Dieretuin-man dood in huis gevind

Craig Allenby is al sedert 1991 by die Pretoriase Dieretuin betrokke (Foto: Craig Allenby, Facebook)

Craig Allenby, die jarelange woordvoerder van die Pretoriase Dieretuin, is Donderdagoggend dood in sy huis in Pretoria aangetref.

Volgens Phillip Bruwer, ’n vriend en kollega, was die tyding van Allenby se dood ʼn groot skok vir sy vriende en familie.

“Ons weet nie presies wat die omstandighede rondom sy dood is nie, maar die polisie ondersoek tans die saak en vermoed geen vuilspel nie,” sê Bruwer.

Allenby was vir die afgelope 30 jaar by die dieretuin werksaam en was ten tye van sy dood ook ʼn direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi). Hy het ʼn tyd gelede by sy ma ingetrek om haar te versorg. Sy vriende en voormalige kollegas sal veral sy liefde en passie vir die natuur onthou.

Angeline Swan, Allenby se jare lange kollega by die dieretuin, het aan Maroela Media gesê dat Allenby in 1991 in die finansiële departement van die dieretuin begin werk het. Hy het aan die einde van dieselfde jaar na die departement van kommersiële dienste en sakeontwikkeling geskuif. Later is hy as woordvoerder van die dieretuin aangestel.

Allenby het in 2018 na Sanbi se hoofkantoor van bemarking, kommunikasie en handel oorgeskuif en is in Januarie 2020 tot direkteur van dié departement bevorder. Hy is toe ook as die algemene woordvoerder van Sanbi aangestel.

“Hy was baie passievol oor sy werk en vir dit waarvoor die dieretuin gestaan het. Hy was ’n paar jaar gelede vir ’n rukkie lank die waarnemende direkteur van die dieretuin en dit was baie spesiaal vir hom,” vertel Swan.

Bruwer vertel hy het baie vir mense en die omgewing omgegee. “Hy was altyd vol raad en wysheid,” vertel Bruwer. “Vriende en familie was ook vir hom baie kosbaar. Hy het altyd uit sy pad gegaan om hulle te help.”

Maroela Media het ’n navraag aan die provinsiale polisiewoordvoerder gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Mag hy in vrede rus en simpatie aan sy naasbestaandes en kollegas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.