muur vasloop. De Ruyter is nie die probleem nie.

Anel ·

Dit was die plan van die begin af. Die sabotasie is beplan. Eenhede is mos nie veronderstel om te breek sodra dit gediens is nie, en nie net een keer nie, maar paar keer na mekaar!!! So, mens kan nie de Ruyter die skuld gee nie. Hy het die probleem begin aanspreek en dit is waar die probleem begin het vir die anc. En dan gaan ons, as verbruikers weer die spit moet afbyt. Sê maar ons in “kamptige gegoede buurtes”. Soweto en kie, betasl niks en kry nie eens beurtkrag nie. So ja. Verder kan mens niks sê nie.

Manie ·

Jy kan die beste raadslede aanstel, maar as die politici ‘n verskuilde agenda het, sal almal misluk.

duiweboer ·

Eskom is lankal kappoet. Nou met André weg gaan dit nag wees

Stefani ·

Mnr De Ruyter en sy Raad het nie die gemors veroorsaak nie. Die teendeel is waar. Die probleme het in 1984 begin toe inwoners van sekere gebiede deur raadslede aangese is om nie hulle munisipale rekenings te vereffen nie. ?????

Manie ·

Baie waar, die einste nimlike ANC het mense aangepor om burgerlike ongehoorsaamheid en nooit kon dink dat hulle self eendag met die gebakte pere gaan sit nie.

Keelvol ·

Maar wat doen hy om dit reg te stel? Na amper 3 jaar I’m die pos, Medupi en kusile nog steeds nie klaar nie? Is al so moeg om verskonings te hoor.

Luister ·

Johan, dink jy de Ruyter moet in 3 jaar regstel wat al jare afgetakel is. Medupi en Kusile is nie onder sy leierskap begin nie en daar is vervaardigingfoute in die ketels. Hy moet maar werk met onvolledige ketels wat miljoene gekos het en nie vervang kan word met ‘n “towerstaffie” nie. Daar is sekere dinge wat hy net eenvoudig nie mag doen soos ‘n gewone CEO nie, soos byvoorbeeld onbevoegde mense afdank.

Wondermaarnet ·

Dit maak nie saak wie die CEO is of word nie. Solank die ANC die kitaar tokkel en inmeng by eskom, gaan dit net erger raak.

Kokerboom ·

Dis ‘n wonder hy hou so lank uit. Solidariteit en Blom is reg

T-Man ·

Solank as was politiek deel het van Eskom se besluite so lank gaan ons sit met die probleem… en verduidelik gou hoekom is dit de Ruyter se werk om onafhanklike buitestaande koolstofprodusente se belange te bevorder…? Oh ja korrupsie…. Met denke soos ons politisie is ons werklik verdoem. Dit is wat gebeur as die dwaas begin regeer…0

Andries ·

Vervang hom en kry klaar. Ons het nog nie gevoel hoe fase 8 beurtkrag ons gaan beinvloed nie. Dan vervang julle die volgende ou ook en so gaan dit aan en op die ou einde is dit net ‘n bakleiery daar bo en op die grond gebeur niks en ons sit sonder krag. Die hoë bome se wind het te veel stof in want julle sien nie wat julle aan ons gewone mense doen nie.

PieterJ ·

Onthou dat de Ruiter net kan doen wat anc hom toelaat om te doen, dis nie asof hy enige finale sê het wat in eskom aangaan nie.

Manie ·

Korrek Pieter. Indien hulle wil skoonmaak, moet hulle van bo-af ondertoe skoonmaak, begin dus by Gordhan.

Daizee ·

As ek dié man was het ek lankal bedank! Die prys wat die man betaal met sy gesondheid en die vrede en veiligheid van sy gesin kan nóóít opweeg teen wat hy probeer regmaak nie!!!

Leana ·

nou ja laat die een wat dink hy kan die werk beter doen aanmeld en dan kan ons verseker wees die krag sal nie weer aankom nie. daar is net geen besef dat die probleme kom van jare voor dit wat niks omgegee was vir instandhouding nie..

Keelvol ·

So, ons moet maar net te vrede wees met iemand wat te ruggraatloos is.

Kobus ·

Sal natuurlik deur ‘n politieke aanstelling vervang word. Dan sal al die verdere mislukkings van Eskom toegeskryf aan de Ruyter se tydperk as uitvoerende beampte. Gordhan en Matashe en Rampposa is onskuldig. Rampposa was mos die “War room” bevelvoerder in Zuma se tyd. Wat het hy uitgerig? Dalk moet Ted Blom aanbied om die pos te vat. Andre en Jan kan maklik in enige organisasie instap. Hulle het nie hierdie twak nodig nie. Verstaan nie waarom hulle nog vasbyt nie

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Laat die ANC Eskom alleen bedryf. Daardeur sal die ANC homself met die Esdom -galgtou ophang.

PieterJ ·

Nee, hulle gaan net so 59.9miljoen ophang, die ander “connected” 0.1miljoen sal OK wees, net soos in die res van Afrika.

