Deurbraak ná moord op polisiehoë

Die polisie het op drie pistole beslag gelê. (Foto: SA Polisie)

Die polisie het ʼn groot deurbraak gemaak in die moord op ʼn polisie-offisier van Limpopo en sê dieselfde bende wat vermoedelik vir lt.kol. Tshitereke Freddie Masuvhelele se moord verantwoordelik is, het glo ook geruime tyd lank gemeenskappe in die gebied geterroriseer.

Ander misdade waarmee hulle verbind word, sluit in moord, sakerooftogte, diefstal, verkragting en voertuigkaping.

Masuvhelele, verbonde aan die polisie se provinsiale intelligensie-eenheid, is in ʼn klaarblyklike sakerooftog in Malonga in Limpopo doodgeskiet, sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder.

Op 7 Oktober vanjaar, ʼn dag voor die moord op Masuvhelele, het die verdagtes na bewering ʼn voertuig met ʼn paartjie naby die Mashamba-nedersetting gekaap.

Die man is geskiet en die paartjie is van hul selfone en geld beroof. Volgens die polisie is die man in die kattebak van die gekaapte voertuig gestop en die vrou se hande vasgebind, terwyl hulle met die slagoffers rondgery het.

Hulle het daarna nog ʼn paartjie ontvoer en die aanvanklike twee slagoffers agtergelaat.

Die gewonde man het later aan sy beserings beswyk, sê Mojapelo.

Die bende het hul kaping- en rooftogte voortgesit en dieselfde dag glo ook ʼn verkeersbeampte gewond.

Masuvhelele is die volgende dag omstreeks 19:00 doodgeskiet.

Mojapelo sê lede van die provinsiale opsporingspan en die provinsiale ondersoekeenheid, met behulp van die voertuigopsporingsmaatskappy Tracker, het daarna inligting opgevolg wat hulle Vrydag na KwaMhlanga in Mpumalanga gelei het.

Daar aangekom, is die verdagtes voorgekeer en het hulle op die polisie losgebrand. “Die polisie het teruggeskiet en ʼn 31-jarige verdagte doodgeskiet. Vier ander verdagtes, tussen 24 en 31 jaar oud, is aangekeer.”

Een van die rowers is in ‘n skietery met die polisie dood. (Foto: SA Polisie)

Die polisie het ook beslag gelê op drie 9 mm-pistole, ammunisie, polisieboeie, pepersproei, selfone en motorsleutels. Die voorlopige ondersoek dui daarop dat een van die vuurwapens aan ʼn polisiebeampte behoort en vroeër vanjaar in Giyani as gesteel aangemeld is.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiehoof, het die inhegtenisnemings verwelkom. “Ons gaan voort om hard te werk om misdadigers uit hul wegkruipplekke te kry en ʼn veilige ruimte vir die samelewing te skep.

“Ons hoop geregtigheid geskied vir al die slagoffers,” sê Hadebe.

Die verdagtes sal binnekort in verskillende landdroshowe in die Vhembe- en Mopani-distrik verskyn op aanklagte van moord, verkragting, kaping, roof, diefstal en poging tot moord.

Hulle sal ook in Mpumalanga verskyn op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, die besit van gesteelde eiendom, poging tot moord en moord.

Die polisieondersoek duur intussen voort.

Die polisie het ook beslag gelê op motorsleutels, ammunisie en selfone. (Foto: SA Polisie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JM ·

Die satan is los in al sy felheid. Ons land het ‘n misdaadhool geword! Kriminele seëvier en jy is nie jou lewe seker nie.

Chris dupreez ·

Hoekom hulle aankeer, hoekom hulle nie ook doodskiet.

Suzette ·

Wonder ek ook. Skiet die kriminele /terroriste noem hulle wat julle wil. Hulle maak die land onregeerbaar en voel n vy vir enige lewens.

Gerhardus ·

Ek hoop van harte mense sal eerder tyd vat om te bid vir die land en sy leiers as wat hulle negatiewe kommentaar lewer. Negatiwiteit kweek net nog negatiwiteit.

Martie Smartie ·

My ou, duisende mense bid elke dag. As jy so na die msidaad situasie kyk, lyk dit of dit help? En jy verwag almal moet positief bly? Daar gaan nie ‘n dag verby in hierdie land dat daar nie mense vermoor en beroof word nie. Nie EEN dag nie. En jy dink mense gaan positief bly? Really. Dan praat mens nie eens van die korrupsie en al die ander lekker dingetjies nie.

Realis Thailand ·

Bid help nie dit is n mors van tyd met die kriminele.
In my oe bestaan harde werk en nie n god nie
Die polisie moet meer bekwaam, minder korrup en meer voorkomend optree om net n paar te noem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.