Dit was ‘skyfieflater’, sê Mkhize oor vlak 4

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Dit was ʼn skyfieflater. Dít was Woensdag dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, se verduideliking vir die verwarring oor of sommige streke wat as Covid-19-brandpunte beskou word, op vlak 4 van die afsonderingsregulasies gaan bly.

Die distrikte wat reeds as brandpunte geïdentifiseer is, is Tshwane, Kaapstad, Johannesburg, Ekurhuleni, Ethekwini, Nelson Mandelabaai en Buffalo City. Ander gebiede is die Weskus-, Overberg- en Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap, die Chris Hani-distrik in die Oos-Kaap en die iLembe-distrik in KwaZulu-Natal. ʼn Brandpunt is ʼn gebied met meer as vyf infeksies per 100 000 mense, of ʼn streek waar die virus vinnig versprei.

Mkhize het Dinsdagoggend in ʼn skriftelike voorlegging tydens ʼn aanlynvergadering van die Nasionale Raad van Provinsies aangedui dat vlak 4-inperkings sal bly geld vir gebiede wat as knelpunte beskou word.

Dit het groot verwarring veroorsaak nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het die hele land skuif na vlak 3.

Woensdag het Mkhize in ʼn verklaring egter verduidelik dat ʼn “ou skyfie” gebruik is om aan te dui dat die gebiede wat knelpunte is, op vlak 4 sal bly. “Die skyfie is oud en is per abuis gebruik in ʼn voorlegging wat intussen bygewerk is,” het Mkhize gesê.

Volgens die minister was die skyfie aanvanklik deel van ʼn voorlegging wat die departement van gesondheid aan die nasionale koronavirus-bevelsraad gedoen het.

“Ons bevestig dat die hele land op 1 Junie na inperkingsvlak 3 skuif,” het hy gesê.

Mkhize sê die regering het reeds stappe gedoen om in te gryp in gebiede wat as brandpunte beskou word en spesialiste gaan daar ontplooi word om die verspreiding van die nuwe virussiekte te stuit. Daar gaan ook groter pogings wees om die kontakte van mense wat positief toets op te spoor, sodat diegene wat kan in selfisolasie kan gaan en diegene wat nié kan nie, in staatsfasiliteite gehuisves kan word.

In sommige gebiede was daar reeds trosuitbrekings wanneer mense in ʼn spesifieke gebied aan dieselfde aktiwiteit deelneem. Dit sluit in by fabrieke, kruidenierswinkels en op plase, het die minister gesê.

“Trosuitbrekings vererger die pandemie omdat dit versprei word in ʼn groep, waarna die virus huis toe geneem word en gemeenskapsuitbrekings veroorsaak,” het Mkhize gesê.

Volgens Mkhize beteken dit wanneer die hele land na vlak 3 skuif, daar ʼn deurlopende assessering van elke gebied en die infeksiekoers daar gedoen moet word sodat maatreëls en beperkings oorweeg kan word. “As die verspreiding van die infeksie ten spyte van die maatreëls nie gestuit kan word nie, sal die regering besluit of daardie gebied na vlak 4 of vlak 5 moet terugkeer. Dit sal vinnig gedoen word om die verspreiding te verminder en ook om te verseker dat hospitale nie deur ʼn skielike styging in gevalle oorweldig word nie.”

Mkhize het Suid-Afrikaners weer gevra om ʼn afstand van 1 m van mekaar te handhaaf, hande te was, ʼn gesigsmasker te dra, onnodige aanraking met die gesig te verminder en alle oppervlakke te ontsmet.

Ramaphosa het Dinsdagaand aangekondig kerkdienste gaan op vlak 3 toegelaat word, hoewel streng voorwaardes sal geld. Geloofsbyeenkomste was tot dusver ook een van die plekke van waar die virus vinnig versprei het.

“Ons wil ook benadruk dat dit belangrik bly vir diegene wat tuis kan werk, om dit steeds te doen. Ons vra werkgewers ook om die nuwe kultuur te bevorder en moontlik te maak.

“Diegene wat steeds werk toe moet gaan moet dié nuwe leefstyl wat hulle, hul gesinne en kollegas sal beskerm, aanvaar.”

Die nasionale koronavirus-bevelsraad en die regering se maatskaplike groepering sou die land Woensdag op die hoogte van die jongste verwikkelinge rondom vlak 3 bring, maar die mediakonferensie daaroor is vir ʼn tweede keer sonder verduideliking uitgestel.

Geen nuwe datum of tyd is tot dusver daarvoor bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

JohanR ·

Wow….wat se hoop is daar as Cyril Ramaphosa nie weet wat Nkosazana Dlamini-Zuma doen nie, wat weer nie weet wat Zweli Mkhize doen nie, wat weer nie weet wat Ebrahim Patel doen nie, wat weer nie weet wat Bheki Cele doen nie, wat weer nie weet wat Lindiwe Zulu doen nie, en soe voorts en soe voorts en soe voorts. Sit hulle almal in een kamer waaneer hulle Cyril te verskyning op tv bespreek, en wat hy gaan se? Dit is soos ‘n klomp afkop plaas hoenders wat vir ‘n wyle nog rond hardloop, tot die klein brein wat nie meer daar is nie vir die senuwees na die voete se om ophou te hardloop. Dan se die hoender……KAPLAKS!

Hitler ·

Dis verskriklik vrustrerend, ne? Ek betaal R800k persoonlikke belasting per jaar vir die Gemors maar moet geld leen om my kinders se studies te betaal

Martie Smartie ·

He he he ha ha ha die hele regering is ‘n flater …

Kobus2 ·

Red ‘n volk!!!!!!!! Ek sal like om te weet wat rook hý!!!!!!?

