‘Dis vakansie,’ sê SA toe Israel oor volksmoordklag wou praat

Tal Becker, namens Israel, in die Internasionale Geregshof. (Foto: Remko de Waal / ANP / AFP)

Terwyl die wêreld wag vir die uitspraak oor Suid-Afrika se volksmoordklag teen Israel in die Internasionale Geregshof, debatteer kenners oor hoe sterk die saak werklik is. Met moontlike prosedurele én substantiewe gate in die saak, is ʼn groot oorwinning vir Suid-Afrika egter nie so seker nie.

Onvoldoende prosedure gevolg

Volgens prof. André Thomashausen, emeritusprofessor in internasionale reg by Unisa, het Suid-Afrika die eerste misstap begaan nog voor die saak aanhangig gemaak is.

Artikel 9 van die Volksmoordkonvensie van 1948, op grond waarvan die klag gelê word, stipuleer dat daar ʼn dispuut tussen twee state moet wees vir die Internasionale Geregshof om jurisdiksie te hê.

“Hierdie is nie net ʼn sentiment nie, daar moet voldoende interaksie tussen partye wees voor ʼn saak gebring kan word. Suid-Afrika is oneerlik in hierdie opsig.”

Die vereistes sluit in dat die betrokke partye, Israel en Suid-Afrika, eers die dispuut buite die hof probeer oplos in bilaterale samesprekings alvorens hulle die hof kan nader as “laaste uitweg”.

Israel voer aan dat Suid-Afrika op 22 Desember 2023 amptelike diplomatieke kommunikasie aan hom gestuur het waarin Suid-Afrika besware oor “volksmoord” geopper het. Israel het dadelik hierop geantwoord met ʼn versekering dat hulle binnekort na Suid-Afrika gaan terugkom met inligting en voorstelle vir amptelike gesprekvoering. Toe Israel die datum vir hierdie gesprekvoering wou vasstel, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking op 27 Desember 2023 kennis gegee dat die kantoor reeds vir die vakansie gesluit is en hulle dus nie enige kommunikasie aanvaar nie. Twee dae later, op 29 Desember 2023, is Suid-Afrika se aansoek by die hof ingedien.

Prof. Hennie Strydom, professor in internasionale reg aan die Universiteit van Johannesburg, verduidelik dat die hof slegs jurisdiksie het en die saak kan aanhoor indien ʼn dispuut volgens die vereistes verklaar is.

Indien Suid-Afrika inderdaad Israel se skrywes en versoeke geïgnoreer het, kan die hof moontlik bevind dat ʼn dispuut nooit verklaar is nie.

Dit is ʼn groot fundamentele fout wat die saak moontlik kan sink, verduidelik Thomashausen.

Strydom meen die hof het in die verlede, in soortgelyke sake, wel ten gunste van geldige dispute probeer beslis as daar redelike getuienis van ʼn dispuut is. Omdat dit so ʼn belangrike saak is, sal die hof waarskynlik gunstig beslis oor die dispuutvereistes sodat minstens die tussentydse maatreëls toegestaan kan word, sê Strydom.

“Die hof kan egter nie gapings in sy argumentering laat [oor die jurisdiksie] nie omdat dit ʼn risiko vir die hof inhou.”

Volksmoordbedoeling

Indien Suid-Afrika wel die prosedurele hekkie oorkom, moet (1) volksmoordbedoeling asook (2) die moontlikheid van volksmoord ook nog bewys word vir ʼn suksesvolle klag.

Volgens Thomashausen is ʼn oorwinning vir Suid-Afrika hoogs onwaarskynlik.

“Die groot getal mense betrokke by hierdie saak [aan Suid-Afrika se kant] maak nie op vir hul tekort aan wysheid oor of kennis van die internasionale reg nie.”

Volgens Thomashausen het Israel legio bewyse voorgelê dat hy uit sy pad gaan om die getal verliese en lyding van mense in die uitoefening van sy selfverdediging teen Hamas te mitigeer. Aan die ander kant het Suid-Afrika volgens hom verskeie onvoldoende en oneerlike bewyse tot die teendeel voorgehou.

“Nie elke belediging is ʼn aanranding nie. Nie elke dood is ʼn moord nie. Nie elke gebruik van militêre mag of selfs ʼn oorlogsmisdaad is volksmoord nie.

“Nie elke verskriklike humanitêre krisis in Gaza is volksmoord as sodanig nie.”

Strydom meen die bewys van volksmoordbedoeling is moeilik en Suid-Afrika sal onwaarskynlik hierin slaag. Die aansoek om tussentydse verligting kan meer waarskynlik slaag omdat die onus veel laer is met net die moontlikheid van volksmoord of toekomstige volksmoord bewys moet word.

