Dept bestee glo miljoene aan onbruikbare sanitêre produkte

Argieffoto bloot ter illustrasie van sanitêre produkte. (Foto: Verskaf)

Die departement van maatskaplike ontwikkeling in Mpumalanga moet glo verantwoording doen oor R8,5 miljoen wat bestee is aan onbruikbare sanitêre produkte wat nou glad nie onder behoeftige skoolmeisies versprei kan word nie.

Dít omdat die produkte nie aan die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) se vereistes voldoen nie.

Dié verspilling van geld het Vrydag tydens ʼn sitting van die provinsie se wetgewer danksy ʼn aanvaarde mosie van die VF Plus aan die lig gekom.

Werner Weber, die VF Plus-leier in Mpumalanga, sê die departement het in Februarie 2021 sy Sanitêre Waardigheid-program van stapel gestuur. Die program sou sanitêre items aan meer as 105 000 behoeftige skoolmeisies in Mpumalanga voorsien wat tydens hul maandstondes nie skool toe kon gaan nie.

Meer as R20 miljoen is in die 2021-’22-boekjaar vir dié program begroot.

Luidens die departement se vierde kwartaallikse verslag is produkte ter waarde van R8 524 844,79 aangekoop van drie maatskappye wie se produkte nié aan die vereistes voldoen nie.

Tydens die voorlegging vir die program se afskop in Februarie 2021 is dit egter duidelik gestel dat produkte wat nie aan die vereistes van die SABS voldoen nie, glad nie vir die tender oorweeg sal word nie.

Die departement het nou die produkte vir verdere toetse gestuur en wag op die resultate.

Weber sê die VF Plus sal teen die einde van September ʼn vorderingsverslag aanvra en die departement en die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Ntshalintshali, verantwoordelik hou indien hulle nie dán al met ʼn werkbare oplossing vorendag gekom het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wildemien ·

Volg maar die tender se spoor tot by die tenderpreneur se splinternuwe “mansion”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.