‘Dit was moord’, sê familie

San-Joh du Preez (Foto: Verskaf)

Drie jaar lank wroeg die familie van San-Joh du Preez van die Oos-Rand al met talle onbeantwoorde vrae nadat haar liggaam opgehang aan ʼn balk in ʼn huis in Springs gevind is.

San-Joh (27) is op Vrydag 22 November 2019 dood in haar vriend se huis in Springs gevind en ’n saak van selfmoord word ondersoek. Die geregtelike doodsondersoek word tans in die landdroshof in Springs aangehoor om te bepaal of dit wel selfmoord was en of daar dalk vuilspel betrokke was.

Die familie voel sterk daaroor dat San-Joh nie haar eie lewe geneem het nie en dat iemand na aan haar dalk vir haar dood verantwoordelik is.

“My sussie het nie haar eie lewe geneem nie, dit maak net nie sin nie,” vertel haar suster, Angelique Hamer (43), in ’n onderhoud met Maroela Media.

“Ons hoop die waarheid kom in die hof uit.”

Selfgemaakte galgtou

Johan du Preez hou ‘n foto van San-Joh vas (Foto: Maroela Media)

San-Joh se pa, Johan du Preez (74), vertel hy het omstreeks 20:15 sit en televisie kyk toe San-Joh se vriend se pa hom bel en inlig San-Joh is dood.

Volgens Du Preez het San-Joh die aand saam met haar vriend na ’n musiekvertoning gaan kyk.

“San-Joh het die vriend in die week afgesê, maar ingestem om na die vertoning te gaan kyk omdat hy glo reeds vir die kaartjies betaal het,” sê Du Preez.

Du Preez, sy vrou, Susan, Hamer en haar broer, Jacques, is na San-Joh se vriend se huis waar hulle San-Joh dood aangetref het.

“Die paramedici het haar reeds dood verklaar toe ons daar aankom.”

“San-Joh het leweloos in die middel van die kamer op die teëls gelê. Bokant haar het ’n selfgemaakte galgtou vanuit die dak gehang – dik stukke tou wat met vissersmansknope geheg is. Sy was halfpad naak, ek het haar met ’n kombers bedek,” vertel Hamer.

“Daar was merke aan San-Joh se nek.”

San-Joh (regs), ma Susan en Angelique (links) (Foto: Verskaf)

Inligting wat in die nadoodse ondersoek uitgekom het, het die familie laat kopkrap.

“Iets het nie reg gevoel nie,” sê Du Preez.

“’n Paramedikus en polisielid op die toneel het aan my gesê ‘daar is ’n slang in die gras’.”

ʼn Private patoloog, wie se verslag by die hof ingedien is, bevraagteken ook die feit dat San-Joh haar eie lewe geneem het deur haarself op te hang.

Angelique Hamer (Foto: Maroela Media)

Die familie het sedert San-Joh se dood self ondersoek ingestel om antwoorde te kry. Hulle het selfs ’n private speurder genader om die legkaartstukke bymekaar te sit, maar niks wys geword nie.

Du Preez gebruik meeste van sy vrye tyd om inligting oor die saak in te win. “Ek dink elke oomblik van die dag aan die saak en geregtigheid wat vir San-Joh moet geskied,” sê hy.

Volgens Hamer wil die familie net die waarheid weet.

“Wat gaan ons eendag vir haar dogtertjie, San-Geleigh (6), sê? Hoe gaan my ma se hart tot ruste kom? Haar hart breek elke keer net as sy die foto’s van San-Joh in die huis te sien. My ouers sukkel, hulle het soveel ouer geword sedert San-Joh se dood.

“Dit voel heeltyd asof daar so groot gewig op jou skouers is.”

Sprankelende mode-ontwerper

Van San-Joh se ontwerpe (Foto: Verskaf)

San-Joh het mode- en grafiese ontwerp studeer aan ’n private instelling. Sy het die dag van haar dood gehoor dat sy haar eindeksamen geslaag het.

Sy het ook tweede gekom in ’n modeontwerp-kompetisie wat deur die bekende sepie 7de Laan aangebied is. Sy het ook as kelnerin gewerk.

Volgens Du Preez en Hamer het San-Joh ’n sprankelende en borrelende persoonlikheid gehad.

“Haar kakebeen het nooit stilgestaan nie en haar lag was aansteeklik,” vertel Du Preez.

“Sy het van alles ’n reënboog gemaak, selfs haar modeontwerpe,” sê Hamer.

Die geregtelike ondersoek gaan weer op 8 en 9 November in die landdroshof in Springs voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christine ·

Sy het haar vriend afgesê in daai week, maar vir oulaas daai aand saam uitgegaan en toe word sy dood aangetref? Is daai vriend se pa ondervra? Snaaks dat sy na al haar sukses met haar eksamen uitslae haarself in die vriend se huis gaan ophang nadat hulle teruggekom het van die musiek aand? Nee wat, die vriend en sy pa het iets daarmee te doen. Gaan krap maar verder vir antwoorde.

SjN ·

n saak het drie kante, jou kant, my kant en die regte kant, sleg vir haar geliefdes en sterkte, kom ons wag maar vir die finale uitslag.

Roek ·

Wat ‘n ongelooflike tragedie. ek sal dit nooit kan oorleef nie !

Sandra ·

Ek sal eerste na die vriend kyk, want sy het hom mos die vorige week afgese. Ek kan nie verstaan hoe hy nog nie ‘n verdagte is of onder arrestasie is nie.

Heleen ·

Hier kom nou weereens n uitgerekte Oscar tipe ondersoek! almal weet wie die skuldige is maar dit moet eers bewys word. Ons reg is nie meer reg nie, dis verdraai en beskerm die ooglopend skuldige, en die kriminele weet dit.
Glo my, as jy doodmaak sal dit jou ry tot die dag wat jy self jou eie tou se knope knoop!

Kayla ·

SJ – Ons verlang elke dag na jou. En die Here daar bo weet en sien alles! Hy slaap nie. Ons almal weet hoe lief jy was vir jou meisiekind. Jy sou nooit so iets gedoen het nie. Die pa en vriend het alles met dit te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.