Dié Bulletjies weet nie van verloor af

Hier staan die manne van Midstream Ridge Laerskool! Op die foto is Franco Joubert, Ruben du Plessis, Daniël du Plessis, Adrio Joubert en Lihan Mynhardt. (Foto: Charmaine Visser)

Ja, daar het ʼn bywoningsrekord of twee op die DHL-stadion tydens die Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd tussen die Bulls en die Stormers gespat.

Maar net ʼn paar uur voordat Jaco Peyper op sy fluitjie vir die aanvang van daardie tweestryd geblaas het, het duisende Bulletjierugbyspelers hul harte op die groen gras van Midstream Ridge Laerskool se rugbyvelde uitgespeel.

Organiseerders het dit as die grootste rugbyfees van sy soort in Afrika bestempel. En dit is hoegenaamd nie grootpratery nie.

Want die 50 deelnemende laerskole het vir 4 570 spelers gesorg wat in 908 wedstryde gespeel het. Maar ná die stof van opportunistiese swenkbewegings, pure driedrukjolyt en opregte gebede om beserings vry te spring gaan lê het, was daar net een groot wenner in Pretoria: Rugby.

Chris Jansen van Rensburg op die aanval. (Foto: Charmaine Visser)

Volgens Riaan Langenhoven, voorsitter van die Blou Bulle se Laerskoolrugbyvereniging en adjunkhoof van Midstream Ridge Laerskool, bly dit ʼn voorreg om die glimlag op elke liewe speler se gesig te sien.

“Ek dink die ding waarop ek die meeste trots is, is om vir amper 4 600 seuns en meisies ʼn geleentheid te skep om aan ʼn sportsoort deel te neem waarvoor hulle so lief is. ʼn Mens kon die opwinding duidelik in hul oë sien,” het Langenhoven gesê.

Voeg daarby springkastele, hope stalletjies en ʼn fotogeleentheid saam met Victor Matfield en jy sit omtrent met ʼn aksiebelaaide rugbydag by dié skool.

Langenhoven en sy organiseringspan van Marcel Janse van Nieuwenhuizen, Jody Viljoen, Andri Cooper en Esjé Esterhuyse verdien ongetwyfeld ʼn klop op die skouer – hulle weet wat hulle doen.

“Rugby, pret en ʼn liefde vir die spel is altyd ʼn wenresep,” het Langenhoven gesê terwyl hy waardering vir sy span se harde werk uitgespreek het.

Een van die redes vir Bulletjierugby se sukses is die feit dat spelers se niekontakvaardighede opgeskerp word.

Die bestuurspan van Esjé Esterhuyse, Marcel Janse van Nieuwenhuizen, Riaan Langenhoven, Jodi Viljoen en Andri Cooper. (Foto: Charmaine Visser)

Beserings is dan juis minimaal omdat hulle nie op dié vlak kontakrugby speel nie, maar eerder RIP-rugby.

Aan elke speler word daar ʼn paar stukke materiaal vasgemaak en verdedigers moet dan – in plaas van têkkel – die linte losruk.

“Die RIP-formaat verbeter alle aspekte van ʼn jong speler se spel – hul hardloop- en balvaardighede, hand-oog-koördinasie, besluitneming op die veld en die samespel tussen spelers. Groot en klein spelers kry só ook die geleentheid om deel te wees van die spel,” het Langenhoven in ʼn vorige onderhoud gesê.

Natuurlik word daar reeds planne beraam om volgende jaar se Bulletjiefees groter, beter én lekkerder vir die spelers te maak.

“Die volgende stap is om meer skole uit ander provinsies betrokke te kry. Bulletjierugby is ongetwyfeld aan’t groei – daar is vanjaar amper 1 000 meer spelers as verlede jaar in aksie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Busy Body ·

Die organiseerdes kort n klop op die skouers. Well done! Goeie blootstelling is aan elke leerder en speler gegee en die fotos spreek vanself. Toekomstige Springbok of dalk moet ek se Springbok in wording,,!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.