‘Dit was my eie werkers,’ sê boer ná aanval

Bets en Andrew Olivier (Foto: Verskaf)

“Dit was my eie werkers.”

Dit was die eerste woorde wat Andrew Olivier (67) Dinsdag gesê het nadat hy en sy vrou, Bets (65), die vorige dag op hul plaas in Olifantshoek, Noord-Kaap, aangeval is. Andrew is die oggend in die veld gekry terwyl Bets se liggaam in die plaashuis aangetref is.

Volgens Bets se dogter, Elsabe Lategan, het haar stiefpa ná die aanval bevestig sy plaaswerkers was die vermeende aanvallers. Sy het aan Maroela Media gesê dat die egpaar se huishulp glo ook by die aanval betrokke was.

Volgens kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, soek die polisie twee mans en een vrou in verband met die aanval. Niemand is al in hegtenis geneem nie.

Lategan (49) van Lutzville, Wes-Kaap, vertel sy het Maandag al bekommerd geraak toe haar ma nie haar WhatsApp-boodskappe of oproepe antwoord nie.

“Ek en Mamma groet mekaar elke oggend en aand en stuur dan vir mekaar boodskappe deur die dag. Ek het Maandagoggend die laaste ‘goeiemore-boodskap’ van haar gekry,” vertel Lategan

“Ek het die oggend ʼn gevoel gekry dat iets nie pluis is nie. Ek en my man, Johan, het haar deur die loop van die dag en die volgende oggend probeer kontak, maar haar nie in die hande gekry nie.”

Lategan is Dinsdag in kennis gestel dat die buurman omstreeks 08:00 haar ma se liggaam in die plaashuis aangetref het.

“Volgens die buurman was my ma in ʼn inloopkas in die badkamer onder ʼn stuk plastiek neergelê. Hy sê haar lippe was potblou. Dit het gelyk asof die aanvallers brutaal met Mamma gewerk het.”

Volgens Kock was Bets se hande agter haar rug vasgemaak.

Die buurman vermoed Bets is buite by die wasgoeddraad oorval. “Die spore by die wasgoeddraad dui daarop dat daar ʼn struweling was.”

Die buurman het agtergekom Andrew en sy bakkie is weg en het die polisie, plaaslike sekuriteitsdienste en boere uit die omgewing ontbied. ʼn Soektog is van stapel gestuur, waaronder ʼn hommeltuig wat in die lug opgestuur is.

“Pa Andrew is so 09:00 beseer in die veld gevind. Hy het daarin geslaag om homself los te maak. Hy het toe nog nie geweet dat sy vrou dood is nie,” sê Lategan.

Die bakkie is kort daarna sowat 2 km van die plaas af gevind. Volgens Kock is die egpaar se selfone en ʼn vuurwapen uit die kluis gebuit.

Andrew is na die LenMed-hospitaal in Kathu geneem, waar hy nog dieselfde dag ontslaan is.

“Hy was erg getraumatiseerd toe hy van Mamma se dood hoor. Hy kon skaars praat.”

Lategan sê die familie is geskok dat die einste werkers waarmee haar ouers hul lewe vertrou het, hulle verraai het.

Saggeaard, gerespekteer

Bets, Elsabe en dié se dogter (Foto: Verskaf)

Lategan sal haar ma as ’n “saggeaarde, juweelvrou” onthou wat altyd ʼn stukkie wysheid gehad het om met ander te deel.

“Sy was ʼn uitmuntende vrou. ʼn Wonderlike kameraad, ma, suster en ouma. Sy was ’n voorbeeld van hoe ʼn vrou moet wees.”

Bets was ʼn bekende gesig in Olifantshoek en volgens Lategan gaan haar dood ʼn groot leemte in die gemeenskap los.

“Sy was goed met ʼn naald en gare en het klere vir dames gemaak. Die ander vrouens het opgekyk na haar.”

Bets en Andrew is 30 jaar gelede getroud en woon sedertdien op die plaas. “My ma was ook ʼn knap boervrou en het graag op die plaas gehelp.”

Sy vertel die vrees van ʼn plaasaanval het egter die laaste ruk by haar ma opgekom omdat die egpaar “ouer en kwesbaar raak”.

“Steeds was my ma se moord ʼn groot skok vir Olifantshoek, want dit gebeur nie gereeld in daardie klein Noord-Kaapse dorpie nie.”

Berusting, bewustheid

Lategan sê hoewel die familie hartgebroke oor haar ma se dood is, probeer hulle om berusting en vrede te vind.

Hulle hoop dat daar gou inhegtenisnemings sal wees “sodat geregtigheid kan seëvier”.

“Ons sal antwoorde kan kry sodra die aanvallers gevang word. Eers wanneer jy die waarheid kry, kan jy dit verwerk. Die waarheid maak mens vry.”

Lategan hoop haar ma se dood skep opnuut bewustheid onder die boeregemeenskap om hul sekuriteit op die plase op te skerp.

