Dis nou ‘reg of weg’ by TMPD

Argieffoto bloot ter illustrasie van die Tshwane-metropolisie. (Foto: TMPD/Twitter)

Die Tshwane-metroraad het net mooi genoeg gehad van korrupte metropolisiebeamptes.

“Ons is nou verby die punt van soebat en smeek. Daar is net een manier. Dis óf reg óf weg,” sê Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Tshwane-metroraad, nadat daar ná menigte voorvalle van korrupsie besluit is om die Tshwane-metropolisie (TMPD) te herstruktureer.

Die herstruktureringsproses (wat ’n verandering van die TMPD se topbestuur behels) kom ná talle klagtes van motoriste dat metropolisiebeamptes hulle intimideer en afpers, ten einde duisende rande in hul eie sak te steek.

Maroela Media het vroeër berig oor die sogenaamde skrikbewind wat metropolisiebeamptes in die metro se strate uitvoer, met Pretorianers wat in ’n stadium te bang was om snags agter die stuur in te skuif.

Intussen word daar sterk opgetree teen die metropolisiebeamptes wat hulle skuldig maak aan die intimidasie van motoriste.

Die Tshwane-metro het die afgelope jaar dissiplinêre stappe teen meer as 250 lede van die TMPD aanhangig gemaak. Meer as 40 is in hegtenis geneem en strafregtelik aangekla. In sommige gevalle het Theunissen self in die hof gaan getuig.

Tans word drie metropolisiebeamptes van Tshwane deur meer as 20 aanklagte van onder meer intimidasie en afpersing in die gesig gestaar.

“Julle kan hierdie drie maar dophou. Ons gaan vir hulle toesluit en die sleutel weggooi,” sê Theunissen.

Nuwe TMPD-hoof

Theunissen erken daar is ’n verval in die metropolisie te bespeur. “Die TMPD was vir baie lank leierloos. Ek het in Januarie verlede jaar met ’n skok wakker geword en besef daar is ’n metropolisiehoof én adjunkhoofde, maar hulle doen boggerôl.”

Daarom is besluit om die topstruktuur van die metropolisie te verander. “Ons gaan seker maak ons kry mense wat die werk wil én kan doen.”

Een van diegene is die TMPD se splinternuwe hoof, Yolande Faro, wat drie weke gelede vir diens aangemeld het. Volgens Theunissen vat Faro nie nonsens nie.

Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in Tshwane. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Nie minder nie as 14 metropolisiebeamptes is sedert Faro se aanstelling aangekla ná ’n voorval op die N1 in die omgewing van Hammanskraal.

Faro, vroeër adjunkhoof van die Kaapstadse metropolisie, was tot onlangs nog die metropolisiehoof van Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap.

Theunissen sê Faro het inderwaarheid die metropolisiedepartement in die Baai gestig, aangesien dit aanvanklik slegs ’n verkeersdepartement was.

Theunissen sê die TMPD het in dié stadium ook twee vakante poste vir adjunk-metropolisiehoofde. Nog twee poste sal in ’n latere stadium oopgestel word.

Groot planne aan’t kom

Die Tshwane-metro is ook tans besig met makroherstrukturering, wat beteken dat sommige departemente binne gemeenskapsveiligheid saamgegroepeer gaan word.

Theunissen verduidelik dat die mandaat van die TMPD tans verkeersbeheer, toepassing van verordeninge en misdaadvoorkoming is.

Die metro beoog nou om gespesialiseerde eenhede op die been te bring wat hul op elk van die mandate sal toespits. Spesialiseenhede binne die afdeling van misdaadvoorkoming word ook beplan.

“Maar ons het ongelukkig nie die vermoë om op ons eie misdaadvoorkoming toe te pas nie,” verduidelik hy.

Theunissen se visie is daarom om ’n direktoraat van gemeenskapsveiligheid onder leiding van die metropolisiehoof op die been te bring, wat samewerking tussen die Stad Tshwane en die breër gemeenskap sal koördineer. “Dis waarheen ons mik.”

“Ons wil ’n gemeenskapsgeoriënteerde benadering volg. Daar is buurtwagte, daar is gemeenskapspolisiëringsforums en private sekerheidsmaatskappye wat kan help.

“Indien ek een ding tydens my ampstydperk agterlaat, is dit om mense te kry wat die gemeenskap dien soos wat hulle dit moet doen en hoe dit hoort,” sê Theunissen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hpven ·

Dankie Mnr Theunissen, elke bietjie help! My persoonlike mening, die skoonmaak proses moet onder parlementslede begin word. Daar waar die voorbeeld gestel behoort te word. Die vele twyfelagtige sake soos byvoorbeeld die Phala Phala aangeleentheid en ander wat net halfpad of selfs nooit afgehandel word nie motiveer en wentel af na die huidige grootskaalse korrupsie! Dit sal NOOIT stop voordat die parlement skoongemaak word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.