Dié kossoorte maak kosmandjie duurder

(Argieffoto: iStock)

Sleutelfaktore wat oor die volgende paar maande kan bydra tot verdere verhogings in voedselinflasie, sluit in die wisselkoers en die omvang van voortgesette beurtkrag in Suid-Afrika. Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) sê in sy Februarie-verslag oor voedselinflasie beurtkrag het reeds aansienlike koste by die produksiewaardeketting gevoeg.

“Indien beurtkrag op laer vlakke gehandhaaf word, kan die uitwerking minder wees, maar die algemene konsensus is dat beurtkrag in die afsienbare toekoms op betreklik hoë vlakke gehandhaaf gaan word – wat ʼn sleutelfaktor gaan wees om Suid-Afrikaanse kospryse langer hoër te hou.”

Hooflyninflasie het van 7,8% in Julie verlede jaar tot 6,9% in Januarie vanjaar gedaal, terwyl dit in Februarie weer met 0,1% tot 7% toegeneem het. Voedselinflasie styg al byna ʼn jaar lank deurlopend en het volgens die mees onlangse syfer met ʼn verdere 0,2% tot 13,6% toegeneem.

Die BFAP sê in die verslag die hoogste jaarlikse inflasie was dié van brood en grane, gevolg deur olie en vette, groente en dan vleis. Vrugte, met ʼn jaarlikse inflasiekoers van 3%, het die laagste styging getoon.

Die hoogste maandelikse inflasiekoerse was vir nie-alkoholiese drankies, weereens gevolg deur brood en grane, en dan vis, suiwel en eiers, groente en laastens vrugte.

Verskeie van die produkte wat stapelitems in talle huishoudings is – en wat die afgelope jaar almal met tussen 10% en 30% duurder geword het – sluit in mieliemeel, brood, pasta, maalvleis, bevrore hoenderstukke, T-been, ham, spek, meel, margarien, grondboontjiebotter, geblikte tuna, uie, soetrissies, appels, pynappels, spinasie, kool, pampoen, wortels en aartappels.

Die prys van blaarslaai, brokkoli, beet, sampioene en patats het die afgelope jaar met 10-20% gestyg.

Items wat die afgelope jaar tussen 6% en 10% duurder geword het, sluit in ribtjops, bevrore visvingers, cheddarkaas, suurmelk, jogurt, suiker, vrugtesap en suikerdrankies.

Vermeulen sê die oorheersende bydraers tot voedselinflasie is vleis en vis, brood en graan, suiwel en eiers, asook groente.

“Baie van die faktore wat voedselinflasie oor die afgelope jaar aangedryf het, is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Dit sluit in hoër landboukommoditeitspryse wêreldwyd, asook hoë kragkoste wat weer ʼn uitwerking het op die prys van insette soos brandstof en kunsmis.

“Hoewel verskeie van hierdie internasionale faktore nou verminder … het die verswakking van Suid-Afrika se wisselkoers heelwat van die internasionale daling ongedaan gemaak, terwyl voortgesette hoë vlakke van beurtkrag aansienlike koste oor die landbou- en voedselwaardeketting bygedra het.”

Graan en oliesaad

(Argieffoto: Maroela Media)

Wêreldwyd daal die prys van graan en oliesaad, maar stadiger as wat aanvanklik verwag is, sê Vermeulen. Sleutelfaktore hiervoor sluit in die voortgesette konflik tussen Rusland en Oekraïne, wat albei groot uitvoerders van graan en oliesaad is, en klimaatstoestande in Noord- en Suid-Amerika.

In die VSA het voorraad tot die laagste vlak in vyf jaar gedaal en te midde van onsekerheid oor die voortslepende oorlog, kan klein veranderings in produksieverwagtinge ʼn noemenswaardige uitwerking op pryse hê, sê Vermeulen.

Sonneblomproduksie sal na verwagting net-net aan plaaslike aanvraag voldoen, met moontlik uitvoere teen die einde van die seisoen.

“Suid-Afrika se hoofgraan- en oliesaadpryse behoort oor die komende maande te daal weens die voortgesette daling in internasionale pryse, maar net in die afwesigheid van ʼn verdere verswakking in die wisselkoers. Sou die rand verder verswak, kan dit wêreldwye prysdalings teenwerk en die oordrag van laer pryse na Suid-Afrikaanse markte verhoed.”

Vleis

Die prys van vleis het in Februarie ook voedselinflasie opgejaag.

“Met verbruikersbesteding onder toenemende druk en uitvoere wat stadiger as gewoonlik is, het die prys van beeskarkasse begin daal en dit kan in die komende maande na kleinhandelpryse vir vleisprodukte oorspoel,” lui die BFAP se verslag.

Pluimveepryse het in Februarie verder toegeneem – hoofsaaklik weens die swakker wisselkoers wat die daling in internasionale pryse verminder het, asook die uitwerking van beurtkrag op die land se pluimveeverwerkingsvermoë.

