Transnet-hoof pak haar tasse

Portia Derby. (Argieffoto)

Portia Derby, uitvoerende hoof van Transnet, verlaat die sukkelende staatsbeheerde vervoermaatskappy op 31 Oktober. Nonkululeko Dlamini, die maatskappy se finansiële hoof, het ook bedank en het Vrydag die maatskappy verlaat nadat sy ʼn kennismaand gewerk het.

Daar was die afgelope paar maande herhaalde oproepe dat Derby in die pad gesteek word terwyl die instelling van die een krisis na die volgende gesteier het. Die Mineraleraad van Suid-Afrika het maande gelede al gevra dat Derby in die pad gesteek word weens die krisis by die staatsbeheerde spoorvrag- en haweoperateur en het onder meer verwys na die “katastrofiese uitwerking” wat die situasie op die mynbedryf het.

Transnet vorm die kern van Suid-Afrika se invoer- en uitvoer-ekonomie en is verantwoordelik vir nagenoeg 68% van die land se BBP. Onafhanklike skattings raam dat die probleme by Transnet boonop kan lei tot ʼn 5%-daling in vanjaar se BBP.

Derby is in Februarie 2020 aangestel ná jarelange staatskaping, korrupsie en wanbestuur en moes die maatskappy weer in ʼn lewensvatbare en volhoubare instelling omkeer.

News24 berig Derby, wat ʼn jaarlikse salaris van sowat R8,5 miljoen verdien het, het glo ook ʼn noemenswaardige skeidingspakket beding.

Transnet sê in ʼn verklaring Derby het die maatskappy deur ʼn “uiters uitdagende tydperk gestuur”, en is aangestel ná ʼn kontrak vir 1 064 lokomotiewe ter syde gestel is. Dit het ʼn bindende beperking vir Transnet geskep en een wat steeds voortduur.

“Die tydperk van die huidige uitvoerende hoof se termyn is voorts geraak deur die internasionale Covid-19-pandemie, gevolg deur plundering, die kuberkrakery van die ICT-stelsel, die vloede in KwaZulu-Natal en die staking teen die einde van verlede jaar.

“Dit het alles ʼn negatiewe uitwerking op Transnet gehad.”

Die oorstromings het besonder groot kapitaaluitgawes tot gevolg gehad, veral om die vraghouerkorridor tussen Johannesburg en Durban weer in werking te stel.

Andile Sangqu, voorsitter van die Transnet-raad, het Derby en Dlamini bedank vir hul “toewyding, onselfsugtigheid en harde werk” by die maatskappy.

Michelle Phillips, uitvoerende hoof van Transnet-pypleidings, sal nou as uitvoerende hoof waarneem tot ʼn permanente aanstelling gedoen kan word. Hlengiwe Makhathini sal terselfdertyd as finansiële hoof waarneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.