Dealesville se ‘jakkalsjagter’ sterf in veldbrand

Basie van der Watt (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap van Dealesville in die Vrystaat is geruk nadat Basie van der Watt (43), bekende jakkalsjagter en geliefde inwoner, in ʼn veldbrand omgekom het.

Fred Euvrard (13), ʼn jong boerseun van die Dealesville-distrik, is een van verskeie mense wat in die hospitaal opgeneem is nadat hulle brandwonde opgedoen het. Fred en Van der Watt het saam die brande op sy pa, Derick, se plaas Boezakfontein bestry.

Die eerste berigte van rook het Saterdag omstreeks 15:00 op die WhatsApp-groepe van boere in die distrik deurgekom. Volgens inligting het weerlig die veld op verskeie plekke aan die brand geslaan en die vlamme het weens sterk wind teen ʼn hewige spoed verder versprei.

Volgens Derick Euvrard, ʼn goeie vriend van Van der Watt, het boere met vuurvegters op hul bakkies gejaag om die vlamme te blus.

Euvrard het Fred by Van der Watt afgelaai en hy is saam met twee werkers vort om skape na veiligheid in die kraal te bring.

“My seun, Basie, en die twee werkers was op pad na die kraal om nog vee te bring, toe ruk- en maalwinde skielik opkom en die brandlyn baie vinnig nader bring. Hulle was seker so 600 meter van die kraal af. Toe die toestande so vinnig verander het, het ek besef dat hulle in die moeilikheid kan wees,” vertel Euvrard.

Alles het pikswart rondom Euvrard geword en hy kon hulle nie meer sien nie.

“Ek het na hulle gaan soek, maar basies net in sirkels gejaag. Ek kon hulle nie kry nie. Ek is daarna terug na waar ek begin het. Ek het hulle probeer bel en een van die werkers in die hande gekry. Hy het my gerusgestel dat hulle ongedeerd is, maar dat hulle nie weet waar hulle is nie. Ek het ’n rukkie gewag en die rigting ingeslaan waar ek vermoed het hulle is. Dit is toe dat ek vir Fred en die twee werkers sien aangestap kom.

“Fred se agterkant van sy arms en bene was rooi en vol blasies. Ek het my vrou gebel en sy het hom na die hospitaal geneem.”

Van der Watt was in daardie stadium nêrens te vinde nie.

Volgens Euvrard het Van der Watt se bakkie in ʼn gat vasgeval en hy het te voet van die vlamme probeer vlug. Hy is vermoedelik in daardie stadium in die brand vasgekeer.

Basie van der Watt se bakkie het in ‘n gat vasgeval (Foto: Burre Burger/Facebook)

“Die ander drie kon genadiglik aan die agterkant van die brandlyn kom, wat toe al sowat 30 meter breed was.”

Fred, ʼn gr. 7-leerder aan Laerskool Willem Postma in Bloemfontein, is Dinsdagoggend uit die Life Rosepark-hospitaal in die stad ontslaan. Hy het 10% se tweedegraadse brandwonde aan sy bene en arms opgedoen.

Fred Euvrard (Foto: Verskaf)

Sy brandwonde is Sondagaand in die teater skoongemaak en behandel.

‘Sout van die aarde’

‘n Pienk strikkie is om ‘n jong mielieplant vir Basie vasgemaak (Foto: Burre Burger/Facebook)

Van der Watt was bekend daarvoor om probleemdiere op plase in die Dealesville-distrik – soos jakkalse en vlakvarke – met die hulp van sy honde te jag. Hy het só ʼn inkomste verdien en vir sy vrou, Corli, en dogter, Maryna, gesorg.

“Basie het met honde grootgeword. Hy was baie lief vir sy honde en vir jag,” vertel Euvrard.

Van der Watt het jare lank op die dorp gewoon en het sowat twee jaar gelede in ʼn huis op Euvrard se plaas ingetrek. Van der Watt en Euvrard ken mekaar al 20 jaar. Euvrard moes die slegte nuus oor Van der Watt se dood aan sy gesin oordra.

