Dit was broekskeur, Bokke!

Daar was vandag 51 762 toeskouers op Loftus Versfeld. Foto: GB Jordaan.

Toe Jacques Nienaber in die aanloop tot die eerste toets gesê het dat Wallis nie onderskat moet word nie, het hy waarskynlik nie in sy wildste drome gedink dat die besoekers ’n rustydvoorsprong van 18 – 3 sou geniet nie.

Nie teen Suid-Afrika nie. En veral nie op Loftus Versfeld nie; die veld waarop hulle so sleg in 1998 verloor het.

Maar danksy ’n goeie terugvegpoging in die tweede helfte, én ’n akkurate strafskop in die doodsnikke van die wedstryd deur Damian Willemse, het die Springbokke hul eerste toets van 2022 met 32 – 29 gewen.

Dit was egter gewis ’n broekskeur-affêre.

Wallis het sommer vanuit die staanspoor die Suid-Afrikaners onder druk geplaas; ’n swak lynstaanpoging het tot die eerste van Louis Rees-Zammit se twee drieë gelei.

En as jy ooit gewonder het hoe ’n mens amper 52 000 patriotiese ondersteuners stil speel, hoef jy net na die Bokke se vertoning in die eerste 40 minute te gekyk het.

Die tuisspan was verbeeldingloos op die aanval, terwyl Elton Jantjies waarskynlik sou gou as moontlik van hierdie wedstryd sal wil vergeet.

Die Springbok-losskakel het gesukkel om sy agterlyn aan die gang te kry, terwyl sy swak skopwerk ook nie vir enige telbord-momentum gesorg het nie.

Makazole Mapimpi en Louis Rees-Zammit in ’n luggeveg. Foto: GB Jordaan.

Daarteenoor het Wallis met hul verdediging beïndruk, terwyl hulle ook hul geleenthede in punte omskep het – dink net aan Rees-Zammit se tweede drie en Dan Biggar se suksesvolle skepskop.

Willie le Roux het egter vir Jantjies vervang terwyl spelers soos Elrigh Louw en Kwagga Smith ook vroeg in die tweede helfte hul verskyning op die veld gemaak het.

’n Paar vinnige drieë het gesorg dat die tuisspan binne trefafstand van Wallis gekom het. Terselfdertyd het die Rooi Drake se dissipline ook begin lol – ’n rits geel kaarte en ’n strafdrie was daaraan gekoppel.

Maar selfs met net 13 spelers op die veld het die besoekers ’n oorlas van hulself gemaak. Dewi Lake se drie het gesorg dat dinge weer gelyk is, maar Biggar se verbroude doelskop was die Springbokke se reddingsboei.

’n Kort rukkie later het Wallis nóg ’n strafskop afgestaan en Willemse het koelkop die wenskop oor die dwarslat gejaag.

Jasper Wiese. Foto: GB Jordaan.

Ja, die Springbokke het inderdaad lanklaas saamgespeel, maar hulle was darem wraggies baie meer verroes as byvoorbeeld die All Blacks.

Spelers soos Jasper Wiese en Cheslin Kolbe verdien egter ’n klop op die skouer vir hul klipharde spel, terwyl Willemse gewys het dat hy die druk van ’n internasionale wedstryd kan hanteer.

Het die Springbokke egter soos die wêreldkampioenspan gelyk? Glad nie.

’n Wen bly egter ’n wen.

  • Puntemakers:

Springbokke: Drieë: Strafdrie, Bongi Mbonambi, Malcolm Marx en Cheslin Kolbe. Doelskoppe: Damian Willemse (2). Strafskoppe: Elton Jantjies, Willemse.

Wallis: Drieë: Louis Rees-Zammit, Dewi Lake. Doelskop: Dan Biggar. Strafskoppe: Biggar (3). Skepskop: Biggar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Jantjes, the weakest link, bye.as hy weer moet vlieg, hy weet waarheen.

MakersMark ·

Was Wallis so goed of bokke so ellendig veral eerste helfte ?

Leon ·

Ten spyte van 4 geel kaarte, n strafdrie en die feit dat wallis op n sleg net met 12 spelers verloor hul met 2 punte nadat hul heel wedstryd voorgeloop het. En dit nogal teen die sg wereldkampioene. Ek ys vir die dag as hul teen NZ moet speel.

rietrot ·

Ek sal graag wil weet of daar ‘n aanvals- en of afweersplan by die Bokke was. Dit wil voorkom asof die Bokke planloos die wedstryd ingegaan het. In die 2de helfte was daar ‘n duidelike plan in die spel van die Bokke te bespeur. Bokke, oppas vir Bloemfontein!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.