Maritza ·

Gaan dit help om de Ruiter in die pad te steek? Geensins. Die ANC soek nou net iemand om te blameer omdat hulle die oorsaak was dat dinge is soos wat dit is

SjN ·

Kobus, ja its pay back time maar hier is klaar klomp kader familie verbintenisse opgelyn.

Andre ·

Raak ontslae van Rampokker,Mantashe,Ghordan ag sommer die hele klomp parliment vol skelms!

Sonblom ·

Ek stem saam met Hermann. Maak De Ruyter vry sodat hy Eskom ordentlik kan bestuur. Die man kan dit nie doen met die ANC regering se vet vingers in die Eskom pastei nie. Maar hulle wil van hom ontslae raak omdat hy reg uit sê daar is te veel korrupsie en diefstal.

Martie Smartie ·

GORDHAN is die groot probleem. Onder hom vou die een na die ander staatsmaatskappy

SjN ·

Stel vir Cyril aan, hy knip sy funeral kort en kom steek n kers aan, problem solved!!

Leon ·

Ek is seker daar is ‘n spul goed wat de Ruyter nie vertel nie. Ek wonder of hy wel die sluier sal lig wanneer hy eendag weg is by Eskom. Dalk ook ‘n boek skryf.

Antie Sarie ·

Hy moet versigtig wee. Marike het ook begin om n boek te skryf.

MakersMark ·

Maklik om die huidige opwekkings bates af te skryf as “oud”. Dan die wêreld vol te reis op soek na “groen en hernubare” energie wat biljoene Rande gaan kos en nie binne die kort termyn op lyn gebring kan word nie. Waar gaan die krag voorsiening die vgende 5 jaar vandaan kom ? Die opwekkings bates moet onderhou word en aanhou krag opwek. Wat anders? Ted Blom is reg.

Moedeloos ·

Gaan lees De Ruyter se kommentaar vroeër die week. Daarin word duidelik melding gemaak van struikelblokke wat hy met die finale besluitnemers (regering) het. Steenkool is ook verouderde manier maar die regering wil dit gebruik om hul maaitjies te beskerm en te verryk. Instandhouding word nie goedgekeur nie. Daar gebeur baie dinge agter die ystergordyn waarvan ons nie bewus is nie en die arme man kry die skuld omdat hy nie wil ingee of saamspeel nie.

Alex ·

De Reyter beklei met n donderstorm. Daar is die wat wil hê hy moet gaan. Niks anders as n politieke spel. Die volgende persoon gaan nie veel beter daartoe uitsien nie.

Melinda ·

Onthou liewe mensies, Biden het die tjinki vir Ramapokker belowe vir groen energie om van kool weg te beweeg ; netzero doelwit WEF.

Hennie Biebouw ·

Watookal by ESKOM gebeur, sal bloot neerkom op die herrangskikking van die dekstoele op die Titanic. Daar is géén politieke wil by ESKOM se hoofaandeelhouer om die Zuma kanker uit te roei nie.

Antie Sarie ·

Hulle kan ook nie krediet kry vir alles wat fout gaan nie.

Dr Pieter ·

De Ruyter se “bedanking” sal die een persoon (of een van baie min) wat nog ‘n totale ineenstorting van Eskom keer, van die toneel verwyder. Saam met Pravin Gordhan is daar nog ‘n sprankie hoop vir oplossings, maar as hulle in die proses opgeoffer word, lê ‘n baie duistere toekoms en wag.
Ek glo Hermann se raad dat De Ruyter groter magte kry en die rol van ‘n sakeredder inneem sal ‘n groot stap vorentoe wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

Net nie Gordhan nie. Een van die swakste ministers ooit.

skurweberg ·

Om `n gans wat goue eiers lê keel af te sny sal dom wees.

Delia ·

Ingewortelde korrupsie en sabotasie stop jy nie sommer. Kragnetwerke word dalk doelbewus gesaboteer om bestuur sleg te laat lyk.

Delia ·

Vreemd, net nadat Malema sy ultimatum gestel het oor de Ruyter en Oberholzer, begin die berigte/gerugte kop uit steek.
Watter houvas het Malema op die politici dat almal spring as hy praat???

Jaco ·

As De Ruyter regtig in beheer van eskom was:
1. Waarom word die derduisende onwettige kragverbindings dan nie summier afgesny nie?
2. Waarom word elektrisiteit toenemend met duur ingevoerde diesel opgewek en nie met goedkoop plaaslike steenkool nie?

Johan D ·

Doen meer navorsing en jy sal presies weet hoe die vurk in die hef steek!

JM ·

Laat die klomp slimjanne Eskom gaan bestuur en sorg dat die krag aanbly. Hulle is te onnosel en stiksienig om die werklike oorsaak van Eskom se probleme in te sien en te erken. André de Ruyter mors sy tyd en word nie waardeer nie.

MakersMark ·

Mense wardeer nie slim praatjies en groot strategieë oor hernubare energie as daar nie huidiglik genoegsame voorsiening is nie.

Saartjievandiebosveld ·

As de Ruyter Gaan is dit Sommer totsiens vie Eskom….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.