“Basie se pa was die provinsiale padskraper se drywer. Hulle was ook van die laaste mense wat nog met perdekarre gery het. Hulle het ’n klein plasie sowat 15 km buite Dealesville gehad en sou met die perdekar uitgegaan het plaas toe. Ná die pa se dood, het Basie en sy broer en twee susters die grond verkoop.”

Euvrard beskryf Van der Watt as “sout van die aarde” en ʼn “Christenmens” wat nie ’n enkele Sondag laat verbygaan het sonder om kerk op die radio te luister nie.

“Hy was gelukkig met ʼn eenvoudige bestaan. Hy was lief vir wat hy gedoen het. Alles wat hy verdien en gehad het, het hy vir sy vrou en dogter gegee.”

Brandseisoen lank nog nie verby

Die brand in die Dealesville-distrik het weens weerlig ontstaan (Foto: Vrystaat Landbou/Facebook)

Die veldbrande in die Dealesville-distrik is Sondagoggend heeltemal in bedwang gebring. Boere is egter steeds op hul hoede weens die donderweer wat opnuut brande kan veroorsaak.

Honderde stuks vee is doodgebrand en honderde hektaar grond het afgebrand.

Die veldbrande in Dealesville het groot verwoesting gesaai (Foto: Burre Burger/Facebook)

Volgens Johann Savage Breytenbach, bevelvoerder van die oorhoofse brandbeskermingsvereniging (FSUFPA), is daar ná die naweek se brande altesame vier sterfgevalle in vanjaar se brandseisoen (sedert 1 Mei) aangemeld.

Altesame 575 665,93 ha is in hierdie tydperk vernietig, met die brandseisoen nog lank nie verby nie.

“Hoewel sommige gebiede in die provinsie voldoende reënval gekry het om vergroening te vergemaklik, sit die grootste gedeelte van die provinsie steeds met hoogs vlambare biomassa wat maklik sal brand,” sê Breytenbach.

“Talle streke in die westelike, noordwestelike en noordelike dele van die Vrystaat is steeds in ʼn aktiewe brandseisoen met potensiaal vir ontwikkeling van hoë intensiteit veldbrande.”

Breytenbach waarsku dat die verhoogde voorkoms van weerligbrande hoogs waarskynlik is vir die volgende twee tot vier weke terwyl die oorgang na die somerreënvalweerstelsel plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danie ·

Dis tyd dat brande meer proffesioneel hanteer word.Dit duidelik n ramp in ons land.Boereverenigings moet ingryp en leiding neem.Brande die voorkoming en hantering daarvan nou n prioiteit.

Olive ·

Hoe verskriklik hartseer. Die skape word in ‘n kraal gejaag net om dood te brand. As dit dan een van die redes is vir ‘n kraal moet dit dalk bietjie beveilig word juis om hulle te beskerm teen die elemente en noodgevalle.

Karoo ·

Olive, ek sien jy is met reg besorg. Die wind het onverwags gedraai, vuur is onvoorspelbaar, skaape is nie baie slim nie en jy moet vinnig kan werk. Niemand sal moetswillig ‘n kraal vol skaape jaag om hulle na die dood te ly nie. Ek glo sy intensie goed maar hulle het hulself misgis.

George ·

@Danie, jy bly in die dorp ne?
Ons word opgely en doen die amper daagliks, ongelukkig is daar baie boere wat hulself afsmeer aan brand waarskuwings en wanneer hul mag brand, sonder permitte ook. Die wind steek op, verander rigting, iets gebeur waar jy net jou rigting verloor, en dit kan totsiens wees. Die wat onwettig brand moet verantwoordelik gehou word.

Prikkie ·

Tragies! Sout van die aarde man. Rus in vrede en mag jou familie vertroos en versorg word.

SjN ·

Stem saam Prikkie, tragiese gebeurtenis, rus in vrede, innige simpatie en sterkte aan al sy geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.