Dodelike Bank of Lisbon-brand kon verhoed gewees het – verslag

Die Bank of Lisbon-gebou het in 2018 aan die brand geraak. (Foto: Twitter via @CoJPublicSafety)

Die ondersoek na die dodelike Bank of Lisbon-brand in 2018 het aan die lig gebring dat dit verhoed kon gewees het as provinsiale staatsdepartemente aan veiligheidswetgewing gehoor gegee het wat doeltreffende brandvoorkoming verseker.

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het vandeesweek die verslag oor die verskeie ondersoeke by die provinsiale wetgewer ingedien en bekend gemaak.

Die Bank of Lisbon-gebou in Johannesburg het meer as vyf jaar gelede aan die brand geraak. Die brand het eindelik die lewe van drie brandbestryders geëis.

Die Gautengse departement van gesondheid, asook die departement van menslike nedersettings, samewerkende regering en tradisionele sake, se kantore was in dié gebou.

Die departement van arbeid het ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur en die bevindinge aan Lesufi oorhandig. ʼn Forensiese verslag is ook deur TFS Africa Forensics saamgestel, in samewerking met die Johannesburgse nooddiens, en die prokureursfirma Harris Nupen Molebatsi het ʼn regsmening oor die bevindinge gegee.

Volgens Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het die verslag die twee departementele kantore daarvan beskuldig dat hulle die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid oortree het deurdat hulle nie die risiko-evaluering gedoen het wat “die brandrisiko as lewensgevaarlik sou bestempel het nie”. Indien die risiko-evaluering gedoen was, sou dit “remedies aanbeveel het vir die veiligheid van [die departemente se] werknemers”.

Daar is bevind dat die brand in die kantoor van adv. Mpelegeng Lebeloane, hoofdirekteur van regsdienste vir Gauteng se departement van gesondheid, ontstaan ​​het – moontlik van ʼn verwarmer wat naby vlambare materiale gestaan het.

Volgens die brandweer kon die brand geblus gewees het as ʼn outomatiese brandonderdrukkingstelsel geïnstalleer was. Nog ʼn probleem was brandslange wat nie gewerk het nie.

Harris Nupen Molebatsi-prokureurs het van gevalle van wangedrag melding gemaak en gesê dit kan tot dissiplinêre stappe teen sekere individue lei.

“Die prokureurs sê daar kan ʼn prima facie‑nalatigheidsaak teen Lebeloane wees omdat sy versuim het om die nodige sorg aan die dag te lê deur ʼn verwarmer in haar kantoor naby vlambare materiale aan te los,” sê Bloom.

“Daar is egter teenstrydighede oor die oorsprong van die brand in haar kantoor.”

Bloom sê dit is onaanvaarbaar dat “ondanks ondersoeke wat lank gelede afgehandel is, die provinsiale regering geen poging aangewend het om nalatige personeel te dissiplineer nie”.

“Die DA doen ʼn beroep op owerhede om dissiplinêre stappe in hierdie aangeleentheid te doen, asook teen diegene wat versuim het om te voldoen aan beroepsveiligheidswetgewing wat hierdie verwoestende brand kon voorkom het,” sê hy.

Sonder die polisie se volledige ondersoek oor die voorval is daar egter min verwagting dat daar gou stappe teen die skuldiges gedoen gaan word.

Volgens Lesufi is die bekendmaking van die verslae vertraag omdat die departement van arbeid se ondersoek laat afgehandel is, en die polisieondersoek hangende is.

“Omdat dit ʼn strafsaak is, word daar op die polisie se bevindinge gewag omdat die ondersoek nog aan die gang is,” sê hy.

Bloom sê die ondersoeke moes egter lank reeds afgehandel gewees het.

“Dit is skandelik dat dit so lank vat, want die families van die oorledenes eis aanspreeklikheid en geregtigheid.”

Volgens Lesufi is die departement van gesondheid en die departement van menslike nedersettings, samewerkende regering en tradisionele sake wel besig om die verslae na te gaan sodat regstellende stappe gedoen kan word.

“Die plaaslike munisipaliteit het ook die verslag ontvang om vas te stel watter leemtes in die stad aandag moet kry,” sê hy.

“Om te waarborg dat elke fasiliteit aan die nodige veiligheidswetgewing voldoen, verwerk die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling, wat toesig hou oor alle staatsgeboue in die provinsie, ook die verslag se bevindings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokerboom ·

Ja die ANC kon ook verhoed gewees het!
Die regime voel ‘n veer!

Amelia ·

Sekeres kry altyd koud met jase verwarmers komberse maar steeds kry hul koud

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.