Dis heerlike lente, maar winter (nog nie) verby

Argieffoto: Pixabay

Lentedag is om die draai en volgens die weerdiens kan die meeste Suid-Afrikaners nou maar die somersklere begin uitpak.

Warmer temperature word vandeesweek vir die sentrale en noordelike dele van die land voorspel, terwyl die Wes-Kaap, Oos-Kaap en dele van KwaZulu-Natal steeds kouer temperature sal ervaar.

Temperature vir die meeste dele van die land sal egter van September af geleidelik styg namate kouefronte al hoe minder voorkom. Boonop verwag die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ’n effens warmer lente en somer as vorige jare.

Die meeste Suid-Afrikaners het die afgelope naweek gebibber van die koue weens twee kouefronte wat byna gelyktydig die land getref het. ’n Derde kouefront het Maandag die Wes-Kaap getref en sal teen Dinsdag in die rigting van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal beweeg. Hierdie provinsies sal dus vir die res van die week steeds koue temperature trotseer.

Die res van die land sal egter ’n warmer Lentedag kan geniet.

Volgens Venetia Phakula, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), blyk dit dat die kouefronte nou sal begin afneem namate die winterseisoen draai.

“Dit is egter in hierdie stadium moeilik om te bespiegel dat daar geen verdere kouefronte sal wees nie, aangesien dit moeilik is om so ver vooruit te voorspel,” het Phakula gesê.

Volgens Phakula kan die land van hierdie week af geleidelik warmer dae beleef namate die somer nader kruip. Daar kan wel nog enkele kouer dae in September verwag word.

“Temperature sal vandeesweek heelwat styg in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Vrystaat, Noordwes en dele van die Noord-Kaap.”

Volgens Phakula verwag die weerdiens bonormale minimum- en maksimumtemperature tussen September en Desember vir die hele land.

Die sogenaamde “normaal” verwys na die gemiddelde temperature in Suid-Afrika oor die afgelope 35 jaar. Dit beteken dat Suid-Afrika ’n effens warmer lente en somer kan verwag hoewel daar geen uitermatige temperatuurverskil gaan wees nie.

ʼn Bonormale somerreënvalseisoen word vir die noordoostelike gebiede, waaronder Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en die noordelike gedeeltes van die Vrystaat en KwaZulu-Natal, verwag. Reënval in die suidwestelike dele van die land kan egter minder reën ontvang.

Volgens die weerdiens sal die verwagte ondernormale reënval wat in die suidwestelike gebiede van die land verwag word moontlik druk op waterbronne in hierdie streke plaas. Dele van die Oos-Kaap wat reeds onder droogte gebuk gaan, sal veral na verwagting swaartrek.

Die weerdiens sê die bonormale reënval wat gedurende die somerreënvalseisoen in die noordoostelike gebiede van die land verwag word, sal waarskynlik ’n positiewe uitwerking op gewas- en veeproduksie hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank John ·

Ek glo dat God in beheer van doe weer is en ons kan Hom vra vir wat nodig is en Hy sal gee volgens Sy wil. Ons kan voorspel en bespiegel en afleidings maak maar By God is alle dinge moontlik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.