Groente en vrugte

(Argieffoto: Vaalbos Trust)

Die prys van uie, aartappels en tamaties kan verbruikers se oë dalk ook laat rek. Dié produkte se pryse het te midde van wisselvallige weerstoestande skerp gestyg.

Die opwaartse neiging vir tamaties gaan na verwagting nog tot die Paasnaweek voortduur, terwyl sekere vrugte ook oor die volgende paar maande duurder kan word.

Die prys van piesangs is een daarvan. Oorstromings in die suide van Mosambiek plaas druk op voorraad – en sowat 75% van alle piesangs wat op Gautengse munisipale markte verkoop word, kom uit Mosambiek en eSwatini (Swaziland).

Die uitwerking van sikloon Freddy, beskadigde paaie wat ʼn uitwerking op logistiek het en lae voorraadvlakke op die Johannesburgse markte, het die prys van piesangs nou tot R50 per 18 kg/boks opgestoot.

Groter beskikbaarheid gaan die prys van lemoene op hul beurt na verwagting laat daal. Dit volg op aansienlike uitbreiding in die produksie van lemoene in Suid-Afrika die afgelope paar jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sandra ·

Hoender, wat altyd bekostigbaar was, is nie meer nie. Om van rooivleis nie eers te praat nie, net om daaraan te dink, krimp my bankbalans sommer! Ek kan nie meer bekostig om enige vorm van vrugte te koop nie, dit wat jy wel koop verlep so vinnig dat dit ook nie die moeite werd is om die geld daarop te mors nie. Ons voorland is almal se eie groentetuintjie op sy eie stukkie grond, ek woon in die lug en het tamaties, groenpepers en chillies in blombakke, het nou my 1e tamaties geoes

Daisy ·

Tamaties wat mens self groei smaak in elk geval baie beter as die wat in winkels te koop is.
Ek het jare laas goed soos konfyt, blatjan, tamatie-en-uie-smoor, ens gekoop – ek maak dit self. Suiker is nou wel duur, maar dis nogtans beter om dit self te maak. Net jammer glasbottels is moeilik om te kry en vrek duur om te koop

Cherokee ·

Interessant Sandra, dat jy in die lug jou eie boerderytjie het. Dit beteken natuurlik dat jou ‘in die lug’ woning beskik oor ‘n heel bruikbare stoep met sonlig.

MARELIZE ·

Ek dink dis belangrik om ook na die boere se kant te kyk en te luister. Ons het in Julie 2012 laas ‘n salarisverhoging aan onsself kon gee (minder as R18 000/md) Ons het vier kinders. Die oudste is in 2017 getroud. Die oudste teee het in hierdie tydperk (2012 – 2023) hul studies ook voltooi. Die jonger twee begin volgende jaar hul studies… met geen salarisaanpassing nie …

Arbeid se lone styg jaarliks. Diesel styg geleidelik. Kunsmis en chemikalieë se pryse het na 2020 verdubbel tot verdriedubbel. Die verkryging van onderdele is ‘n nagmerrie.

Vir die eerste keer het dit gelyk of ons uiteindelik regmatige pryse vir ons produkte kry … maar die hartseer is dat die verbruiker daaronder ly (onthou die boer is óók verbruiker). Die landbou is die enigste bedryf waar die verkoper die volle risiko dra, maar ‘n prysnemer is (maw die koper besluit hoeveel hy vir die produk gaan betaal).

Die situasie raak onmoontlik.

MARELIZE ·

Hoekom is mense bereid om gemaklik verhogings in klere, selfone, meubels, gebruiksartikels te aanvaar, maar kos moet immer goedkoop bly?

Sandra ·

Ek koop niks tensy ek dit nie regtig nodig het nie. ek koop ook nie voor die voet nie, maar ‘shop’ vir die beste prys. Weet nie wanneer laas ek klere gekoop het nie, moet maar klaarkom met dit wat ek het, en ek pleit nie armoede nie.

Danie ·

Wens dit was so eenvoudig. Ek probeer nou al lank om vleis direk van die plaas te koop maar nie een van die 20+ boere wat al vir my pryse gestuur het, is goedkoper as die winkels en of slaghuise nie.

Cherokee ·

Artikel soos hierdie, kan gerus ook die rede(s) vir die belaglik lae koopwaarde van die rand bespreek.

Papsak ·

Ag alles is sky high so eet gaan ons nie meer nie want covid het net alles kom om gooi daarom word alles net duurder want hierdie regering doen dit

Pieter ·

Tyd geword dat ons ons hande bietjie vuil maak e self n groente tuintjie aan die gang kry. Dis inelkgeval goed om in die son te kom en die hele gesin kaan deel wees hiervan. Die produkte smaak ook baie beter, want jy gebruik nie al die gifstowwe soos op komesieele vlakke nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.