Die saak is nie volledig waterdig nie, maar dit het beslis die meriete dat die saak in Suid-Afrika se guns beslis kan word, sê Strydom.

“Suid-Afrika wat hierdie klag aanhangig gemaak het, val [daarom] op die oog af nie in die kategorie van diplomatieke misstappe nie.”

Thomashausen meen weer op suiwere akademiese vlak “sou ek hierdie saak uitgegooi het as ek die hof was” omdat Suid-Afrika op die keper beskou “nie ʼn goeie saak uitmaak nie”.

Alternatiewe roetes

“Hoewel hierdie ʼn groot krisis is, is dit nie een wat opgelos kan word deur die 17 regters van die Internasionale Geregshof nie,” sê Thomashausen.

Volgens hom moet ʼn VN-vredesmissie tesame met humanitêre hulp eerder ingestuur word sodat ʼn vredeskonferensie gehou kan word.

“As [Suid-Afrika] eerder, soos wat Oekraïne gemaak het teen Rusland in die IG, argumente van aggressie of oorlogsmisdade geopper het, is dit ʼn ander storie en beweeg jy na ander internasionale instrumente.”

Strydom meen weer hierdie was, gegewe die huidige feite, die beste internasionaal regtelike instrument om aan te wend in ʼn poging om humanitêre vergrype te keer – veral in die lig van die feit dat diplomatieke druk tot dusver min vrugte afgewerp het.

“Die dispuut-opsie in die Volksmoordkonvensie was eintlik in daardie stadium die geskikste maatreël om ingryping uit te oefen.”

Prof. Koos Malan, konstitusionele juris verbonde aan Sakeliga se sentrum vir konstitusionele dinamika, meen weer Suid-Afrika moes van die begin af nie by die saak betrokke wees nie.

“Suid-Afrika geniet geen bona fides by die Israelse regering nie. ʼn Staat wat so ʼn rekord van partydigheid opgebou het by een party, het homself eintlik volkome gedistansieer van enige politiese invloed op die verloop van sake.”

Volgens Malan is die enigste state wat regtig in dié konflik tussenbeide kan tree, die VSA, Indië, Rusland, China en ʼn streeksmoondheid soos Egipte of Katar.

“Dit is net hierdie state wat dit kan doen en behoort te doen. Suid-Afrika het geen bona fides, mag of invloed nie en hoort glad nie in die geveg nie.

“Boonop geniet hierdie saak ook nie juis groot internasionale ondersteuning nie. China, Rusland en Indië is tjoepstil hieroor, wat ʼn groot probleem is omdat dit Suid-Afrika se grootste Brics-bondgenote is.”

Duitsland se toetrede is ook iets wat swaar weeg ten gunste van Israel en swaar weeg teen Suid-Afrika, sê Malan.

Ware bedoelings

Waarom presies het Suid-Afrika dan tot die geveg toegetree?

Thomashausen meen Ronald Lamola, minister van justisie, se uitlatings dui tog iets aan van die regering se beweegredes: “Minstens het ons die humanitêre krisis van die Palestyne aan die wêreld uitgelig.”

Malan twyfel weer sterk dat die regering enigsins morele beweegredes hieragter het.

“Hierdie het niks te doen met enige morele kwessie nie, maar eerder met die ANC se eiebelang en beeldpoetsery.”

Die belangrikste rede vir volksmoordklag is vir die ANC om “op ʼn internasionale forum te pronk om die indruk te wek dat hy sterk is te midde van die werklikheid dat hy misluk het”.

Toetrede tot die saak spruit veel eerder uit Suid-Afrika se swakheid as sy mag, verduidelik Malan.

Strydom lig ook verdere spekulasie uit dat Iran die ANC as party uit die finansiële moeilikheid gehelp het, met die ANC wat gevolglik dié saak help dryf.

“Daar is geen bewyse in dié verband nie, maar dit is ʼn saak wat beslis verder ondersoek moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries ·

Neem kennis, hpven, die ANC luister na geen raad nie, hetsy goed of sleg.

Bolandse Nooi ·

En die ANC regering, op die belastingbetaler se onkoste, sit alweer met eier op die gesig ….

hpven ·

@ Dries jy is reg, dit is hoekom hulle die land van een mislukking na ‘n volgende groter mislukking bestuur en Ramaphosa vir alle regerings en sy hand om die blaas terroriste van raad wil bedien. Dan gaan bakhand staan om hul bodemlose sakke te vul…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.