Deurbraak ná moord op egpaar

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op die egpaar Diniz Fernandus da Silva en Maria Goretta da Silva. Die egpaar is die afgelope naweek in hul kafee in Christiana in Noordwes vermoor.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê een verdagte is Dinsdag in Jan Kempdorp in die Noord-Kaap in hegtenis geneem waarna die ander verdagte Woensdag in Christiana in hegtenis geneem is.

Die verdagtes, onderskeidelik 36 en 37 jaar oud, is gedurende die inhegtenisnemings in besit van die egpaar se besittings waaronder klere, kruideniersware en ’n sak betrap.

Maroela Media het vroeër berig ʼn klant het Sondagoggend die Da Silva-egpaar se liggame in hul kafee opgemerk toe hy deur een van die vensters geloer het aangesien die kafee ná 08:00 steeds nie oop was nie.

Die klant het die polisie ontbied waar hulle met hul aankoms die egpaar se liggame op die vloer van die kafee aangetref het. Diniz se hande was met kabelbinders vasgebind.

Die twee verdagtes sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Bloemhof verskyn op twee aanklagte van moord en een aanklag van roof.

Volgens Mokgwabone word die 36-jarige verdagte boonop deur nóg ’n aanklag van diefstal in die gesig gestaar. Dié aanklag hou verband met koperkabels wat verlede maand in Christiana gesteel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Weereens soveel simpatie vir hierdie familie vir hierdie sinnelose moorde op hul geliefdes. Sterkte vir julle in hierdie hartseer tyd.

Ek is bitter dankbaar dat hierdie moordenaars so spoedig gevind is. Goeie werk. Bou so voort op elke moord in Suid-Afrika asseblief. Dit is al lankal tyd.

stokkies ·

My innige simpatie met die familie vir hierdie verskriklike hartseer tyd. Welgedaan aan die polisie. Wil net graag weet hoe weet hulle dit is die egpaar se kruideniersware?

Peetjie ·

Dankbaar die “verdagtes” is spoedig aangekeer… Sterkte vir die gesin, familie en vriende. Moord vir n selfoon klere en kos is soo onnodig

RB ·

Daar is GEEN verskoning vir moord op hierdie onskuldige egpaar wat op eerbare wyse hulle brood verdien nie. Dit geld natuurlike net so vir haas elke ander moord in SA wat net toeneem.
CR, BC julle bly in gebreke om daadwerklik op te tree en in te gryp met handhawing van wet en orde. Dit maak julle 100% aandadig aan elkeen van hierdie moorde, of julle dit wil weet of nie.

Innige simpatie met geliefdes en gemeenskap waar hulle n leemte laat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.