Dié winkels se winsgrens op knoffel, gemmer vasgestel

Knoffel (Foto: Pixabay)

Pick n Pay het Woensdag ʼn ooreenkoms met die Mededingingskommissie onderteken waarin hy onderneem het om nie sy bruto winsgrens op knoffel en gemmer te verhoog nie. Die ooreenkoms is geldig van 28 Januarie tot 1 April en kan verleng word indien die kosprys van knoffel en gemmer hoog bly.

Pick n Pay het ook sy franchises opdrag gegee om hul prys van gemmer en knoffel nie hoër as die korporatiewe winkelprys op dié produkte vas te stel nie.

Maroela Media het vroeër berig die prys van knoffel en gemmer het so drasties gestyg dat die kommissie dit oorweeg het om van die land se grootste koskleinhandelaars te ondersoek omtrent bewerings dat hulle buitensporige pryse vir knoffel en gemmer vra. Die kommissie het onderneem om Food Lover’s Market, Spar Group, Pick n Pay, Shoprite, Boxer, Cambridge Foods en Woolworths in dié verband te ondersoek.

Dié ondersoek volg op verontwaardiging onder verbruikers en klagtes op sosiale media rakende die beweerde buitensporige pryse van dié produkte deur verskillende verskaffers.

Buitensporige prysstygings word deur die wet omskryf as onbillike of onredelike prysverhogings wat nie ooreenstem met of nie gelykstaande is aan die styging in die koste om die goedere of diens te lewer nie. Knoffel en gemmer is volgens die kommissie op die lys van 22 noodsaaklike produkte ingevolge die nasionale ramptoestand waarvoor daar nie onbillike of onredelike pryse gehef mag word nie.

Mense het te midde van die Covid-19-pandemie na winkels gestroom om natuurlike immuunversterkers soos knoffel en gemmer te koop om hulself teen die virus te help beskerm. Dié gewilde geurmiddels se hoër prys kan ook deels toegeskryf word aan vertragings met die vervoer van produkte weens internasionale inperkings tussen en in lande.

“Die kommissie prys Pick n Pay vir hierdie stap en hoop om soortgelyke ooreenkomste met ander nasionale kleinhandelaars aan te gaan,” sê Siyabulela Makunga, woordvoerder van die Mededingingskommissie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Susan ·

Wat is behalwe knoffel en gemmer nog op die lys van 22 produkte soos hier bo berig?

Dana ·

Het Saterdag amper ‘n hartaanval gekry toe ek die prys van avokados sien. R39.99 vir 2 avokados!!!!

Anoniem ·

Dit het 2 weke gelede R 26.99 vir 1 avo by Food Lover’s gekos.

Raakvatter ·

Checkers was ook R24.99 vir een. By ‘n klein handelaar koop ons ‘n avo (dieselfde as by die groot winkels) vir R7.50 elk. So ook klomp ander produkte wat dieselfde of somes goedkoper as die groot winkels is. Hoe, vra ek jou? Die klein handelaar het nie dieselfde koopkrag as die grotes nie, maar items kos tog goedkoper of dieselfde.

Karina ·

Dit is hoog tyd dat die supermarkte aangevat word oor die geweldige hoë pryse van hul produkte. Week na week is daar ‘n verandering in pryse, as hulle ‘n prys hier afbring, stoot hulle net weer ‘n ander produk se prys daar op.

Antoinette ·

Ek wou by Food Lovers Market 2 granate koop en hulle het my R60 per granaat gevra. Het hulle baie mooi bedank vir die prys en die granate terug gesit.

Jakman ·

Ai, die winkels dink nie aan die arm mense in die land wat ook gesond wil leef. Hulle is die mense wat die winkels aan die gang hou. Geldgierigheid het nog nooit iemand geluk gegee nie. Dink aan die dag as jy oud en afgetree is. Dan dink jy terug aan die dae wat lank reeds verby is en dan sal jy wens jy het meer goed aan ander gedoen want nou beteken dai geld vir jou niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.