Dié grondboontjiebotter nou óók herroep

Een van die handelsmerke wat herroep word. (Foto: Verskaf)

Nóg verskeie soorte grondboontjiebotter word van die rakke afgehaal.

Die nasionale verbruikerskommissie het ʼn beroep op verbruikers gedoen om die produkte glad nie te eet nie en dit na die kleinhandelaar waar hulle dit gekoop het, terug te neem vir ʼn volle terugbetaling.

Die produkte is:

  • Dischem se Lifestyle (400 g Smooth and Crunchy)
  • Dischem se Lifestyle (800 g Smooth and Crunchy)
  • Wazoogles Superfoods (alle groottes; 32 g tot 20 kg)
  • Pick n Pay No Name (1 kg smooth)
  • Eden All Natural

Die Pick n Pay-produkte en Dischem se Lifestyle-produkte is landwyd versprei, terwyl Wazoogles Superfoods se produkte hoofsaaklik in die Wes-Kaap versprei is.

Die vervaardiger, House of Natural Butters, het die kommissie ingelig dat die handelsmerke hoër as voorgeskrewe vlakke aflatoksien bevat. Dit maak dit ongeskik vir menslike verbruik.

Aflatoksien is ʼn gifstof wat deur sommige soorte muf afgeskei word.

Thezi Mabuza, waarnemende hoof van die nasionale verbruikerskommissie, sê terwyl die kommissie se ondersoek na House of Natural Butters voortduur, sal ʼn landwye assessering ook gedoen word om te bepaal of enige ander handelsmerke geraak word.

“Die kommissie doen ʼn beroep op die vervaardigers, verspreiders en verskaffers van grondboontjiebotter om te voldoen aan die regulasie en dringende toetse te doen om die veiligheid van produkte op die rakke te bepaal en dadelik regstellende stappe te doen, sou dit onveilig wees.”

Ingevolge wetgewing moet enige items wat ʼn gevaar vir verbruikers inhou, herroep word.

Dit is ook die verantwoordelikheid van die vervaardigers, invoerders en kleinhandelaars om te verseker dat alle goedere aan toepaslike Suid-Afrikaanse standaarde en wetgewing voldoen.

Aflatoksien kan lei tot verskeie gesondheidskomplikasies, wat insluit naarheid, braking en maagpyn.

Pick n Pay het verlede week reeds drie grondboontjiebotter-handelsmerke onttrek weens die gesondheidsrisiko wat dit kan inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.