Venter ·

Dit is om nasie te toets maar toe raak alles warm van alle kante

Nie Verbaas ·

Nee, reuse, soos gewoonlik, ANC flater. African National Circus

Willem ·

Skyfieflater ha ha waarom stel jy dit nie reg terwyl jy praat nie. Lieg net

Oomniklaassevriend ·

Misverstande, flaters, verwarring, vertragings! En dit beskryf die regering se hantering van Covid -19 in SA

Willie ·

Dit is of die faksies binne die ANC wat selfs na die aanbieding nog met mekaar baklei of arrogansie om nie na al die “slides” te kyk voordat dit aangebied word nie.

koos10 ·

Word CR met nog ‘n leuen betrap. Sy woorde 3 weke terug was dat die land VOOR einde Mei d.w.s 31 Mei na vlak 3 sou gaan.
En Zweli Mkhize se departement copy en paste dan nou net, dis die enigste rede hoekom ‘n ou skyfie gebruik was.
Dis nou ‘n presiese weergawe van hulle erns oor hulle “werk”. As ek so ‘n groot fout maak by my werk is ek so waar afgedank.
Of CR het met grooter albasters gespeel en gewen??

koos10 ·

En onthou net, die vlak 3 is nog nie bekend nie en word bitter vinnig deur kopdoek verander, ongeag wat CR gesê het.

Harold ·

Skiet my maar,al is ook teen die lot,kan ek net sê dankie Vader ons wat nou al 2 maande nie inkomste het nie ,weer kan begin werk,al ons in die Kaap op “geleende” tyd !

Robert ·

Ons sal nie skiet nie, inteendeel die hele lock down was onnodig.

Jacobus ·

Dink daar is ‘n hele paar skyfies deurmekaar in daai bevelsraad. Probleem is dat oneerlike finansieële belang ten alle koste beskrrm moet word. Kaders moet uit die tronk gehou word. Miskien moet die Superstad in ‘n tronk omskep word Patetiese Patel kan oranje pakke vir almal voorskryf. Noem dit sommer Nkandla2.

Anel ·

Die spul is so feurmekaar soos ‘n verkleurmannetjie op’ ‘n smarieboksie. Sal maar nie die ander een sê nie. Die een weet nie wst die ander sê of dien nie. Hoe wil hulle hê moet die res van ons weet? Daar is net een oplossing. Lig die grendel geheel en al. Die wat siek word moet maar. Ons kan almal na ons self kyk. Beter as die spul wat nog net moet oval en begrawe word.

marius ·

Skyfie fout ? Dan is daar diegene wat wil gillerig raak omrede daar kritiek uitgespreek word jeens blatante flaters dag na dag en hulle word betaal daarvoor ? Die land se mense is moeg vir die gespoggery oor die konings kleed terwyl daar nie ‘n draad klere is nie !

Helien ·

Ek wonder hoe moet ons die Regering en sy mense moet glo en vertrou.. Alles is so deur mekaar nooit gedink dat dit ooit so in ons pragtige land sou gebeur nie. Die een hand weet nie wat die ander hand doen nie

Agtogwatnog ·

Nie flater nie, uitgewys en as onaanvaarbaar bestempel. Dit was (is) deel van hul beplanning om Weskaap op vlak 4 te hou.

Scalla ·

Weereens n bewys dat Prof Gray 100% korrek was met haar uitlatings !!

Andries ·

As dit ni n kluitjie is ni dan weet ek ni…
Drs. Zuma en Nkize is sekerlik vertroud met ontrekking simptome. Daarom hou rokers aan met rook en drinkers aan met drink – ten duurste en onwettig.

Erens moet di skuld wat di Staat aangegaan het, terug betaal word. N gulde geleentheid met aksyns, gaan steeds verlore…

Johanncb ·

Ai tog! Die gebrek aan kommunikasie op regeringsvlak is régtig kommerwekkend!

KB ·

Hulle moet nou begin besluit wat sosiale afstand is:
a. 1 meter (volgens Mkhize),
b. 1.5 meter (volgens Ramaphosa), of
c. 2 meter (soos in die winkels gebruik word)!
Elke kabinetslid is ‘n hoenderhaan op sy eie mishoop.

Magda ·

Tshwane – hoekom Tshwane – Dis Johannesburg , en JHB is nie in Tshwane nie – watter area van Tshwane ASB – of is ek verkeerd – JHB is deel van Gauteng – kan iemand my asb reg help as ek verkeerd is.

Heksie ·

Dit is dood eenvoudig net goeie praktyd om seker te maak voor jy praat dat al jou feite en “skyfies” korrek is. Voorlegging 101.

Willem ·

Hoop Prof Van den Heever vat die nikswerd min van gesondheid aan oor sy stelling dat dit n mite is dat die Wes Kaap beter toets vir corona

Baardman ·

In elk geval belaglik, die Overberg is n enorme area wat vele dorpe en munisipale gebiede insluit en waar die bevolking wyd verspreid is, nou is ons n brandpunt met 89 infeksies wat aangeteken is.

Willem ·

Ja Baardman ek woon in een van daai dorpies en dis onmoontlik om skielik n brandpunt te wees. Ons het nie eens n geval nie.

Hitler ·

Baie goeie herhalende weerspieeling van die res.
Verskriklik frustrerend om die goed aanhoudend te sien en te weet jy moet belasting betaal vir die tipe en wat nog groter skade aan die hele land bly veroorsaak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.