Derde liggaam uit Vaalrivier gehaal

Vaalrivier motorongeluk

Die liggaam van die derde insittende was steeds in die Kia vasgevang toe dit uit die water gehaal is. (Foto: SAPD)

Die liggaam van die derde insittende van ’n motor wat Maandag in die Vaalrivier in Oranjeville beland het, is eindelik Donderdag uitgehaal.

Die motor het glo teen ’n versperring op die Magrieta Prinsloo-brug gebots.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, was die man se lewelose liggaam steeds in die voertuig, ’n rooi Kia Sportage, vasgevang toe dié motor uit die rivier getrek is.

Maroela Media het vroeër berig dat die liggame van twee mans, Lucky Hlapo (20) en Thugela Mnguni (34), Dinsdag reeds uit die rivier gehaal is. Die derde persoon is intussen as Lefunyana Tsotetsi (42) uitgeken.

Hoewel die omstandighede wat tot die ongeluk gelei het nie in dié stadium duidelik is nie, blyk dit uit skade aan die versperrings op die brug dat die motor daarteen gebots het voordat dit in die rivier beland het.

Polisieduikers het sedert Maandag onverpoos na die motor en insittendes gesoek.

Die Nasionale Seereddingsinstituut het vroeër op sy webblad aangedui dat dié gedeelte van die rivier sowat 23 m diep is.

Makhele het Woensdag gesê die polisie sal ’n saak van strafbare manslag ondersoek.

Genl.maj. Len Singh, waarnemende polisiekommissaris vir die Vrystaat, het Donderdag almal wat by die vier dae lange soektog betrokke was, bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sêmanet ·

Teen wie sal die mansslag saak ondersoek word? Is almal nie oorlede nie, en was dit dan nie ‘n ongeluk nie?

Annelize ·

Dis standaard prosedure om Strafbare manslag saak oop te maak, al is daar geen oorlewendes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.