“Die boere is kwesbaar op hul plase en moet na hulself omsien.

Bets word oorleef deur Andrew, haar drie kinders, ses sibbe, kleinkinders en agterkleinkinders.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Frank John ·

Wat ‘n teleursteling, as jy jou werkers ordentlik behandel en hulle draai teen jou vir so min gewin.

Lillian ·

By meeste van die plaasaanvalle is die werkers betrokke want wie ken jou doen en late beter as hulle? Mag die gebroedsels hul dag kry.

Delia ·

So verskriklik jammer dat jou vrou so moes sterf en jy sonder haar moet leef.

Impartial ·

Wat n siek plek om jou tuiste te noem. My innige simpatie met die wat agterbly en die seer moet verwerk. Ons lewe regtig in aaklige omstandighede!

Adri ·

Ek verstaan nie die berig nie. Eers sê die boer dit was sy eie werkers, en dan sê dat nie een van hulle in sig was nie. Hoe ook al, dit bly ‘n aaklige storie en ek vertrou dat die skuldiges ordentlik gestraf sal word. Sterkte vir die familie. Ons leef voorwaar in gevaarlike tye.

Harley Davidson ·

Die boere moet hulle so posisioneer dat hulle begin om hulle eie werk te doen dit kan verskillende aspekte behels en die wapens wat in die kluis gestoor word is vir my ongelooflik in vandag se tye ,hoekom sal jy nie jou wapen vir selfbeskerming in die kluis toesluit?

Hannes ·

Baie hartseer, en vermetel dat ‘n mens se lewe ‘n selfoon en vuurwapen werd is.

FC ·

Boere, dis nou die tyd om blankes aan testel, daar is duisende wittes wat in sink huise bly wat wat sal gee om vir n plaasboer te WERK. Kom nou, beginn nuwe lewe vir mense wat alles verloor het, raak ontslae van moontlike bedreigings

Miena ·

Uitmuntende idee – Dog: sommige witmense is ook maar skuim van die aarde. MAAR – beslis die moeite werd om die opsie te oorweeg ne.

AH ·

Dit is inderdaad ‘n goeie idee, maar dit is nie te sê dat blankes noodwendig as plaaswerkers sal wil werk nie. My Man het eendag by ‘n blanke plakkerskamp na twee jong manne gaan soek om hom te help vir die dag. Hy sou elkeen R500 betaal vir die dag se arbeid. Hy kon niemand kry wat vir hom wou werk nie. Die mense wat hy genader het was sterk jong manne, maar hulle verkies om rond te sit en van aalmoese en bedel te lewe. My man was so geskok vir die houding en mentaliteit van mense wat kla oor werkloosheid, maar letterlik net wil sit en ontvang…..

Jack ·

Die mak honde wat een of ander tyd deur die kultuur wat deur die anc in die land gevestig is oorweldig word en soos brandsiek honde optree. Mense stel net witmense aan wat julle kan ondersoek en vergeet van ander mense. Julle sal langer lewe. Ons is te gewoon daaraan dat huis en plaashulp bruin of swart moet wees. Beweeg weg. Hier is baie wit manne wat werkloos is.

pompies ·

Jack dit is waar wat jy se en hier kom dit MAAR sal wittes vir die plaaswerker se salaris werk en sal hulle ook maar hulle self help aan die boer se eiendom nie. Ek dink nie dit gaan so goed werk nie en die boer gaan vir die gelag betaal.

Sharmane ·

Dan wonder mens hoekom soveel werkloos is. Maar jy kan niemand vertrou meer nie!

Marina ·

die probleem is, die werkers sal nooit die regte rede gee vir hoekom hulle dit gedoen het nie, ek wonder hof hulle self weet.

Frederik C ·

Hulle sal eersdaags gevang word as hulle UIF probeer eis. Is mos darem geregistreer.

Miena ·

Dink jy regtig hulle sal so ver gaan en UIF eis? Of SASSA dalk? Hulle is slimmer en uitgeslape as dit dink ek

Nico ·

Dit jammer dat die vrou op so’n wreedardige manier tot haar einde moes kom. Waar is die Kommandoes van ouds toe was daar nie sulke dinge nie, die SAPS en die weermag is glad dieselfde stofasie as die Kommandoe’s nie.

George ·

Dit is gewoonlik, en ek gaan seker nou lieg as ek se ten minste 90% van die tyd die werkers, of die werkers wat betrokke is, maak nie saak hoe goed hulle dit het nie.

Vinny ·

Ek het nie eens meer woorde oor vir hierdie gruwels nie, my hart bloei :-(

4ntj13 ·

My geboortewêreld. Ek is ten diepste geskok. Mag die skuldiges boet.
My hart breek vir die man wat sy wederhelfte op só ʼn wrede manier verloor het. Mag God vir jou berusting gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.