Denel ‘nie trots’ op wanbetaling van salarisse

Denel sê alle uitstaande salarisse van sy werkers is nou betaal. (Foto: Maroela Media)

Die voorsitter van Denel se raad het werkers Donderdag om verskoning gevra vir die trauma wat veroorsaak is deur die wapenvervaardiger se versuim om salarisse betyds te betaal.

“As voorsitter van die raad moet ek opreg om verskoning vra vir die spanning en angs wat hierdeur vir werkers en hul gesinne veroorsaak is,” sê Gloria Serobe, voorsitter.

Sy het bevestig dat alle werkers nou betaal is en dat betalingsplanne gemaak is vir bydraes tot die pensioenfonds en lopende betaalstelsel (PAYE) by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

“Dit dui op ons verbintenis tot die welstand van ons werkers en die hoë waarde wat ons heg aan behoorlike arbeidspraktyke.”

Die wapenvervaardiger het ná ʼn uitgerekte stryd onlangs eers die agterstallige salarisse van sy werkers kon betaal. Dít danksy die uitbetaling van ʼn surplus by sy ná-aftrede- mediesevoorsorgfonds waartoe hy nou eers toegang gekry het. Die trust is in 2002 op die been gebring en word gebruik om Denel se kontraktuele mediese verpligtinge teenoor werkers wat voor 2002 by die maatskappy gewerk het, na te kom.

Die trust het die afgelope paar jaar beduidend gegroei en sy bates het sy laste met ʼn noemenswaardige bedrag oorskry. Denel het gevolglik ʼn proses van stapel gestuur om toegang tot hierdie geld te kry, sonder dat die ledebelange enigsins geraak word.

Serobe sê die ontsluiting van die geld is die eerste stap tot ʼn volhoubare herstruktureringsplan vir Denel.

Daar word ook voortgegaan met die verkoop van nie-kernbates, asook die aansoek om herkapitalisering wat die departement van openbare ondernemings deur die nasionale tesourie gedoen het, om historiese skuld te verminder en likiditeit ʼn hupstoot te gee.

“Dit gaan winsgewendheid dadelik verbeter en die maatskappy in staat stel om vaardighede en leierskap te behou en te aan te stel.”

Serobe het werkers as Denel se grootste bate bestempel en sê die onderneming is nie trots op die afgelope ruk se gebeure en sy onvermoë om sy verpligtinge na te kom nie. Sy sê daar gaan met werkers saamgewerk word om Denel vorentoe te neem en te verseker “ons is nooit weer in hierdie posisie nie”.

“Ons is in die modder en ons probeer onsself daar uitkry.”

Solidariteit het onlangs ingevolge ʼn hofproses begin om sommige van Denel se bates te laat opveil sodat sy lede se uitstaande salarisse betaal kan word. Die proses is opgeskort nadat die uitstaande salarisse betaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is regtig baie goeie nuus skrap die seb wet en laat Denel herleef tot sy vorige glorie.

Ligloop ·

Die vraag wat almal vrae wat nou, iemand moet pa staan vir die gemors by DENEL. Wie gaan dit wees?. Dit kan nie alweer net so gelos word. Die toffies is uit gedeel en almal het lekker geeet.

Andries ·

blah, blah, blah deur nog ‘n kader wat nie in ‘n bestuurspos hoort nie – klink dit?

Frank ·

TOTALE onbekwame top bestuur struktuur. Net soos op ALLE ander strukture in SA. Aangestel nie volgens verdienste nie, maar VEL KLEUR. En steeds dring die regering daarop aan. Mens sal dink dat hulle ogies nou al sal begin oopgaan, maar nee.

Nie Verbaas ·

En hoekom is Denel in die modder? Onbevoegde ANC BEE beleid en Denel sal nie daar uitkom solank as wat die ANC en die se beleid n sê het nie.

Jr ·

Ek stem nog nie saam nie. Baie bly mense is betaal, maar om te vat van die mediesefonds surplus is nog steeds misbruik van gelde wat eindelik nog hoort aan werkers. So weereens het die govt niks aan hulle sakke gevoel. Die werkers en belasting betaaler voeg die rekening. Surplus is ons geld. Net soos mense dink om die polisie bv. te sue vir geld is ‘n wen. Dit is nie want die belasting betaaler boet vir hulle onbevoegtheid. Net so met Denel

Perdeby ·

Ek is baie bly, maar babie van hierdie mense sal nooit weer dieselfde wees nie, want hulle het baie verloor, huise, voertuie, hulle gesin, en die belangrikse van alles hulle trots! Geen verskoning kan goed genoeg wees daarvoor nie.

Koos 100 ·

WAAATTT? Nie trots nie? Op watter planeet leef jy en wanneer het jy op die aarde aangekom?
DENEL het vir maande gesloer en meer as een ooreenkoms om te betaal, nie nagekom nie. Nou is julle GEDWING deur ‘n unie om te betaal en nou is jy nie trots daarop nie. Jammer ek mag niedie woorde in my kop op hierdie forum skryf nie! Enige mens in enige 1ste wêreld land sou al lankal bebank het uit so ‘n pos, en al wat jy uit kry is dat jy nie trots is nie!!!!

Shakespeare ·

As ek die ANC/EFF alliansie was het ek my vrek geskaam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.