Dié longprosedure ʼn eerste vir Afrika

(Foto: Verskaf)

Afrika se eerste endoskopiese longvolumevermindering-prosedure (ELVR) is onlangs by die Netcare Kuilsrivier-hospitaal in Kaapstad gedoen.

Dié behandeling word by verskillende gesondheidsfasiliteite wêreldwyd uitgevoer. Dit was egter ʼn eerste vir Afrika toe die pulmonoloë prof. Coenie Koegelenberg en dr. Dante Plekker dit op die 66-jarige Charmaine Henning uitgevoer het.

Die behandeling bied hoop op verbeterde lewenskwaliteit aan sekere pasiënte wat met chroniese obstruktiewe pulmonale siekte leef; ’n groep longsiektes wat gekenmerk word deur obstruksie van die lugweë.

Chroniese obstruktiewe pulmonale siekte is in 2019 by Henning gediagnoseer en het reeds dae ná die behandeling ʼn aansienlike verbetering in haar asemhaling beteken.

“Ek kan dit nie glo nie, maar die volgende dag, selfs daardie selfde middag ná die prosedure, kon ek ʼn verskil voel,” vertel Henning.

“Ek was verskriklik moeg voor my prosedure. Ek kon nie die paar treë van my kamer na die en suite-badkamer stap sonder om te gaan sit nie.”

(Foto: Verskaf)

Die 72-jarige Chris Ryan, ʼn Britse burger, het die ELVR-prosedure op dieselfde dag as Henning ondergaan, en het ʼn paar bykomende dae in die hospitaal herstel.

Ook Ryan het kort ná die prosedure reeds ʼn verbetering in sy asemhaling opgemerk.

Tipiese simptome van chroniese obstruktiewe pulmonale siekte sluit in asemnood, hoes of hyg wat veroorsaak word deur verskillende grade van skade aan die klein lugsakke of alveoli – wat lei tot emfiseem sowel as chroniese inflammasie van die lugweë.

Plekker verduidelik dat chroniese obstruktiewe pulmonale siekte lei tot die longe se onvermoë om hulself heeltemal te ledig wanneer die pasiënt uitasem. Dit veroorsaak dan dat die longe opblaas wat beteken ʼn pasiënt het minder ruimte in die borskas om asem te haal.

Dié chroniese longsiekte kom gewoonlik by huidige of voormalige rokers voor.

Die toestand kan verswakkende asemhaling veroorsaak, selfs wanneer die pasiënt besig is met normale daaglikse bedrywighede soos skottelgoed was of aantrek.

Plekker sê tipiese behandeling sluit in rookstaking, ingeasemde medikasie sowel as pulmonale rehabilitasie. Sommige pasiënte kan, ten spyte van die behandeling, steeds ernstige simptome ondervind.

Dit is hierdie pasiënte wat ELVR as ʼn bykomende behandelingsopsie moet oorweeg.

ʼn Buigsame veseloptiese kamera of brongoskoop word tydens die minimaal indringende prosedure gebruik om klein eenrigtingkleppe in die lob van die long te plaas wat die meeste deur siekte geraak word. Dit het ten doel om die behandelde lob af te blaas sodat lugvloei na gesonder dele van die longe herlei kan word.

Die prosedure verminder hiperinflasie en verbeter die meganika van asemhaling. Dit genees egter nié chroniese obstruktiewe pulmonale siekte of emfiseem nie, benadruk Koegelenberg.

Koegelenberg sê daar is wel verskeie kliniese proewe wat daarop dui dat ELVR ʼn pasiënt se simptome én longfunksie kan verbeter.

Dit is egter nie enige pasiënt wat dié behandeling kan ondergaan nie.

Pasiënte moet ʼn streng kliniese sowel as fisiologiese ondersoek ondergaan, insluitend volledige longfunksietoetse, om te bepaal of hulle vir die behandeling kwalifiseer.

ʼn Hoë resolusie CT-skandering van die longe word onder meer vereis. Die skandering word dan met ʼn gespesialiseerde sagtewareprogram geassesseer om te bepaal of die pasiënt ʼn geskikte lob vir behandeling het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Samuel ·

Welgedaan. Miskien hoor ons nog meer van soortgelyke prosedure.

Euodia ·

Nou kyk nou wat word hier gedoen maar die ministers gaan Rusland en ander lande toe vir operasies en hospitale!!!

Linda ·

Wonderlik, my kleinseun het baie erge asma, hoop dit is bekostigbaar.

Jaco ·

Mag wit dokters sulke goed doen en dan eer en erkenning kry daarvoor? Ek vra maar net. In dié simpel anti-wit SA moet wit mense mos altyd eers seker maak en toestemming vra vir goed wat normaal is in ander lande wat NIE rasbehep is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.