Derby-bedanking ‘eerste stap’ om Transnet te red

(Argieffoto: Transnet)

Die DA het die bedanking van Transnet-hoof Portia Derby verwelkom en sê dit is die “eerste groot stap” op die pad om die lot van die beleërde staatsbeheerde instelling om te keer en dit van die rand van die afgrond te red.

Maroela Media het vroeër berig Derby verlaat die sukkelende staatsbeheerde vervoermaatskappy op 31 Oktober nadat daar vroeër talle oproepe was dat sy die trekpas kry.

“Portia Derby se termyn, saam met dié van die res van haar uitvoerende bestuur, was ʼn ramp wat nooit herhaal moet word nie. Hulle was eiehandig verantwoordelik vir die ineenstorting van Suid-Afrika se uitvoersektor en het die fiskus ontneem van broodnodige uitvoer-inkomste,” sê Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings.

Die DA eis nóg bedankings, ook dié van Sizakele Mzimela, hoof van Transnet-vragspoorvervoer (TFR). Vragspoorvervoer het wesenlik in duie gestort onder die las van wanbestuur en verwaarlosing. “Dit is absoluut onaanvaarbaar vir Mzimela om steeds aan die hoof van TFR te staan ná so ʼn rampspoedige tydperk,” sê Cachalia.

Die DA het vroeër ʼn vyfpuntplan voorgelê om Transnet te help omkeer en Derby se afdanking was een van die party se aanbevelings. Die inwerkingstelling van die ander vier voorstelle – die open van Transnet-korridors vir uitvoerders, geïntegreerde wetstoepassing, die verwydering van burokratiese rompslomp en die ontwikkeling van ʼn langtermyn-herstelstrategie – sal afhang van die spoedige aanwys van ʼn bevoegde nuwe hoof met gepaste ervaring van die bedryf.

“Ons is egter uiters bekommerd dat die owerheid wat die aanstelling moet doen – die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan – bewys het dat hy eenvoudig nie bevoeg is vir die taak nie.

“Eskom is die afgelope nege maande sonder ʼn uitvoerende hoof omdat hy ʼn kandidaat soek wat Luthuli-huis goedgekeur het. Transnet loop dieselfde gevaar op ʼn tyd wat bestendigheid nodig is om die skip te stuur en Suid-Afrika se bewustelose ekonomie te red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.