Dion Theys dae ná skuldigbevinding wéér in hof

Dion Theys (Foto: Noord-Kaapse departement van gesondheid/Facebook)

ʼn Week nadat dr. Dion Theys, waarnemende hoof van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, skuldig bevind is vir oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, is hy weer in hegtenis geneem.

Theys (56) word saam met ander amptenare van die provinsiale departement en maatskappydirekteure beskuldig van beweerde onreëlmatige verkryging van persoonlike beskermende toerusting.

Theys is verlede week tot ʼn boete van effektief R50 000 gevonnis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy drie huurooreenkomste met JP Hugo Trading gesluit het, ten bedrae van meer as R13 miljoen, sonder om die voorgeskrewe maatreëls en verkrygingsprosesse te volg.

Die ander beskuldigdes in die jongste saak is Mosimanegape Gaborone (54), finansiële hoof van die departement, Victor Nyokong (39), adjunkdirekteur van finansies, Montgomery Lifa Faas (49) en Siyabolela Booi, albei van die voorsieningskettingbestuur-afdeling, Kenyaditswe McDonald Visser (44), direkteur van MKV Investments, Goitsemodimo Dibueng Moseki (50) en Elizabeth Dibueng Manyetsa (63), albei van die afdeling oordraagbare siektes, en Kelebogile Agnes Bogatso (58), direkteur van Stilofern (Edms.) Bpk.

Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), staan die beskuldigdes tereg op aanklagte van oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, bedrog, korrupsie en geldwassery.

“Die beskuldigdes is in hegtenis geneem ná multidissiplinêre ondersoeke en die saak spruit uit kontrakte vir persoonlike beskermende toerusting wat onregmatig aan maatskappye toegeken en betaal is sonder om behoorlike verkrygingsprosesse te volg.” Die beweerde verlies hiervan beloop meer as R16 miljoen.

Tydens hul verskyning in die Kimberley-landdroshof vroeër die week is Faas, Booi en Bogatso borgtog van R10 000 elk toegestaan, terwyl Visser borgtog van R50 000 toegestaan is. Moseki en Manyetsa is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Die saak is tot 16 Oktober uitgestel.

Theys, Gaborone en Nyokong se borgtogaansoeke is deur die staat teengestaan en uitspraak sal Maandag gelewer word. Die drie beskuldigdes bly in aanhouding.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Die boete word maklik betaal met die tjo tjo geld wat die skelm dr ontvang het, laat hy gaan sit, laat hy voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.