Dialekskat van Afrikaans gevier

Christo van Rensburg-gedenklesing 1

Wyle prof. Christo van Rensburg se twee kinders het die eerste gedenklesing aan hom by die NWU, Potchefstroom bygewoon. Hulle is Mark van Rensburg (links) en Karlien Lamley (regs). By hulle is prof. Hans du Plessis, wat die gedenklesing gelewer het en Kaila Lamley, Christo van Rensburg se kleindogter. Foto: Lennie Gouws

Deur Lennie Gouws

Die eerste gedenklesing in ’n reeks wat ingestel is om die nalatenskap van prof. Christo van Rensburg te eer, het onlangs by die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom plaasgevind.

Van Rensburg is op 13 Augustus 2018 in Klerksdorp oorlede. Ten tyde van sy dood was hy ’n aktiewe navorsingsgenoot by die Navorsingseenheid vir Taal en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks van die NWU se Potchefstroomkampus.

Van Rensburg word beskryf as een van Suid-Afrika se bekendste linguiste. Hy was veral bekend vir sy werk op Afrikaans se dialekte en sy navorsing op die Afrikaans van die Griekwas, wat hy dikwels saam met prof. Hans du Plessis gedoen het.

Die gedenklesing op 24 Mei is dus heel gepas gelewer deur Du Plessis, ’n jare lange kollega en vriend. Die titel van Du Plessis se lesing is: “Taalverskeidenheid en die dekolonisering van Afrikaans.”

Dekolonisering, sê Du Plessis, het nie soseer te make met die uithaal van Westerse kennis nie, maar ’n integrering met die volle diversiteit van almal in die land. Wanneer daar oor die dekolonisering van Afrikaans gepraat word, gaan dit nie om die ontkenning van Nederlands as bron van Afrikaans nie, maar die verinheemsing van die taal deur die insluiting van ’n groter bydrae deur inheemse mense en slawe tot die ontwikkeling van Afrikaans.

“Hiermee,” sê Du Plessis, “is die geskiedenis van Afrikaans nie so wit en rein as wat ons dink nie.”

Die ontstaan van Afrikaans kan so ver teruggevoer word as die 1590’s, toe matrose van ’n gestrande Nederlandse skip met Khoi-San-mense in aanraking gekom het.

Teen die agtergrond van die intertaalteorie, sê Du Plessis, word geargumenteer dat sodra een of meer tale met mekaar in kontak kom, dié tale mekaar op verskillende maniere beïnvloed en dit is hoe dialekte ontstaan.

Meegaande het drie vroeë dialekte onwikkel en in sy studie van die Afrikaans van die Griekwas identifiseer Van Rensburg dié drie as: Oosgrensafrikaans, Kaapstadafrikaans en Oranjerivierafrikaans.

Du Plessis beskryf Oranjerivierafrikaans as die taal van die Khoi-San, wat later die dialekte geword het wat in die Noord-Kaap en Namakwaland gepraat word. Kaapstadafrikaans is, wat ons vandag ken, as Kaaps en die dialek wat gegroei het uit dit wat die slawe aan die Kaap gepraat het.

Oosgrensafrikaans beskryf hy ook as Voorposafrikaans, ’n taal wat gepraat is deur almal wat met veeboerdery te doen het: die veeboer, die veeherder én die veedief! Groepe wat bygedra het tot dié dialek, sluit in die Khoi-San, Basters en Trekboere. Later sou dit Transvaalse Afrikaans word, die naaste aan die hedendaagse Standaardafrikaans.

Teen die negentiende eeu was Afrikaans dus ’n taal van Afrika. “As ons dit egter aanvaar, is die logiese volgende vraag: Hoe kan ’n inheemse taal dan gedekoloniseer word, want inheems veronderstel juis nié gekoloniseer nie.”

As teenvoeter vir die afdwing van Engels in skole, het die kodifisering van Afrikaans ná die Anglo-Boereoorlog stukrag gekry. Weens ’n gebrek aan Afrikaanse leermateriaal is daar teruggegryp na Nederlands, om Afrikaans aan te vul. Hier het die “kolonisering” van Afrikaans grootliks plaasgevind. “Afrikaans het verwit,” sê Du Plessis. Die Nederlandse aard van Afrikaans is oorbeklemtoon.

Terselfdertyd is daar begin met die standaardisering van Afrikaans.

Een van die hoofborge van die Christo van Rensburg-gedenklesing wat 24 Mei by die NWU, Potchefstroom plaasgevind het, was die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die gedenklesing is bygewoon deur die voorsitter van die SA Akademie, prof. Jacques van der Elst (links), sy vrou, Betsie en hul Potchefstroomse vriende, Nellie en Rudy van der Spoel. Foto: Lennie Gouws

“Die probleem met standaardisering is daarin geleë dat standaard net gedefinieer kan word met verwysing na iets wat nie standaard is nie. Die vraag is dan, wie besluit oor standaard?”

Standaardafrikaans, meen Du Plessis, is Papierafrikaans, terwyl die dialekte en variëteite van Afrikaans as Tongafrikaans beskryf kan word.

Teen die vroeë 1980’s het proses van dekolonisering ’n aanvang geneem en Christo van Rensburg is een van dié wat bewys het dat Afrikaans se Afrikawortels diep lê. “Die invloed van inheemse tale op Standaardafrikaans strek veel wyer as die opname van ’n paar leenwoorde. Op elke analisevlak kan die invloed van Afrika aangetoon word.”

Die totale dialekskat van Afrikaans word toenemend aanvaar in politieke en kulturele kringe, by implikasie ’n aanvaarding van die beduidende Afrika-aard van Afrikaans.

Du Plessis reken dat Christo van Rensburg nie die geskiedenis van Afrikaans herskryf het nie, maar dat sy uitgebreide kennis van en passie vir Dialekafrikaans wel ’n vars hoofstuk in die geskiedenis van Afrikaans beskryf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

Een kommentaar

Dirk van der Merwe ·

Nou ka’ jy nou meer! Regtig? Wat is dan kwansuis nou so nuut aan die sogenaamde bevindings? Is dit dan nie maar algemene kennis wat nou maar net ‘n Krismis baadjie kry nie? Vir my , in elk geval…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.