Dierekliniek hou deure oop ondanks taxi-chaos

(Foto: Facebook/Mdzananda Animal Clinic)

Die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha is in die brandpunt van die gewelddadige taxi-staking in Kaapstad vasgevang en sê sy werkers is herhaaldelik met die dood gedreig, sou hulle waag om enige mens of dier op te laai.

Die kliniek laat hom egter nie boelie nie en sê werkers sal bly veg vir die diere van dié gemeenskap, ondanks die lewensgevaar waarin hulle verkeer.

Heidi May, hoofbestuurder van die kliniek, sê die afgelope paar dae was angswekkend.

“Een van ons voertuie is Saterdag deur woedende taxi-bestuurders geteiken en toegang tot ʼn noodambulans – vir ʼn hond wat erg gebyt is – is geweier.

“Ons was gelukkig dat die voertuigbestuurder nie aangeval is nie en kon darem ʼn virtuele konsultasie doen om die beseerde hond te stabiliseer.”

Volgens May is die grootste uitdaging om personeel by die kliniek te kry. Die meeste van die organisasie se personeel woon in Khayelitsha, maar sommige bly ook op plekke soos Stellenbosch. Hulle maak gewoonlik van openbare vervoer gebruik om by die werk te kom.

May sê dit bly ʼn prioriteit om personeel veilig by die kliniek te kry. Hul voertuigbestuurder het ook kilometers ver gery om mense op en af te laai.

“Ons personeel is by verskeie geleenthede met die dood gedreig as ons enigsins mense of diere oplaai, maar ondanks die chaos en dreigemente het hulle steeds elke dag by die werk opgedaag om ongeveer 120 siek diere, 55 hawelose troeteldiere en talle gemeenskapsdiere te versorg,” sê May.

“Ons diere moet versorg en tydens noodgevalle behandel kan word. Dit is vir ons uiters belangrik om seker te maak dat geen dier onnodig ly nie.”

Volgens Marcelle du Plessis, verantwoordelik vir geldinsameling en kommunikasiebestuur, moes die kliniek egter die manier waarop dit bedryf word die afgelope paar dae aansienlik aanpas om personeel se veiligheid te verseker.

“Die diereambulansdiens is tans tot noodgevalle beperk; indien dit nie ʼn noodgeval is nie, sal ons telefoniese konsultasies doen om die troeteldier by die huis te stabiliseer.”

Die spreekkamers sluit nou reeds om 14:00 sodat die kliniek se drywer alle personeel veilig by die huis kan besorg voor die spitstydprotesaksie begin.

“Ongelukkig moes ons satelliet-sterilisasiekliniek ook in hierdie tyd sluit. Dit verhoed dat enige sterilisasies nou gedoen kan word.

“Gewoonlik ry ons deur die gemeenskap om die diere te gaan haal, maar weens die gewelddadige staking is ons bestuurders verhoed om die gebiede binne te gaan,” sê Du Plessis.

“Ons mobiele klinieke en deur-tot-deur-onderwysprogramme moes ook tydelik gestaak word en ons hoofkliniek sal tans net noodoperasies uitvoer.”

Die kliniek sê hoewel kapasiteit gedurende die staking beperk is, loop hulle oor van trots oor die span wat te midde van die chaos en geweld verseker dat die diere versorg word.

“Maak nie saak watter uitdaging ons in die gesig staar nie, ons sal altyd alles in ons vermoë doen om daar te wees vir ons diere,” sê Du Plessis.

(Foto: Facebook/Mdzananda Animal Clinic)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Hierdie is goeie voorbeeld van mense wat nie knie buig voor anargiste nie. Sterkte

piet ·

‘n Wit vrou het nou die dag toe ek gestap het gevra vir geld vir hondepille vir haar hond. Ek het gese daar is mense wat honger ly in die land vir wie ek gee en sy moet SPCA toe gaan en vra vir kos vir die hond. Prioriteite…

Piet ·

So dankbaar en trots op julle. Almal van jul werkers is Engele.Dankie.

Delia ·

Baie dankie vir julle toegewydheid en liefde vir die weerlose diere. Dit moet vreesaanjaend wees om so gedreig te word, want ons weet sekere mense het geen respek vir lewe. Weereens dankie. I salute you.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.