Dinamiese 80-plussers vang graad

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Emmanuel Offei/Unsplash)

Twee gegradueerdes kan nou in hul tagtigerjare nog ʼn prestasie agter hul naam skryf nadat albei op ʼn gevorderde ouderdom nagraadse akademiese programme voltooi het.

Antoinette Swart (83) en Rosemary Lapping-Sellars (80) sal Maandag onderskeidelik ʼn PhD en meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Swart kry haar doktorsgraad in Antieke Kulture en Lapping-Sellars haar meestersgraad in Visuele Kunste.

Albei vroue beskryf dié prestasies as “onwerklik” en ʼn droom wat eindelik verwesenlik is.

“Om tagtig te wees, is niks anders as om twintig of veertig te wees nie – dit is net ʼn getal,” sê Lapping-Sellars.

Vir haar is die voltooiing van haar graad die hoogtepunt van haar lewenslange kunsloopbaan.

“My lewe as eerlike kunstenaar is in die wese van ʼn vrou saamgevat wat die lande omploeg ondanks die droogte, en wat elke dag as propvol potensiaal en moontlikhede beskou.”

Swart het om die beurt gesê sy het nie beplan om ooit nog ʼn graad te verwerf nie, maar twee vriende wat albei professors by die US is, het haar oorreed.

“Die fontein van kennis is nimmereindigend en daar is so baie om te leer,” sê sy.

“Dit verg tyd en deursettingsvermoë, maar die beloning is ewigdurend.”

Boekwurm van formaat

Antoinette Swart (83). (Foto: Stefan Els)

Swart, wat op 16-jarige ouderdom aan die Hoërskool Rustenburg in Noordwes gematrikuleer het en tans in George woonagtig is, het reeds in 1957 haar eerste graad in Plantkunde aan die US ontvang.

In 1958 het sy haar BSc-honneurs in Plantkunde met lof geslaag en in 1960 met ʼn meestersgraad in Plantkunde weggestap. In 2011 behaal sy ʼn BPhil-graad in Bybelinterpretasie en in 2013, op 75-jarige ouderdom, haar MPhil in Bybelinterpretasie (cum laude). Sy het ook twee nagraadse diplomas – onderskeidelik in biblioteekkunde en hoër onderwys – van Unisa.

Swart het as jong gegradueerde as ʼn junior lektor in Plantkunde by die US gewerk voordat sy as tegniese navorsingsbeampte by die Vrugtenavorsingstasie op Stellenbosch begin het. Terwyl haar man verder studeer het op die landboukampus van die Universiteit van Toronto, het sy as ʼn navorsingsassistent in die Plantkunde-departement gewerk.

Tien jaar lank daarna was sy voltyds ʼn ma voordat sy tot die onderwys toegetree het by Grey-kollege in Bloemfontein en toe by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria.

Later het sy ʼn senior dosent in Plantkunde by die Onderwyskollege vir Voortgesette Opleiding geword. Sy was ook vir ses maande waarnemende dosent in die Didaktiek van Biologie by Unisa.

Swart se ma het haar destyds as ʼn “professionele student” beskryf en sy hoop om dit steeds voort te sit.

Swart wil nou ʼn paar artikels saam met haar kleindogter Elanij Swart skryf. Dié het ook pas haar PhD in Bybelse Argeologie aan Unisa verwerf.

Kuns in haar bloed

Rosemary Lapping-Sellars (80). (Foto: Verskaf)

Lapping-Sellars het aanvanklik ʼn BA-graad in Beeldende Kunste en Sielkunde van die destydse Universiteit van Natal verwerf en daarna ʼn pos as hoof van die keramiekdepartement by die voormalige Port Elizabeth Technikon aanvaar.

ʼn Jaar later het sy egter na haar tuisstad, Pretoria, teruggekeer om ʼn kinderkunsateljee te open. Sy het ook twee jaar lank in Frankryk gewoon en ʼn tyd lank kuns gegee by die Nato-basis in Fontainebleau. Sy woon nou in Kaapstad.

Dié kunstenaar van formaat het in 1985 ʼn honneursgraad in Beeldende Kunste aan Unisa verwerf en het ook as mederedakteur van die tydskrif van die Keramiekvereniging van Suid-Afrika gewerk. Hier het sy lesings gegee wat sy glo tot ʼn vars uitkyk op gebakte klei in die land gelei het.

Lapping-Sellars het in 1983 die keramiekdepartement by die Herschel-skool begin en het dit uitgebou tot ʼn sentrum met 140 studente. Sy en haar man het vanaf 1999 vir ses jaar in Ierland gewoon waar sy ʼn korrespondensiekursus by die Opus-tekstielskool voltooi het en tot haar uitstalling in Londen saam met die skool in 2004 gelei het.

Ná haar terugkeer na Kaapstad in 2006 het sy ʼn multimedia-onderrigateljee vir volwassenes geopen wat sy tot 2016 bedryf het.

Lapping-Sellars sê ná die onverwagse dood van haar man in 2019 was sy verplig om die algoritme in haar kop te herskik en dit het haar tot hierdie meestersgraad gelei.

“Ek gaan nou aanhou werk in my ateljee, onderrig gee en reis, en miskien ook nog ʼn boek skryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Katrynjie ·

Wat n inspirasie!! Baie baie geluk met so n ongelooflike prestasie en ek hoop ek kan eendag die beloofde boek lees!

Anonymouse ·

Ek stem! Dis altyd wonderlik om sulke artikels te lees. Ek persoonlik dink dat dit baie belangrik is vir mens se geestestoestand om aan te hou leer, en aan te hou streef na ‘n doelwit.

Cherokee ·

Nie beloofde boek nie Katrynjie. Miskien, sê sy. Hang af van waarheen inspirasie haar lei.

miavos ·

Ek het ‘n oneindige bewonderinge vir mense soos dié. Baie geluk. Woorde ontbreek.

Shakespeare ·

Julle het die goue lepel van talent, intellek, volharding, selfbeheersing, gesondheid en deursettingsvermoë gekry. Ek loof Hom wat dit vir julle gegee het. Welgedaan dat julle hierdie talente so goed ontgin het.

Blomme ·

Wonderlike en vreugdevolle nuus. Trots op hierdie 2 dames. Wys net dit kan gedoen word.

SjN ·

Knap gedaan, baie geluk met die prestasie, die 2 oumas woeker met hul talente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.