‘Dit gaan nie goed’ met Thys die Bosveldklong

Thys die Bosveldklong kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Thys  Streicher, beter bekend as Die Bosveldklong, is tans in die hoësorgeenheid van ʼn staatshospitaal buite Pretoria en sy familie is baie bekommerd oor sy toestand.

“Dit gaan nie goed met Thys nie,” het Ian Bossert, Thys se vriend en kollega, gesê. Thys is Donderdag opgeneem met ʼn hoë koors en infeksietelling en volgens Bossert is hy met nierversaking en breinvliesontsteking gediagnoseer. Hy word in die Dr. George Mukgari-hospitaal net buite Pretoria behandel. Bossert sê die familie wil hom graag na ʼn groter hospitaal laat oorskuif waar hy gespesialiseerde hulp sal kan kry. Volgens sy ma, Elize, het Thys ʼn paar weke gelede ʼn beroerte gehad en het sy gesondheid sedertdien agteruitgegaan. “Ek is ʼn wrak aan hierdie kant. Vra asseblief vir die land hulle moet bid, bid, bid,” het sy aan Maroela Media gesê.

Die grapjas-sanger en radio-omroeper se gesondheid ry wipplank sedert hy in 2019 met veelvoudige sklerose (MS) gediagnoseer is.

Hy was vir ʼn ruk bedlêend weens die siekte en het in Februarie verlede jaar behandeling ontvang wat hom weer beweeglik gemaak het. In Oktober was hy weer gereed om die verhoog te betree.

Medelye van vriende en aanhangers het intussen op Facebook ingestroom, met talle mense wat vra vir gebed vir Thys en sy familie. Bossert sê ʼn aantal fondsinsamelings word op sosiale media van stapel gestuur. “Hoewel dit vir ons wonderlik is dat sy ondersteuners wil help, is dit vir ons uiters moeilik om te koördineer. Sy ma word oorval met oproepe en ons vra dat dié wat wil help asseblief eerder vir [Thys se mede-kunstenaar] LJ by 066 293 8428 kontak.”

Die publiek word ook gevra om asseblief sy privaatheid te respekteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koen ·

Sterkte Thys!. En as almal bid, bid bid. En Thys word beter, is dit ‘n wonderwerk en die gebede is verhoor. As hy sterf, is dit God se wil. Vir elke moontlike uitkoms ‘n antwoord so reg uit die kerk se handboek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.