Diereskuiling tydelik gesluit weens oorvol hokke

Dallas, een van die hondjies wat by die Tears-diereskuiling beland het. (Foto: tears.org.za)

Die Tears-diereskuiling in Vishoek in Kaapstad moes sy deure tydelik sluit aangesien daar letterlik nie meer plek vir ’n muis is nie. Die skuiling het tans 338 diere (hoofsaaklik honde en katte) in sy sorg; dit is 88 meer as wat die fasiliteit eintlik kan inneem en versorg.

Dit sluit diere in wat tydelik in pleegsorg is.

Die skuiling het intussen aangekondig dat hy geen bykomende klein of volwasse honde sal kan inneem nie. Dit sal eers weer gebeur wanneer diere aangeneem word.

Mandy Store, Tears se bedryfsbestuurder, sê aannemings het vanjaar met byna 40% afgeneem, terwyl daar ʼn groot toename was in die aantal diere wat by die skuiling beland. Dit is hoofsaaklik honde wat by die skuiling afgegee word omdat hul eienaars nie meer kan bekostig om hulle te voer nie.

In die lig hiervan moedig Tears diereliefhebbers aan om eerder aanneming te oorweeg wanneer hulle ʼn nuwe troeteldier wil aanskaf en om hul deure en harte dié feestyd vir ʼn weggooihond of -kat oop te maak.

Tears-werker Sive en een van die hondjies in die skuiling se sorg. (Foto: Tears)

Tears sal hierdie naweek ’n opedag by sy kat- en hondeskuilings aanbied met die hoop om liefdevolle vir-altyd-huise vir sy diere te vind.

Belangstellendes kan die perseel Saterdag en Sondag tussen 10:00 en 14:00 besoek. Die katherberg is by Wenga Farm, Kommetjieweg 21 in Sunnydale, geleë, en die hondeskuiling in Lekkerwaterweg 4, ook in Sunnydale.

Aannemings by die skuiling het vanjaar met byna 40% afgeneem. (Foto: Tears)

Luke Kruyt, skuilingbestuurder, sê die tydelike sluiting sal Tears in staat stel om die nodige sorg, rehabilitasie en liefde aan die diere te gee wat reeds ingeneem en gered is, terwyl daar ook op aanneming en bewusmaking van pleegsorg gefokus word.

Kruyt sê hy hoop mense wat die opedag bywoon, sal besef dat skuilingdiere – of diere wat gered is –  die beste “honderas” is en dat aanneming of pleegsorg aan dié diere die broodnodige tweede kans bied wat hulle verdien.

Belangstellendes kan ook aanlyn na die diere kyk wat beskikbaar is vir aanneming deur Tears se webwerf te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rudolph ·

Die vakansieseisoen het sopas begin en sommige diereskuilings (huisdierskuilings) is alreeds oorvol. Want so lief het mense hulle honde en katte dat hulle daar afgelaai word sodat hulle diereliefhebber eienaars sorgvry kan vakansie hou. Dit bevestig my voorkeer om nooit ‘n diereliefhebber te wees nie

Mariana ·

Is waar mense Se diere Nou n oorlas as hulle met vakansie Wil gan
Dit is bitter bitter hartseer Om enige Dier in n hok TE Sien
Eienaars geniet hul gate uit terwyl daai arme Hond,/Kat daar Moet sit en Nie dit gewoond is
Wonder of die mense hul kinders ook so sal WEG gooi…
My Hart gan uit Na Elke liewe diere kinders
Wens Kon Al die honde red en aanhou sal heeldag aldag Om en Saam hulle wees…
As mense diere is Nie speelgoed…
Diere het ook n Hart n brein Alle werkende organe die belangrikste een is dat jou dier jou Meer lief het as enige van jou famillie lede…
En jou altyd sal oppas en beskerm

Jan Jacobs ·

Dis jou Godgewe plig om na jou diere om te sien, die mensdom verval nou met n spoed.

trotsNAMSA ·

Mense is wreed teenoor ander en diere. Solank dit hulle pas, sal diere in hul lewens wees. Kom die “swaartye” en “daar is fout met die dier”, is dier “welkom”. Daardie soort mense wat hul diere kom aflaai, is gewoonlik die wat geen liefde vir diere het nie. Die dier is net nog ‘n “ding” vir hulle om te sê ek het ‘n dier. Die mense het gewoonlik ook sosiale probleme soos woede.
Ek sal liewers honger ly. Dan praat ek nie eers van hoe daardie dier behandel is terwyl hy/sy in hul sorg was nie. Dit is beter dat dier by plekke soos TEARS uitkom. Mense wat diere aanhou sonder die nodige leiding, liefde sal ook hul mede mens leed aandoen. Kyk hoe lyk SA se moord statistieke, as jy diere kan leed aandoen, kan jy jou ‘n mens leed aandoen. BLY LIEWER SONDER ‘n DIER.
Mag almal by TEARS geseënd word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.