‘Dodelike’ R30 binnekort reggemaak

Die berugte R30-pad (Foto: Vrystaatse regering)

Die berugte stuk pad op die R30 buite Allanridge in die rigting van Bothaville in die Vrystaat, gaan uiteindelik reggemaak word.

Die stuk pad, wat ’n verlegging oor ’n waterpan is en al verskeie lewens geëis het, sal na verwagting teen volgende jaar Maart reeds herstel wees.

Jessica Nel, DA-raadslid in die Matjhabeng‑ plaaslike munisipaliteit, sê ’n tender van meer as R22 miljoen is aan die maatskappy Matela Civil and Construction toegeken om die pad te herstel. Dié maatskappy het ’n staande rekord by die departement van polisie, paaie en vervoer.

Die lewensgevaarlike pad het al verskeie lewens geëis, onder meer ’n gesin in Maart vanjaar. Lutsha Mbato (33), sy vrou, Thabisa Sikhumba-Mbato (34), en hul twee dogtertjies, Bungcwalisa Mbato (4) en Likamva Mbato (2), was van die Oos-Kaap na Orkney onderweg toe die bestuurder glo beheer verloor en hul voertuig in die waterpan beland het.

Die stuk pad het in daardie stadium reeds die lewens van minstens 15 mense sedert die begin van die jaar geëis.

Die waterpan het begin Februarie na swaar reën oor die pad gestoot. Die padoppervlak is met klippe en grond verhoog. Sedertdien het talle voertuie in die waterpan beland en het baie van die slagoffers verdrink.

Die tegniese en indiensnemingsaspekte van die projek is onlangs tydens ’n inligtingsessie met gemeenskapslede bespreek en word deur verskeie partye verwelkom.

Luidens die gesprekke sal die kontrakteur eers ’n verkeershulpplan indien om motoriste se veiligheid oor die vakansietyd te verseker. Dié plan behels die ontplooiing van padwerkers 24 uur per dag vir sewe dae per week by strategiese punte om die verkeer te reguleer voordat bouwerk kan begin.

Moontlike ompaaie moet geëvalueer word terwyl die R30-pad vir konstruksie gesluit sal wees.

Die bouwerk sal behels die lig en teer van die pad, die bou van ’n stapelriool, die installering van stormwaterpype, die herstel van padmerke en -borde en die installering van padstutte en ‑relings.

“Die tydelike werkskepping en ekonomiese verligting sal ook ’n broodnodige finansiële inspuiting vir ’n baie verarmde gemeenskap wees,” sê Nel.

Die DA is egter van plan om die projek noukeurig te monitor om te verseker dat die tydsraamwerk, kwaliteit, werksgeleenthede en finansiële verpligtinge billik en in ooreenstemming met die tenderkontrak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kokerboom ·

R10 mil vir pad en 12 mil wins.Moenie vroegtydig ‘n kommissie van ondersoek vergeet!

Piet 6 ·

Ons sal maar sien of die pad Maart sal klaar wees. As dit so gaan soos met baie ander paaie in die Vrystaat sal die werk net halfpad gedoen wees en dan is die geld op.

Anel ·

Nou wanneer begin hulle? Gaan seker nou eers vakansie hou. Volgende jaar besluit hulle die kwotasie is te laag en dat dit meer gaan kos. En om ‘n staande rekord by die polisie te hê, beteken niks goed nie. Kan hulle nie vertrou nie. Ek glo ook nie dat die pad teen Maart voltooi sal wees nie. Soos alles in die land. Voirbeekd: in ons omgewing lek ‘n pyp. Na vele raporteerings en maand later word dit hersel. Gat in pad word agter gelaat. Geen waarskuwings. Weer na vele raporteerings en 6 maande later word 2 geel versperings aan gebring. Nog steeds gevaarlik. Maand later daag 10 mense op en gooi gat toe. En sit weer 2 versperrings. Maar nog nie weer geteer nie. Dis reën seisoen. Die grond gaan weg was en weer gat vorm. So, seker volgende jaar hierdie sal dit dalk geteer word. Hoop maar hierdie projek in Vrystaat word behoorlik, betyds en nie ten koste voltooi. Maar ek glo swaar!

Koos 100 ·

Daai is niks. Hier in Pretoria bars ‘n pyp onder ‘n kruising. Die stadraad begin grou. Seker 3 maande later het Pretoria ons eie Kimberley se gat. 2 jaar later nog geen aksie nie, wag seker om toeriste te lok, wat nie gebeur nie. Vat nog 6 maande om gat op te vul en tans is hulle 7 weke besig om gelyk te maak, maar nog geen teken van teer nie!

Delia ·

Staande rekord? Het julle gekyk na die kwaliteit van werk en hoe lank daai paaie gehou het.
Werkskepping? Weet die gemeenskap hoe om paaie te bou?

domheks ·

Smeer weer die heuningkwas gewilliglik. Ons is nie DOM nie!@!!

Andries ·

Eers klaar hoeveel lewens geeis nou word daar werk aan gedoen.
Tipies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.