Dís wat die prys van jou ‘brekkie’ raak

(Foto: Robert Owen-Wahl/pixabay)

Sommige mense glo vas ontbyt is die belangrikste maaltyd van die dag en goeie nuus is dat dié produkte wat tradisioneel deel vorm van ʼn lekker stewige brekfis, na verwagting binnekort weer gaan begin daal.

Paul Makube, ʼn senior landbouekonoom by FNB, sê die koste van jou ontbyt-van-kampioene behoort jou binnekort veel meer soos ʼn wenner te laat voel.

“Hoewel daar die afgelope ruk ʼn verbetering was, was die afgelope paar maande taai en daar is ʼn dieper storie agter die wisselvalligheid in die pryse van stapelitems soos melk, eiers, vleis, brood en graan,” verduidelik Makube.

Melk

Melk en suiwelprodukte. (Foto: Verskaf)

Oor die afgelope 15 jaar het Suid-Afrika ʼn stelselmatige afname in die getal suiwelboerderye ondervind – en net sowat 1 000 is in hierdie stadium oor. Hoewel dit nie melkproduksie aansienlik laat verminder het nie, dra ander faktore by tot die prys van vars melk wat gaandeweg styg.

Die grootste van hierdie redes is die eksterne druk op voedselproduksie soos stygende insetkoste en kunsmis wat noodsaaklik is om weiding gesond te hou. Die invoer van langlewemelk het boonop skerp gestyg – hoofsaaklik gedryf deur supermarkte – en die laer koste van dié melk het druk op suiwelprodusente geplaas, sê Makube.

Gewoonlik het die produksie van kaas en poeiermelk suiwelboere se inkomste help aanvul, maar weens die daling in die beskikbaarheid van melk is die sekondêre bedrywe ook geraak. Gevolglik het die verbruikersprys-subindeks van items soos melk, eiers en kaas op dubbelsyfer-vlakke gebly.

Eiers

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Lus vir ʼn drie-eier-omelet of lekker gebakte eiers? Makube sê verbruikers sou die afgelope paar maande opgemerk het dat die prys van eiers ʼn betreklike gat in hul sak gelaat het.

“Die prys van eiers het gaandeweg sedert die begin van die jaar toegeneem. Weereens was die groot sondaar hier stygende insetkoste, veral duurder voer vir die hoenders,” verduidelik Makube.

Hy sê sporadiese uitbrekings van voëlgriep het sommige boere gedwing om groot gedeeltes van hul lêhoenders van kant te maak – wat algehele verskaffing laat daal en pryse laat styg het.

Ná ʼn daling in graanpryse het die situasie verbeter. Die druk op verbruikers se inkomste het ook ʼn negatiewe uitwerking op die vraag na eiers gehad en het beteken die prys van ʼn halfdosyn eiers het met 2,5% gedaal en met 10% vir 18 eiers.

Varkvleis

Volgens Makube het varkvleisproduksie verlede jaar groei van meer as 9% ondervind. Ondanks die toename in produksie was daar steeds groot winsdruk op produsente weens hoër voerpryse. Suid-Afrika is ʼn netto-invoerder van varkvleis en die land word geraak deur neigings op die internasionale front.

“Die onlangse toename in die prys van Europese varkvleis, weens dalende beskikbaarheid, hoë insetkoste en onsekerheid oor nuwe standaarde vir dierewelsyn, het die pryse van varkworsies en daardie gunstelingsnit-spek opgejaag.

“Die spek- en hamprys het volgens die jongste inflasiesyfers met onderskeidelik 10,7% en 8,8% op ʼn jaargrondslag in Julie 2023 toegeneem,” sê die ekonoom.

Graan en graankos

Verlede jaar, en ook in die eerste deel van vanjaar, het graan en graankospryse bly styg ondanks rekordhoë someroeste.

Makube sê die verswakkende rand, vrese oor die verlangsaming van die internasionale ekonomie, beurtkrag en stygende internasionale rentekoerse, het saamgewerk om inflasionêre druk op die stapelitems te plaas.

Olie en vette

Verlede jaar het die prys van olie en vette met byna 40% toegeneem, weens soortgelyke faktore as dié wat graan raak. Sedert die begin van vanjaar het sake begin verbeter weens verbeterde beskikbaarheid.

Die subindeks vir olie en vette was in Julie vir die derde agtereenvolgende maand in negatiewe gebied, sê Makube.

Nie alles slegte nuus

(Argieffoto: pixabay)

“Gelukkig, wanneer dit by die prys van ontbyt kom, is dit nie nét slegte nuus nie,” sê Makube.

“Inteendeel, daar is verskeie neigings wat daarop dui dat die pryse van hierdie – en ander stapelvoedselitems – gaan bestendig en in die komende maande selfs kan daal.”

Dit neem gewoonlik langer vir produksieneigings en graanpryse om na kleinhandelaars deur te syfer en verbruikers kan dus hoop op laer pryse vir meel, brood en graankos.

Goeie oeste gaan ook ʼn positiewe uitwerking hê en die internasionale prys van kunsmis en ander insetkoste het die afgelope ruk gaandeweg gedaal.

“Die besparings behoort aan verbruikers deurgegee te word,” sê Makube.

“As jy die meer positiewe uitkyk oor inflasie, beurtkrag en die wisselkoers hierby voeg, lyk dit waarskynlik dat die opwaartse druk op pryse wat die afgelope maande gekenmerk het, sal verminder.

“As al die faktore dus opgeweeg word en daar geen verdere ekonomiese skokke in die tweede helfte van die jaar is nie, is daar ʼn goeie kans dat jou Sondagoggend-ontbyt jou dié somer effens minder gaan kos.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Papsak ·

Dit is net SA wat sulke hoe pryse het op krag behuising kos petrol nie een ander land boelie hulle mense met sulke duur en hoe pryse nie hoekom doen regering dit met ons skande man

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.