Dít moet jy weet voor skoolplasings open

Argieffoto

Die Gautengse departement van onderwys se aanlyn aansoekstelsel het al vir talle hoofpyne gesorg.

Die departement sê egter vanjaar sy stelsel is getoets en in staat om tienduisende aansoeke op ’n slag te verwerk wanneer aanlyn inskrywings oor minder as 24 uur open.

Aanlyn inskrywings sal Vrydag amptelik open en op 19 Augustus om middernag sluit.

Ouers word versoek om namens hul kind in gr. 1 en gr. 8 by minstens drie Gautengse skole aansoek te doen. Aansoeke kan tot by ’n maksimum van vyf skole ingedien word.

Maroela Media het vroeër berig die stelsel sal vanjaar een aansoekproses volg. Aansoekers sal dus gelyktydig vir die toelating van gr. 1- en gr. 8-leerders aansoek kan doen.

Die departement het Donderdag die versekering gegee dat die aanlyn aansoekstelsel vanjaar tot 40 000 gebruikers op enige gegewe tydstip op een slag kan hanteer. Die stelsel is ook in staat om 120 000 aansoeke in een uur te voltooi.

Die departement van binnelandse sake het volgens Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, ook ’n toegewyde poortkanaal op die been gebring waar die stelsel se versoeke verwerk sal word.

Sy departement het egter benadruk dat alle plasings in ooreenstemming met die toelatingskriteria en skole se kapasiteit gedoen sal word. Leerders se woonadres sal eerste oorweeg word, dan betrokke sibbe se skool en dan waar die ouer werk, wanneer ’n leerder geplaas word. Die betrokke taal van onderrig word by elke skool aangedui.

So doen jy aansoek:

Aansoekers sal ’n rekening moet skep op www.gdeadmissions.gov.za om toegang tot die aanlyn toelatingstelsel te verkry.

Ouers sal dan een betroubare selfoonnommer moet verskaf aangesien die aansoekproses stapgewys via sms bevestig sal word vir sekerheids- en verifikasiedoeleindes. Alle kennisgewings rakende die aansoekproses sal ook na die betrokke selfoonnommer gestuur word.

Die volgende dokumente word benodig wanneer daar aansoek gedoen word:

  • ID of paspoort van ouer en kind
  • Suid-Afrikaanse geboortesertifikaat
  • Vlugtelingpermit
  • Asielsoekerpermit
  • Permanente verblyfpermit
  • Studiepermit
  • Bewys van woonadres
  • Bewys van werkadres
  • Jongste skoolrapport
  • Kliniekkaart/immunisasieverslag (slegs van toepassing op gr. 1)

Dié dokumente móét gesertifiseer wees en óf aanlyn opgelaai word óf fisiek by die betrokke skool ingehandig word. Geen dokumente sal aanvaar word nadat die aansoekproses gesluit het nie.

Aansoeke wat sonder die nodige dokumente ingedien word, sal as onvolledig beskou word en die leerders sal eers in Desember geplaas word in skole met beskikbare plek.

Ouers wat kinders in spesiale skole of in skoolkoshuise wil plaas, moet self met die betrokke skool reëlings tref, maar steeds aanlyn aansoek doen om plek in die skool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cecilia ·

Mis ek die ou dae wat mens skool toe gegaan het en jou kind ingeskryf het en sommer n gevoel gekry het van hoe die skool is, die voel nou weer net soon n geld maak storie vir n system wat tien teen een gaan crash soos als wat die ANC aan raak.

Nommer 7 ·

Wel, hulle gaan nie geld maak uit asiel soekers en vlugtelinge nie. Hierdie mense word vrygestel van skoolfonds.

Nico ·

Natuurlik mis ek die ou stelsejy was nie eers verplig om ‘n skooldrag te dra nie ‘n skoolbaadjie was genoeg, daar was nie al hierdie snert nie.

My siening ·

Hi is dit waaroor dit gaan ek dog te min skole is die probleem maar nou kyk hulle vir rekord breek.

Nico ·

Die groot probleem is dit die populasie het te vinnig gegroei nou weet die LUR nie wat om te doen nie, hy sit nou met ‘n probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.