Diewe speel-speel slimmer met vuurwapens

(Foto: Verskaf deur VRCID)

ʼn Groot hoeveelheid wapens wat vanjaar in kriminele se besit gevind is, was nagemaak of het nie gewerk nie. Misdaadkenners sê nou nagemaakte vuurwapens, replika- of speelgoedwapens word hopeloos te gereeld in misdade reg oor die land gebruik om onwetende slagoffers te manipuleer.

Dié speelgoed is boonop moeilik om te onderskei van die ware jakob en die effek daarvan op slagoffers is ewe traumaties.

Die Voortrekkerwegkorridorverbeteringsdistrik (VRCID) is ʼn nie-winsgewende organisasie wat ten doel het om die veiligheid, voorkoms en gemeenskapsidentiteit van beide Bellville en Parow in die Wes-Kaap te verbeter. Derek Bock, bedryfhoof van VRCID, sê hulle het sedert Januarie vanjaar meer as 100 speelgoedwapens uit die hande van vermeende misdadigers verwyder. Dit verteenwoordig 90% van vuurwapens waarop daar in dié gebied beslag gelê is.

“Ons het ook talle egte wapens gekonfiskeer, maar die meeste van hulle het geen werkende dele gehad nie,” sê Bock.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê hoewel nagemaakte vuurwapens nie ʼn nuwe verskynsel is nie, die gebruik daarvan in misdade in Kaapstad beslis toegeneem het.

“Dit verbaas my glad nie; hierdie wapens is maklik bekombaar en lyk op die oog af nes ʼn werklike vuurwapen.”

AO Johan van Dyk, ʼn polisiewoordvoerder van Pretoria, sê ook talle mense reg oor Suid-Afrika word op ʼn daaglikse basis die slagoffer van ʼn misdaad waarin ʼn nagemaakte vuurwapen gebruik word.

“Almal verkoop nou nagemaakte of speelgoedwapens. Baie mense koop dit ook om hulself te beskerm. Dit is bekostigbaar en die transaksie vat jou nie eers twee minute nie.

“Ons sit met ʼn ernstige probleem. Mense word met speelgoedwapens van waardevolle besittings beroof en selfs gyselaar gehou. Ek kan ook nie eers vir die publiek wenke gee om tussen ʼn regte vuurwapen en ʼn speelgoedwapen te onderskei nie. Selfs die gewig van die nagemaakte vuurwapen is dieselfde, alles lyk 100% dieselfde.”

Bock sê VRCID se veiligheidsbeamptes is opgelei om tussen ʼn regte en ʼn nagemaakte vuurwapen te onderskei, maar dat dit altyd ʼn riskante besigheid bly.

“Veral in ʼn oomblik van nood is dit onmoontlik om tussen ʼn werklike en speelgoedwapen te onderskei.

“Dit beklemtoon die erns van ons missie. Elke wapen wat verwyder word, ongeag sy aard, verteenwoordig ʼn potensiële bedreiging wat afgeweer word, wat bydra tot ʼn veiliger omgewing vir almal.”

(Foto: Verskaf deur VRCID)

Smith sê misdadigers glo dat hulle met ʼn misdaad kan wegkom deur van ʼn speelgoedwapen gebruik te maak.

“Die Wet op Vuurwapenbeheer verbied egter die gebruik van ʼn nagemaakte vuurwapen. Dit is enigiets wat die voorkoms van ʼn vuurwapen het, maar nie in staat is om as sodanig te funksioneer nie en nie deur oppervlakkige ondersoek as ʼn nabootsing/namaaksel geïdentifiseer kan word nie,” sê Smith.

Die privaatspeurder Mike Bolhuis sê ook die gebruik van ʼn nagemaakte vuurwapens kan ernstige regsgevolge hê, insluitend inhegtenisneming en aanklagte vir vuurwapenverwante misdrywe.

Hy sê die konfiskering van vuurwapens is van kardinale belang om ander misdade op te los, aangesien wapens vir ballistiese toetse gestuur word wat wapens en die gearresteerde verdagtes met ander voorvalle kan verbind.

(Foto: Verskaf deur VRCID)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.